Hierdie week se boodskap

 

 

Tema: Koninkrykswaardes: Vergifnis

Skriflesing Matteus 18:21-36

 

“Ek sal hom nooit kan vergewe nie. Dit wat hy aan my gedoen het is net te erg.” “Wag maar, haar dag sal nog kom. Ek sal nooit vergeet wat sy gedoen het nie.”

Klink dit bekend. Hoeveel keer hoor mens nie dat iemand iets in die verband sê nie. Dalk het jy self al hierdie woorde oor jou lippe ge-uiter.

Vergifnis is nogals baie keer moeilik vir ons. Ons leef in baie opsigte in ‘n wêreld waar mense meer geneig is om iemand anders te wil terug kry as om hulle te wil vergewe. Ons leef baie keer nog steeds, of ons dit nou wil erken of nie, met die beginsel van ‘n oog vir ‘n oog en ‘n tand vir ‘n tand.

Hierdie hoort egter nie by iemand wat ‘n burger is van die Koninkryk van God nie.

Vergifnis is ‘n belangrike waarde van God se Koningkryk. Ons lees in Kolossense 3:13 “Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”

Hier gaan dit oor ‘n volledige vergifnis. Toe Jesus Christus vir ons aan die Kruis gesterf het, het Hy nie net dit vir sekere oortredings/sondes gedoen nie.

In die gedeelte wat ons gelees het, kom vra Petrus vir Jesus hoeveel keer moet ons iemand vergewe wat teenoor ons verkeerd opgetree het. Hy vra of 7 keer voldoende is aangesien die Jode geglo het dat jy net 3x ‘n wandaad hoef te vergewe. Party Jode het selfs geglo dat god net 3x ‘n bepaalde sonde vergewe. Wanneer Jesus sê dat ons selfs 70 x 7 keer moet vergewe, bedoel Jesus nie ons moet ‘n wiskunde som doen nie. Nee, Hy probeer ons leer dat vergifnis onbegrens behoort te wees. Want God se genade en vergifnis is onbegrens vir elkeen wat Jesus Christus as hulle Here en Verlosser aangeneem het.

Ongelukkig verstaan ons verstaan baie keer vergifnis verkeerd.

Vergifnis beteken nie jy keer die persoon se verkeerde daad goed nie.

Ons moet ook nie wag totdat ons voel geregtigheid het eers geskied alvorens ons wil vergewe nie. Vergifnis beteken ook nie dat die verhouding herstel is tussen my en daardie persoon nie. Die herstel van die verhouding is nie ‘n gegewe nie en dis ‘n proses op sy eie.

Ons verstaan die redes hoekom ons moet vergewe ook soms nie mooi nie. In die eerste plek gaan dit nie om die persoon wie jou seergemaak of te nagekom het nie. In die eerste plek gaan dit oor God wat dit van ons verwag. Dis ‘n opdrag van God af dat ons moet vergewe. God kan dit van ons verwag want Hy vergewe ons deur Jesus Christus.
Tweedens gaan dit oor my eie geestelike en emosionele welstand. As jy nie kan vergewe nie en wrokke koester, het dit ‘n negatiewe impak op jou lewe. Dit beïnvloed ook jou verhouding met God en die mense die naaste aan jou, negatief.

Laastens gaan dit oor die persoon wat jou seergemaak of te nagekom het.
Die Bybel is vol van mooi voorbeeld van hoe ware vergfnis lyk. Dink maar aan Josef wat sy broers vergewe het; Jesus se Kruiswoorde toe die soldate Sy klere uitloot en Stefanus se woorde toe hulle hom gestenig het.

Kom ons kies vandag nog om ‘n lewe van vergifnis te leef. Kom ons kies vandag nog om die waarde van vergifnis deel te maak van elke aspek van ons lewens.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my deur Jesus Christus vergewe het vir al my oortedinge. Help my asseblief deur U Heilige Gees dat ek ook gewillig sal wees om ander te vergewe. Amen

 

Julie Nuusbrief

Goeie dag liewe geloofsfamilie. Ek vertrou dat jou omstandighede stadig maar seker besig is om te normaliseer. Vir elkeen wat kinders in die skool het is die kophou oor watter kind op watse dag by die skool moet wees. Baie sterkte vir elke huisgesin met hierdie uitdaging.

Onthou dat die kerkkantoor beperkte ure oop is. Dit is Ma / Wo / Vr oop vanaf 08:00-12:00. Daar vind gedurende hierdie tyd steeds hulpverlening aan gesinne plaas. Indien jy bewus is van gesinne wat swaarkry in hierdie tyd vra ons jou om asseblief een van die leraars te kontak sodat daar aandag gegee kan word aan hulle omstandighede.

Die volgende toerustingsgeleenthede is beskikbaar. Sondae is daar ‘n erediens wat per video uitgestuur word. Dit kan ook op ons gemeente se Youtube kanaal of Facebook blad afgelaai word. Vir die kinders is daar ook elke Sondag ‘n boodskap en vir die jeug is daar ‘n Zoom byeenkoms. Ons het besluit om voort te gaan in Julie met die waardes binne die Koninkryk van God. Augustus sal weer ‘n nuwe tema wees.

Gedurende die week, is daar ons gereelde Midweek nuusbrief wat uitgaan. Daarin is daar allerlei relevant inligting vervat. Ons het ook ‘n nuwe projek geloods in hierdie tyd, genaamd Suid Onderlinge Sorg. Die doel van die projek is om lidmate binne ons eie gemeente te ondersteun. Jy kan dus jou besigheid adverteer of indien jy werk soek of indien jy werk beskikbaar het. Kontak vir Henriette by bemarking@ngnelspruitsuid.co.za .

Gedurende die week is daar ook ‘n video-boodskap wat Woensdae laat middag / vroeg aand uitgestuur word. Dit is ‘n kort boodskap en ons is besig met die reeks oor dissipelskap. Hiermee saam volg daar ook ‘n bypassende Bybelstudie wat by die boodskap aansluit. Die inligting is op ons webblad beskikbaar en die video’s op ons kerk se kanale.

Baie dankie aan elke lidmaat wat getrou hulle bydraes gee. Ons dank die Here vir jou getrouheid. Betalings kan steeds elektronies direk in ons bankrekening gedeponeer word of julle kan dit by die kerkkantoor inbetaal. Nogmaals dankie vir elkeen se ondersteuning.

Indien daar lidmate is wat behoefte het aan besoeke, die leraars is steeds beskikbaar daarvoor. Kontak ons gerus.

Mag die genade en vrede asook die liefde van Jesus jou omvou in hierdie tyd en ons bid almal saam dat die Here ons in die tyd bewaar en dat ons spoedig weer erediens byeenkomste in die kerkgebou kan hou.

Groete en Vrede vir jou
Leraars

 

Knie-Aksie
 
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
 
  • Ria Lourens
  • Marie Pretorius
  • Annatjie Minnaar
  • Lulu Pelser
  • Louise Combrink
  • Ria Williams
  • Fanie Sholtz
 
 Bid asb vir lidmate wat tans in die hospitaal is:-
 
  •  Ciska Le Roux
  • Elize Steenkamp
 
Medelye:
 
  • Hennie Venter (Snr) en sy gesin na die afsterwe van sy seun Riaan.
  • Petra Ferreira en familie na die afsterwe van Piet.
  • Familie van Tannie Aad Goudriaan wat oorlede is.

 

 

S.O.S.  (Suid Onderlinge Sorg)