Hierdie week se Boodskap

 

 

 

Tema: Jou nalatenskap

Teks: Johannes 14: 25-31 + 2 Timoteus 1:3-5

Almal op aarde, elke mens, ook jy, laat iets na in hierdie lewe. Jy kan nie kies om NIKS na te laat nie. Dis nie moontlik nie.

Al probeer jy al jou geld en eiendom opgebruik, is daar ‘n belangriker nalatenskap wat ons los. Ons elkeen los ‘n Emosionele en ‘n Christelike nalatenskap agter.

Ons kan egter wel in baie opsigte kies wat ons gaan na laat in hierdie lewe.  Ons elkeen kies wat is vir ons belangrik en wat is nie belangrik.

Hierdie nalatenskap vind nie eers eendag plaas wanneer ek aftree of afsterwe nie. Elke dag is ons besig om ‘n nalatenskap te los in die mense om ons.

Elke dag is ons of besig om te bou of besig om af te breek aan ons nalatenskap deur ons woorde en ons dade.

Jesus Christus het vir ons elkeen die wonderlikste nalatenskap gelos voordat Hy opgevaar het hemel toe. Liefde, vrede, hoop, geloof en die Heilige Gees is alles deel van Sy nalatenskap vir die hier en die nou. Hierdie nalatenskap van Jesus Christus behoort duidelik in ons elkeen se lewens sigbaar te wees en behoort ook neerslag te vind in ons nalatenskap.

Dink bietjie oor hierdie beeld rondom nalatenskap:

Hoeveel pitte is in ‘n appel? So tussen vier en agt. Soms bietjie meer. Maar, hoeveel appels is in ‘n pit? Plant ‘n pit en wag totdat die appelboom opkom. Hierdie boom sal duisende appels dra wat elk duisende pitte in het. Hierdie pitte kan duisende der duisende bome tot gevolg hê, wat miljoene appels dra! Alles uit een pit.

So is ons nalatenskap ook. Dit stop nie by die eerste ontvangers nie, maar word oorgedra na volgende persone.

Maya Angelou het gesê: “Mense vergeet wat ons vir hulle gesê het. Mense vergeet wat ons vir hulle gedoen het. Maar mense vergeet nooit hoe jy hulle laat voel het nie.”
Kom ons dink mooi na en kies om ‘n positiewe nalatenskap agter te laat.
Kom ons kies om te werk aan ‘n nalatenskap wat ewigheidswaarde het.

Gebed:
Dankie Here Jesus vir die nalatenskap wat U vir ons gelos het. Help my om ook ‘n positiewe nalatenskap te laat in elkeen se lewe wat my lewenspad kruis.
Amen

 

Gemeentekamp!

 

20 – 22 September 2019 by Henk van Rooyen Oord, Marlothpark.
Kampeerkoste R150 per persoon vir die naweek.
Vir meer inligting/kampeer besprekings kontak:
Anel 0829095099 of
Veronica 0834196543.
Vir chalet besprekings kontak:
Lana by Henk van Rooyen 072 282 2256

 

Uitreik na Silwerdae Ouetehuis, Waterval Boven

Op Saterdag 28 April het die Gemeente Uitreik na Silwerdae Ouetehuis in Waterval Boven plaasgevind. Die vleis is geskenk en kruideniersware is uit die gemeente se fondse vir Barmhartigheid aangekoop. Gebreide handwerk van die Senior Dames is uitgedeel.