Boodskap: Dr Jean Strydom 

Tema: Hoop

Teks: Lukas 4: 16 – 19

Die lewe is nie altyd maklik nie, soms loop dinge lelik skeef. Ja, dit gebeur dat ‘n mens die negatiewe van die lewe ervaar en dit laat jou verslae ronddwaal in die lewe. Tog, as slegte dinge met ‘n mens gebeur dan begin jy wonder oor God en wie Hy waarlik is. ‘n Mens mag egter nooit dat jou omstandighede bepaal wie God is nie, want Hy is verhewe bo jou omstandighede. As kind van God, moet ek en jy slegte omstandighede anders hanteer as die res van die wêreld. Hoekom? Want ek en jy het hoop. Nie sommer enige hoop nie, maar ware Hoop. Vir kinders van die Here is hoop nie net nog iets wat ons uit die verknorsing probeer kry nie. Nee, hoop is ‘n persoon. Dit is Jesus Christus. Paulus skryf in 1 Tim. 1:1 “ Van Paulus, ‘n apostel van Christus Jesus in opdrag van God ons Verlosser en van Christus ons Hoop”. Hy skryf ook in Kol. 1:27 dat Christus wat in ons is ons hoop is.

Advent tyd, herinner ons dat Jesus na die wêreld gekom het, dat Sy koms Hoop gebring het. Gedurende hierdie tyd van die jaar is daar so baie mense wat sonder hoop rondloop. Vir ons as kinders van God moet hierdie tyd van die jaar ons herinner om die Hoop wat in ons leef, te deel met ander wat dit nie het nie.

Gebed: Here baie dankie vir die Hoop wat U na die wêreld gestuur het. Amen

Kyk gerus na die volledige videoboodskap by https://www.youtube.com/watch?v=bYuEoEUUZjo 

Vrae vir nadenke: 

1. Wat beteken die koms van Jesus na die wêreld vir jou?

2. Hoekom dink jy is daar soveel mense wat sonder Hoop leef?

3. Lees Lukas 4:16-19

      a. Hoe het Jesus hoop gebring in mense se lewens?

4. Lees 2 Kor. 1:3-4

      a. Wat wil die gedeelte vir jou sê?

5. Hoe gaan jy God se Hoopdraer in hierdie tyd wees?

6. Lees 1 Pet. 1:3-4

      a. Watter verskil maak die gedeelte in jou lewe? 

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:  

Marie Pretorius

Homer Neethling  

Heleen Boshoff

Piet Otto

Bid asb ook vir lidmate wat siek is. 

Mag elkeen ‘n Geseënde Feestyd beleef!

Vriendelike groete,

Jean, Louis en Gerrit