18 Julie 2018


Boodskap vir die week

Teks: Verskeie

Boodskap: Matteus 6:21 sê vir ons duidelik dat waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. My vraag aan jou vandag is: “Waar is jou skat?” Het jy al daaraan gedink dat daar waar jou skat is, dit so groot invloed op jou het, dat dit jou denke , besluite en dade beïnvloed. Dis baie keer die bron van jou passie.

God het vir ons emosies gegee en daarom kan ons passievol optree. Het jy die afgelope tyd se sport op TV gekyk? Jy sou talle spelers en ondersteuners sien wat passievol speel en ondersteun. Tog wil God dat ek en jy ons passie na Hom toe kanaliseer. Dit is immers wat Hy voorgestel het toe die Fariseër vir hom vra wat die belangrikste gebod is (Matt. 22:37-40).

Romeine 12:11 spoor ons ook aan om elke dag passievol en met geesdrif te leef. “Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here” (wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here). Die woord vir geesdriftig beteken in die Grieks dat ons oorkook van binne. Jy moet aan die brand wees vir Jesus.

Titus 2:14 sê: “Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reinig, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen.” Toe God sy beste gegee het, het Jesus ook Sy alles gegee en daarom moet ons Hom passievol dien.

In Openbaring 3:15-16 sê Jesus dat indien ons lou is sal Hy ons uit sy mond uitspoeg. Hy gee Sy beste daarom vra Hy van jou ook niks minder as jou beste nie. As jy Maleagi 1:7-9 en Amos 5:21-23 lees kom jy vinnig agter hoe ernstig God oor die saak van opregte aanbidding is. Hy wil nie jou “leftovers” hê nie. Hy wil jou beste hê.

Gee jy tans jou beste vir Hom? Indien nie, wat is jou rede? Jy verwag immers die beste van God af?

Maak vandag tyd en klaar die saak met God uit. Neem weer ‘n besluit om deur die werking van die Heilige Gees Hom passievol te dien. Laat toe dat Hy die bron van jou skat is.

Gebed: Here vergewe my vir die kere wat ek U nie passievol dien nie, die kere waar U tevrede moet wees met die krummels van my lewe. Ek wil U passievol dien. Help my asseblief. Amen




Let asseblief daarop dat die Funksie vir Seniors wat hierdie Sondag sou plaasvind, uitgestel is na die 12e Augustus. Meer inligting hierooor in ons volgende Midweek.

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.