Boodskap vir die week
Teks: 1 Samuel 2:11-26; 29-31; 3:13; 3:19-21
Ons as mense word nie in isolasie van ander mense groot nie. Ander mense het ‘n groot invloed op ons lewens. Veral wanneer ons klein is, het die mense die naaste aan ons die grootste invloed op ons lewens. Vir klein kinders is dit gewoonlik hulle ouers wat die grootste invloed het. Wanneer kinders bietjie groter word begin die boeties en sussies en oumas en oupas ‘n groter rol speel. Wanneer kinders laerskool toe gaan dan begin onderwysers ‘n rol speel. Op hoërskool speel vriende en sosiale media gewoonlik die grootste rol in jongmense se lewens.
Vir ons as volwassenes is daar ‘n nog groter verskeidenheid van stemme wat ‘n rol in ons lewens speel. Vriende, familie, kollegas, media, boeke, politici en so sal ons kan aangaan. En wanneer mens aftree dan begin die kleinkinders weer ‘n invloed uitoefen op oupa en ouma.
So reg deur ons lewe speel ander mense ‘n rol in ons menswees. Ander mense beïnvloed hoe ons denke gevorm word, asook wie en wat ons as belangrik ag en wat nie. Die waardes en normes waarvolgens ons leef word ook deur belangrike persone in ons lewens beïnvloed.
Dit is dan ook so dat dit nie net ander is wat ‘n rol in ons lewens speel nie, maar ook elkeen van ons het ‘n invloed wat ons op ander mense uitoefen. Sommige mense se posisie in die samelewing maak dalk dat hulle meer mense beïnvloed as ‘n ander, maar almal van ons beïnvloed die lewens van diegene wat ons lewenspad kruis.
In die verhaal waarvan ons lees in 1 Samuel, vind ons verskeie kante van hoe mense mekaar beïnvloed. Eli het ‘n wonderlike, positief geestelike effek op ‘n jong Samuel se lewe. Onder Eli se leiding en sorg groei hy op tot ‘n man van God. Samuel lees ons het ‘n baie positiewe invloed op die volk en almal wat sy pad kruis. Aan die anderkant is daar Eli se eie twee seuns, Hofni en Pinehas. Hulle volg glad nie hulle pa Eli se goeie voorbeeld nie en word die oorsaak dat die volk van God afvallig raak. God spreek deur ‘n profeet en bevestig deur Samuel, dat Eli se nageslag gestraf gaan word weens die sonde van Hofni en Pinehas. Hulle sonde beïnvloed dus nie net die volk en hulle self negatief nie, maar ook hulle kinders en die se kinders.
Net soos God van Eli rekenskap ge-eis het omrede hy nie streng genoeg teen sy kinders opgetree het nie, gaan God ook van elkeen van ons rekenskap eis van die invloed wat ons op ander mense uitgeoefen het. So gaan God ook van ons rekenskap vra oor of ons ons beste gedoen het om ons kinders en almal wat ons pad kruis, positief te beïnvloed.
Ons as volwassenes het ook ‘n keuse oor wie en wat alles ons gaan toe laat om ons lewens te beïnvloed. Ons kan nie altyd al die negatiewe invloede heeltemal uit ons lewens uit sny nie, maar ons kan leer om dit te bestuur en die invloed op ons, tot die minimum te beperk.
Gebed: Here, help my dat ek so sal leef dat ek ‘n positiewe invloed sal uitoefen op almal wat my lewenspad kruis, maar in besonder op diegene die naaste aan my. Help my om dit wat ‘n negatiewe invloed op my lewe uitoefen te identifiseer en dit verantwoordelik te bestuur.
Biddag vir Seniors.
‘n Biddag vir ons senior lidmate het op 6 Oktober plaasgevind, Dankie aan die Seniorbediening wat die senior lidmate na die erediens bederf het.
Algemene Sinode Sitting
Ds Gerrit Vosloo is by die Sinode Sitting
Daar sal dus geen Juventas of Bybelskool plaasvind nie.
Nelspruit Hoërskool Matriekdiens 2019
Belydeniskamp 2019
Vergete items
Daar is allerlei items van lidmate wat in die kombuis vergete bly: Braaiers, verskeie bakke en ‘n kastrolle.
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit