9 Januarie 2019


GESEËNDE NUWE JAAR 2019!

‘n Geseënde en ‘n geesvervulde nuwe jaar word vir jou en jou familie toegebid deur elkeen van ons hier by NG Nelspruit-Suid.

 

Hierdie week se Boodskap

Teks: Spreuke 3:6 + 16:9

Wanneer ons elkeen terug kyk op die jaar 2018 wat vir altyd verby is, en bietjie nadink, dan roep dit verskillende emosies by ons op. Meeste van ons het vreugde en blydskap beleef, maar ook hartseer en verliese. Daar was momente waar van ons drome en ideale gerealiseer het en daar was tye waar van ons drome en ideale aan skerwe gelê het. Daar was tye wat ons beplanning vir die jaar op koers was en tye wat dit heeltemal ontspoor het. Soms het ons moedeloos gevoel en ander kere was ons vol moed en hoop.

Dis nie iets uniek aan 2018 of aan ons hier aan die Suidpunt van Afrika nie. Gaan blaai maar weer bietjie deur die Bybel en lees mooi die verhale in die Bybel. Probeer jou plaas in die voete van diegene in die Bybel. Probeer bietjie raai oor hoe hulle hulle lewens beplan het en hoe hulle oor hulle lewens gedroom het. Meeste van hulle se lewens het waarskynlik baie anders verloop en uitgedraai as wat hulle ooit kon droom of beplan het. Want sien wanneer God jou lewe kom vol maak en jy beheer aan Hom oorgee, dan verander dit. Maar op die ou end weet God wat die heel beste is. God het beter en mooier drome vir ons elkeen as wat ons het. God se drome vir ons fokus op dit wat ewigheidswaarde het.

Ons staan nou aan die begin van ‘n nuwe jaar. Die jaar 2019 wat voor ons elkeen lê as ‘n nuwe boek met skoon bladsye. En ook vir die jaar het elkeen van ons bepaalde drome. Bepaalde ideale wat ons graag wil bereik. Meeste van ons het seker al reeds hard beplan aan hierdie jaar. Hoe lyk jou drome en beplanning vir 2019? Het jy mooi daaroor gebid en daaroor nagedink? Het jy gedoen wat Spreuke 3: 6 sê?

Kom ons doen hierdie jaar wat die mooi stelling sê: “Skryf al jou planne in potlood en gee die pen vir Jesus.”

Gebed:
Dankie Here vir ‘n spliternuwe jaar 2019. Here, U weet ons het so baie drome en ideale. Help ons om altyd U wil te soek. Heilige Gees lei en leer ons die wil van die Vader en help ons om ons drome en ideale altyd ondergeskik aan God se wil te stel. Amen

 

Geloofsfamilie

Hierdie maand wil ons graag fokus op die feit dat ons almal saam ‘n familie is. Ons is mekaar se Geloofsfamilie. ‘n Familie wat mekaar ondersteun, mekaar help, mekaar bou, saam met mekaar lag en huil, saam die Here dien en as Ligdraers ‘n verskil maak waar ons ookal gaan. Deur die loop van die jaar gaan on sook aandag hieraan gee.

Om ons met hierdie wonderlike metafoor te help, vra ons dat elke gesin vir ons ‘n onlangse gesinsfoto sal stuur. Indien jy enkellopend is, moet jy groot asseblief ook vir ons ‘n foto van jouself stuur. Gesinne kan ook individuele fotos stuur indien julle nie ‘n onlangse gesinsfoto het nie. Ons wil graag hierdie foto’s gebruik sodat ons as familie mekaar beter kan leer ken. Julle foto’s gaan dus by die kerk gebruik word. Maak asseblief seker dat jy vir ons julle Van en almal wat op die foto verskyn, se Name duidelik sal aandui. Jy kan hierdie foto na enige een van ons 3 leraars Whatsup of dit vir ons Epos. Ons wil baie graag VOOR die einde van Januarie ALMAL se fotos hê. Julle fotos gaan gebruik word om op ‘n simboliese manier uitdrukking te gee aan ons as Geloofsfamilie.

Hoe ons dit gaan doen……………….. is ‘n verrassing.

Indien jy onseker is, kontak Ds Louis Pienaar 082 878 1743

 

Welkom by ons Geloofsfamilie

Welkom in die gemeente aan Anika Joubert en Leah van Wyk wat die afgelope Sondag gedoop is. Mag dit die begin van ‘n geseënde Geloofsreis in die gemeente wees.

 

Skool Toe!

Sterkte aan al die Graad 1’s wat vir die eerste keer skool toe gaan. Sterkte ook aan al die mammas (en pappas) met die eerste skooldag. Mag dit die begin van ‘n wonderlike skoolloopbaan wees.

 

Kleuterkerk, Kinderkerk en Jeugdiens

Inskrywings vir 2019 vind eerskomende Sondag, 13 Januarie 2019, plaas direk na die Erediens.

Kleuterkerk – Lapa
Kinderkerk – Saal
Jeugdiens – Saal

Vir navrae: Ds Gerrit Vosloo – 071 859 5175

 

 

Groete & seënwense,

Jean, Louis & Gerrit


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.