Bedieninge binne Nelspruit-Suid
Gebedbediening (Jan Niewoudt – 082 903 5153)
Baie mense het gebed nodig en dit is presies waarvoor hierdie bediening daar is. Daar is ook ‘n gebedsketting sodat daar vir dringende sake gebid kan word. Jy kan dus betrokke raak deur deel te word van die gebedspan in die oggend voor die erediens of om deel te word van die whatsapp gebedsketting. Kontak gerus vir Jan om hierby betrokke te raak .
Diensverhoudinge Bediening (Danie Swanepoel – 082 322 1962)
Binne die bediening word daar omgesien na alle administratiewe en personeel sake binne die gemeente. Indien dit jou gawe en passie is, is hierdie beslis ‘n plek waar jy dit kan uitleef en op ‘n unieke manier ‘n verskil binne die Koninkryk van God kan maak. Skakel vir Danie vir enige navrae.
Finansies Bediening (Mike Botha – 082 924 4878)
Binne hierdie bediening word alle finansiële sake rakende die gemeente hanteer. Indien jy finansiële agtergrond het is hierdie beslis die bediening vir jou. Hier kan jy waardevolle insette lewer in die Koninkryk met die gawes wat Hy aan jou gegee het. Skakel vir Mike om deel te word van hierdie span.
Eiendomme Bediening (Hugo Ferreira – 083 468 2051)
Binne hierdie bediening word omgesien na al die eiendomme van die kerk, dit sluit in die kerkgebou en tuine. Instandhoudingswerk, verhuring en uitbreidingswerk val binne die terrein van hierdie bediening. Hierdie bediening benodig beslis prakties georiënteerde mense. Kom leef jou kundigheid uit binne hierdie bediening. Hulle het jou nodig. Skakel vir Hugo sommer vandag nog.
Uitreike Bediening (Liesl Zietsman – 084 556 2754)
Uitreik na buite is beslis een van die groot Bybelse opdragte. Uitreike bediening stel hom ten doel om die gemeente se “hande en voete” na buite te wees. Daar word deur die jaar verskeie projekte geloods waarby lidmate betrokke kan wees. Hierdie bediening stel hom ten doel om ‘n verskil na buite te maak. Hulle wil ligdraers na buite wees. Hierdie bediening is die kanaal waardeur jy ‘n verskil kan maak. Projekte deur die loop van die jaar is die Belfast kinderhuis, Ouetehuis op Waterval Boven ens. Deur deel te word van die bediening kan jy ‘n sleutelrol speel in die gemeente se uitleef van die groot missionale opdrag in die Bybel. Skakel gerus vir Liesl om betrokke te raak of as jy spesifieke voorstelle het.
Mosaiek Bediening (Nico Claassens – 082 928 9291)
Die doel van hierdie bediening is om die omgee-been van die gemeente na binne te laat funksioneer. Om Jesus-liefde na mekaar uit te leef en ook net daar te wees vir mekaar. Binne hierdie bediening is daar verskillende fasette waarby jy betrokke kan raak soos: Hospitaalbediening, Kos en Klerekas, DivorceCare, GriefShare en Pastorale sorg aan lidmate. Word deel van die bediening en help om om te gee na ons eie lidmate. Skakel vir Nico en help om ‘n verskil te maak.
Senior Lidmate Bediening (Susan van Huyssteen – 084 964 2847)
Indien senior lidmate jou na aan die hart is dan sal jy jouself kan uitleef binne die bediening. Die bediening bedien senior lidmate in die gemeente deur o.a. spesiale kuier geleenthede vir hulle te reël op ‘n Sondag na kerk, daar word heerlik saam gekuier en geëet. Op Dinsdae is daar ‘n byeenkoms vir seniors waar hulle ook heerlik kan kuier. Daar is ook geleenthede soos die jaarlikse Kersete. Skakel vir Susan om op hierdie terrein ‘n verskil te maak.
Gemeente Bediening (Hennie van Zyl – 083 300 1324)
Die Gemeentebediening het ten doel om diensbaarheid uit te leef deur geleenthede daar te stel om betrokke te raak by die bediening van ander, hulle welkom te laat voel en gasvryheid te vestig. Die bediening wil vir jou ‘n identiteit bied van “ek behoort” om binne die gemeente betrokke te wees en om geestelik te groei. ‘n Bediening wat poog om gasvryheid en liefde uit te straal. Funksies van die bediening sluit die volgende in: Opneem van kollektes, voorbereiding, bediening en opruim van Nagmaal, nuwe intrekkers verwelkoming, verwelkoming van gemeentelede en besoekers by deure, voorbereiding en skink van tee/koffie na eredienste, plasing van blomme vir eredienste, gemeentekamp / gesinskamp, sitplek aanwysing, hulp aan bejaardes / siekes na en van kerkgebou, seker te maak almal kan sien, hoor en sit, gemeentelede betrokke en diensbaar te kry, gasvry te wees en gasvryheid te vestig, liefde te leef en “ek behoort” gevoel te skep. Kontak Hennie om by hierdie bediening betrokke te raak.
Kleingroepe Bediening (Johan Grobler – 082 411 7132)
Kleingroepe (Omgeegroepe) is vir ons gemeente belangrik en ons droom van die dag wanneer almal iewers by ‘n kleingroep inskakel. Dit is die plek waar jy ander lidmate beter leer ken en waar jy werklik God se liefde in aksie kan beleef. Dit is die plek waar jy naby verhoudings bou en aan mekaar se laste help dra. Dis ‘n plek waar jy veilig kan voel om met ander die soet en die suur van jou lewe te deel. Word vandag deel van ‘n kleingroep en ervaar gemeente wees en geestelike groei op ‘n heel ander vlak. Dis waar jy hartsvriende ontdek. Daar is verskeie kleingroepe waarby jy kan inskakel. Word vandag nog deel van ‘n groep of besluit sommer om jou eie groep te begin. Skakel vir Johan sodat jy nie uitmis op ‘n wonderlike geestelike reis nie.
Junior Jeugbediening (Anja Swanepoel – 083 454 8449)
Hier word gefokus op Kleuterkerk (Sondae 08:30-09:30 in die Lapa) en Kinderkerk (Sondae 08:30-10:15 in die saal). Ons het altyd ‘n klomp vrywillige ouers nodig wat bereid is om te help met ons kleingroepe tydens kleuter en kinderkerk. Binne die bediening word ook beplan aan Junior Juventas (Donderdae aande se jeugbyeenkoms) en kampe asook kategese uitstappies. Hierdie bediening het altyd ‘n groot span mense nodig. Skakel sommer dadelik vir Anja en maak ‘n verskil in ‘n kind se lewe.
Senior Jeugbediening (Lisa van der Merwe 073 884 8060)
Beslis een van die groot bedieninge in die gemeente. Met afdelings soos: Bybelskool, Kategese, kampe, uitreike, jeugdienste, uitstappies ens. Ons sal graag meer ouers en jong volwassenes betrokke wil kry by die bediening. Skakel vir Lisa en maak ‘n verskil in ‘n tiener se lewe.
Jong werkendes (Jason van der Merwe – 079 895 8334)
Een van ons nuwe, vinnig groeiende bedieninge. Ons is baie opgewonde oor die bediening en die verskil wat dit onder jong werkendes doen. Word sommer vandag nog deel van die groep deur vir Jason te skakel. Hulle kom weeksaande bymekaar en doen verskeie aktiwiteite saam.