7 Maart 2018


Midweek Boodskap

TEMA: Ek is die goeie Herder

TEKS: Johannes 10:1-6; 11-16; 26-27; Psalm 23

Ek is die goeie Herder. God kies om hierdie beeld op verskeie plekke te gebruik om te verwys na die verhouding tussen ons en Hom.

‘n Skaap is nie ‘n baie slim dier nie. Skape is kudde/trop diere. Hulle beweeg saam met mekaar en as een in ‘n rigting in hardloop, hardloop die ander maklik saam in dieselfde rigting, al weet hulle nie mooi hoekom nie. Skape kan ook nie op hulle eie oorleef nie. ‘n Skaap kan ook nie op sy eie veel weerstand bied teen gevaar nie. Skape het versorging nodig.

Ja, ek dink as ons kon kies sou ons seker eerder graag onsself wou vergelyk het met iets sterkers soos ‘n bul of dalk selfs ‘n leeu of ‘n luiperd. Ek dink ons sien onsself ook baie keer eerder as iets sterkers en groters en ons tree ook baie keer so op, eerder as soos skape.

Maar God gebruik hierdie mooi beeld om iets vir ons te verduidelik van onsself, van diegene om ons en ook God se karakter, Sy verhouding met elkeen van ons.

As goeie Herder doen God die volgende vir ons:
a. Hy Lei ons -PSALM 80:2; JOHANNES 10:4
b. Hy Voed ons – Psalm 23
c. Hy Beskerm ons – JESAJA 40:11; JOHANNES 10:11-14 + 28
d. Hy ken ons – PSALM 139; JOHANNES 10:3
e. Hy soek ons as ons afdaal – ESEGIEL 34:16 + MATTEUS 18:12

God verwag van ons om:
a. Om werklik na Hom te luister – JOHANNES 10:3 + 27
b. Om Hom te leer ken en te volg – JOHANNES 10:4 + 27

Vanoggend moet ons onsself afvra; Hoe goed ken ek hierdie Goeie Herder?
Ken ek nog die Stem van hierdie Herder wat myso styf vashou en my so goed ken?
Hoe goed ken ek hierdie Goeie Herder wat Sy lewe vir my gegee het?
Volg ek Hom nog soos ek moet?

GEBED
Dankie dat U vir ons die goeie Herder is. Die Herder wat bereid was om Sy lewe vir ons af te lê. Help ons om meer U stem duidelik in ons lewens te hoor. Help ons om U te volg, waar U ook al ons mag lei.


Seniorbediening Nuus

Skon en tee oggend: 11 Maart

Alle seniors word uitgenooi om saam met die gemeente te kuier volgende Sondag na die erediens by Koffie@Suid.

Ons gaan heerlike skons, tee,filterkoffie, kitskoffie en sap hê.

Kom bring ‘n vriend of vriendin en kom kuier saam!

 

 

Dinsdagoggende Senior kuier

Ons nooi alle seniors om Dinsdae oggende om 10:00 saam te kuier by die kerk. Ons kuier, maak mooi goedjies, brei, hekel en ontmoet nuwe mense.

Hierdie Dinsdag het die seniors piekniek gaan hou by Lakeview Karavaan Park.

Indien enigeen betrokke wil raak by die seniorbediening, kontak gerus vir Susan van Huyssteen by 0849642847.

 

 


 


 

Jong Volwasse selgroep

Is jy dalk ‘n jong avontuurlistige volwassene in hierdie wilde woeste wêreld? Is jy opsoek na ‘n plek waar jy net kan behoort?

By die jong volwasse selgroep kom dié wat klaar met skool en onder 30 is bymekaar om vriende te maak en om saam met ander – wat dieselfde dink – te praat oor God se Woord. Natuurlik kuier ons saam met mekaar en saam met die Here.

Join ons op Dinsdae aande om 18:30 in die lapa by die kerk. Kontak Johan Koen 082 393 2944.

Bybelskool

Bybelskool word gerun op ‘n “vir die tieners – van die tieners” basis. So is jy dalk tussen die ouderdom van 13 en 18? Hier is vir jou ‘n geleentheid om te hoor wat die Here sê en om ook jou insette te lewer tussen mense wat na jou gaan luister.

1 Timoteus 4:12 en 14 sê: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” “Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie…”

Juventas

Ons nooi al die Gr. 1-6 ouers uit om op Donderdae aande hulle kinders Lapa toe te bring om saam te kom speel, die Here te loof en Prys en te hoor wat sê die Bybel.

Ons wil ook Juventas se veiligheid opskerp, daarom vra ons elke ouer om die kinders te registreer sodat julle kan weet dat julle kinders veilig is.

Dit is so belangrik dat ons die kinders leer van Jesus want Hy het self gesê “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (Lukas 18:16)

Groete & seënwense,

Jean, Louis en Johan


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.