8 Augustus 2018
Hierdie week se Boodskap
Teks: 2 Korintiërs 8:7-8 “ Aangesien julle alles in oorvloed het: geloof, die gawe om julle woord te doen, kennis van God, onbeperkte ywer en ons liefde vir julle, wees dan ook in hierdie liefdeswerk oorvloedig. Ek gee julle nie ʼn opdrag nie, maar ek wys julle op die ywer van ander om daardeur die opregtheid van julle liefde te toets.”
Wanneer jy iemand liefhet is dit doodnatuurlik om vir hom/haar dinge te doen, dus liefdesdade te verrig. In hierdie teksvers sien ons dat Paulus nie die Korintiërs beveel om iets te gee nie, maar hulle eerder aanmoedig om die opregtheid van hul liefde te bewys. Maar wat gebeur as ons liefde moet bewys aan mense wat onverskillig teenoor ons staan. Mense met wie jy eintlik geen kontak het nie. Is dit steeds so maklik om liefde aan hierdie mense te bewys? Ons, nes die Korinte van ouds het ook verskeie dinge in oorvloed. Ons mag ons Godsdiens vrylik beoefen.
Meeste gesinne beskik oor ʼn Bybel in hul eie moedertaal en ons het baie broers en susters in die geloof. Omdat liefde so sentraal in ons Christelike geloof staan, moet ons dit ook kenmerkend maak, van hoe ons ander mense hanteer. Kan mense aan jou lewe sien dat jy ʼn God van liefde aanbid.? Getuig jou dade, van die opregtheid van jou liefde? Paulus praat ook hierbo van onbeperkte ywer. Is ons liefdesywer steeds onbeperk, as dit by mense kom wat geen rol speel in my lewe nie? Nee, ons is ywerig as dit by ons geliefdes kom, gee ons maklik. Maar ons verloor belangstelling sodra die persoon vir my onbekend is. Kan jy dink watter verskil dit sal maak as jy dieselfde hoeveelheid liefde kon bewys aan ʼn vreemde? Is dit nie wat God van ons verwag nie? Probeer vandag om die mense wat jou pad kruis, met dieselfde hoeveelheid liefde, geduld en respek te hanteer as wat jy iemand vir wie jy lief is, sou hanteer. Leef jou Christelike liefde uit teenoor elke mens met wie jy in kontak kom vandag. Glimlag opreg vir die vreemdeling wat ook by die supermark yskas staan en frons, oor die verhoogde melkprys, en kyk wat gebeur?
Gebed: Jesus maak my vandag ʼn toonbeeld van U liefde. Here help my om daardie liefde sigbaar te maak teenoor elke mens wat vandag my pad kruis. In Jesus naam, Amen.
Ons nooi jou uit na die volgende byeenkomste van die gemeente
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.