Hierdie week se boodskap
Tema: Waarop is jou lewe gebou?
Teks: Lukas 6:46-49
Boodskap:
‘n Fondament van ‘n gebou is nie iets waaroor ons gereeld nadink nie. Dis ook nie iets wat vreeslik mooi lyk en gereeld raak gesien word nie. Tog het elke gebou ‘n fondament en is ‘n fondament baie belangrik.
As ‘n fondament op rots gelê word, neem dit langer en verg dit harder werk, maar die fondament is dan baie sterker. As ‘n fondament egter op sand gebou word, is dit makliker en vinniger, maar dan is dit baie swakker en meer onstabiel. Wanneer ‘n fondament van swak gehalte is, het dit ‘n negatiewe effek op die hele gebou. Veral as daar storms kom, kan ‘n swak fondament baie skade tot gevolg hê.
Dit is dan hierdie selfde beeld wat Jesus gebruik wanneer Hy oor ‘n belangrike aspek van ons lewens praat. Jesus vergelyk ons lewe met ‘n huis wat ons besig is om te bou.
Ons het ‘n keuse waarop ons, ons lewens bou. Daar is maar net een rots, wat onwankelbaar en stewig genoeg is om die ergste lewenstorme te kan trotseer. Net wanneer ons lewe op Jesus Christus bou, weet ons dat ons lewe nie deur die storms van hierdie lewe platgevee sal word nie.
Ons bou ons lewens op Jesus Christus deur dit te doen wat vers 47 sê:
“Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat ek sê…..”
Ons moet na Jesus toe kom en Hom deel maak van ons lewens.
Ons moet mooi luister wat na dit wat Jesus ons leer.
Dan moet ons dit wat Jesus ons leer, toepas in ons lewens.
Ons moet ag slaan op dit wat die Bybel ons leer en dit uitleef.
Dan bou ons op die rots en het ons ‘n stewige fondament.
Die fout wat mense baie keer maak, is dat hulle nie hulle hele lewe op Jesus Christus bou nie. Ons lewe is soos ‘n huis met verskillende vertrekke. Elke vertrek verteenwoordig ‘n deel van ons lewe. Vriende, familie, eggenoot, kinders, beroep, sport, godsdiens, sosiale lewe, vreemdelinge, mense wat ek nie van hou nie is almal verskillende dele van my lewe. Ons bou gewoonlik ons godsdienstige deel mooi op Jesus as fondament, maar laat baie keer na om van die ander dele op Hom te bou.
Die dele wat nie stewig op Jesus gebou is nie, word die swakplekke in ons lewe. As die lewenstorme kom, is dit die dele wat in mekaar gaan stort en die res van ons lewe ook heeltemal negatief gaan beïnvloed.
As ons volledig ons lewens op Jesus Christus bou, beteken dit nie daar gaan nie lewenstorms wees nie. Beide huise was aan dieselfde storms onderwerp. Die verskil is egter die huis op rots is nie verwoes nie en kon weerstand teen die storms bied.
Gebed:
Dankie Jesus Christus dat U vir ons ‘n onwankelbare rots is. Help ons om ons hele lewe volledig op U te bou. Dankie dat U ons staande hou deur al die lewenstorms wat ons pad mag kruis.
Vir volledige videoboodskap, klik hier
Regstelling m.b.t. die huidige Reeks:
Visie & Missie
Wie is ons?
Studie 3
Bladsy 13 Punt 2
2. Jesus het self ook vir mense kom vertel wie Hy is. Jesus het dit onder ander aan die hand van die sogeneomde “Ek is – uitsprake” gedoen. Hoe raak dit ons as gemeente?
a. Ek is wat Ek is – Johannes 8:24, 58
b. Ek is die Brood van die lewe – Johannes 6:35, 48
c. Ek is die Lig vir die Wêreld – Johannes 8:12
d. Ek is die Ingang vir die skape – Johannes 10:7,9
e. Ek is die goeie Herder – Johannes 10:11,14
f. Ek is die Opstanding en die lewe – Johannes 11:25
g. Ek is die Weg, die Waarheid en die lewe – Johannes 14:6
h. Ek is die Wingerstok – Johannes 15:5
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Hugo Hamilton
- Susan Taljaard
- Lidmate wat tans Covid het e nook vir die wat familie het wat tans Covid het.
Kanker Kombersie-projek
‘n Groot dankie aan die Naomi dames en hul vriendinne vir die kanker bidkombersies. Dankie aan almal se skenkings van wol.
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit