9 Mei 2018


Boodskap

Tema: Ek glo in Jesus Christus…

Boodskap: Ek glo… in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

Die naam “Jesus” is wêreldwyd bekend. As ons van Jesus die Seun van God praat, kan die meeste mense daarmee assosieer. Ongelukkig gebruik baie mense ook die naam van Jesus of God op ʼn informele en afbrekende wyse. Hul gebruik dit as ʼn vloekwoord, ʼn kragwoord of ʼn woord waarmee hul bloot hul frustrasie te kenne gee. Hul vergeet hoe kosbaar en heilig hierdie naam eintlik is. Vir my, en elke ander Christen, behoort die naam van Jesus die spil te wees, waarom ons lewe draai. Dit moet die naam wees, wat ten spyte van my moeilike omstandighede, steeds ʼn glimlag na my gesig bring. Dit moet die naam wees, wat die wit vlaggie weer in ons huis laat wapper. Dit moet die naam wees, waarmee ek my grootste vyand trotseer en my enorme berg probleme mee stormloop. Maar wat maak hierdie doodgewone Joodse naam, so spesiaal en uitsonderlik? Hierdie kindjie wat op ʼn baie besondere manier aan Sy mamma gegee is, dra hierdie eenvoudige, tog kosbare naam. Hierdie kind genaamd Jesus Christus, is God, wat mens geword het. Hierdie naam beteken “die Here red”. Jesus is die verlosser van elke mens op aarde. Hy red ons van die spoke van ons sondige verlede. Hy verlos my van die alewige skuldgevoel wat my laat twyfel in my kindskap. Hierdie naam red my van die dood, dit maak my los van my skuldlas, en dit gee aan my die vryheid wat die genade van God bring. En die beste van alles is, hierdie naam verseker nie net aan elke sondaar die verlossing nie, dit was ons ook skoon van die sondesmet. Die vuil merke van onreg, wat my Goddelike beeld skade aandoen. In die naam van Jesus, begin my roete, en eindig my reis. Hierdie eenvoudige Joodse naam, is die Hoop wat God na die wêreld gestuur het. Hierdie naam verteenwoordig die goeie nuus wat God aan elkeen van ons kom vertel. Is hierdie nie ook die mooiste naam wat jy al ooit gehoor het nie?

Gebed: Dankie Jesus dat U mens geword het en ook vir my gesterf het aan ‘n kruishout. Dankie dat ek vandag saam met U lewe. Amen

 

 

 

Groete & seënwense,

Jean, Louis en Johan


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.