Hierdie week se boodskap

Tema: Waarheid in liefde

 

Teks: 2 Johannes 

Wat is Waarheid?

Op die oog af klink die vraag maklik om te antwoord maar as mens mooi daaroor nadink, is dit ook nie so eenvoudig nie. Ons leef in ‘n era waar waarheid deur die post-moderne mens as relatief gesien word.

Verder leef ons in ‘n era waar meeste mense toegang het tot die internet en sosiale media en baie mense hulle opinie, as die waarheid aanbied op verskeie platvorms.

Dink maar net na oor al die teenstrydige opinies oor Covid-19 en inentings waarmee ons gebombardeer is die afgelope twee jaar. En elkeen beweer dat sy opinie die waarheid is.

Dit maak dit al hoe moeiliker vir mense om te onderskei tussen wat werklik waar is en wat vals is of dalk net iemand se persoonlike opinie is. Dit raak al hoe moeiliker om te weet wat om te glo en wat nie.

Die Bybel kom leer ons egter dat God die bron van Waarheid is. Dat God se waarheid nooit sal verander of uitgedien sal wees nie. Ons leer God se waarheid ken deur Sy Woord, deur Jesus Christus en deur die Heilige Gees.

God se waarheid is onveranderd, ewigdurend en tydloos. Daarom kan ons God se waarheid glo en daaraan vashou.

Meer nog ons moet strewe daarna om God se waarheid te leer ken, in dit te bly en dit uit te leef in ons lewens.

Maar baie belangrik is dat ons die waarheid altyd in liefde sal uitleef. Waarheid en liefde staan nie teenoor mekaar nie maar staan by mekaar. Die liefde moet altyd onlosmaakbaar deel wees van die manier hoe ons God se waarheid uitleef.

Liefde en waarheid moet as te ware met mekaar verweef wees.

Die een hoort nie sonder die ander een nie.

 “Nee, ons sal in die liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof,” Efesiërs 4:15

 GebedDankie Vader dat U die bron van Waarheid is. Dankie Jesus dat U die waarheid vir ons gebring en                 geleef het. Heilige Gees help my om die waarheid te leer ken, in dit te bly en om dit in liefde uit te                 leef. Amen.

Vir volledige videoboodskap, klik hier

Knie-aksie

Bid asb vir Helga Eberwein wat ‘n hartomleiding ondergaan het.

Daar is steeds lidmate wat tuis herstel of wat tans Covid het. Bid ook asb vir hierdie lidmate en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.

Medelye

 Medelye word betoon met Hugo Ferreira en familie na die heengaan van sy pa.

 

Program vir die week

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit