Boodskap vir die week
Teks: Kolossense 3:1-17 + 1 Tessalonisens 5:14-18
Boodskap: Die woord “Dankie” is ‘n woord wat ons almal van kleins af geleer is om gereeld te gebruik. Dit is mos goeie maniere om dankie te sê wanneer iemand iets vir jou doen of iets vir jou gee.
Ongelukkig verloor die woord “Dankie” baie keer sy betekenis en sy krag omdat ons dit baie keer slegs gebruik omdat dit goeie maniere is. As die “Dankie” nie werklik bedoel word nie, as dit nie van uit die hart kom nie, dan word dit ‘n leë betekenlose woord.
Ek is seker ons het al amal beleef hoe dit lyk wanneer iemand werklik baie dankbaar is. Wanneer iemand werklik dankbaar is, is dit gewoonlik sigbaar in ons gelaatstrekke, liggaamshouding, optrede en stemtoon. Dankbaarheid en blydskap gaan volgens hierdie teksgedeeltes, hand aan hand met mekaar. Hoe meer ek ‘n lewe van dankbaarheid leef, hoe meer sal ek ware blydskap in hierdie lewe ervaar.
God kom leer ons in Sy Woord dat dankie meer as net goeie maniere moet wees. Ons dankie moet vanuit ons hart kom. Dit is meer as net ‘n woord. Dis ‘n ingesteldheid, dis ‘n lewenswyse wat ons moet kweek by onsself en ons kinders. Ons moet ‘n lewe van dankbaarheid leef met woord en daad.
Ons moet weer opnuut besef dat alles wat ons is en alles wat ons het, net genade is. Daarom behoort ons oor alles dankbaar te wees en nie goed maar as vanselfsprekend te aanvaar nie.
Dietrich Bonhoffer het gesê: “Dankbaarheid is ‘n kuns; die kuns om dankbaarheid te beoefen, is ook die kuns van die lewe.”
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir alles wat ek het en vir alles wat ek kan wees. Dankie vir die voorreg om U kind te mag wees. Dankie Christus Jesus dat U vir my sondes aan die kruis betaal het. Heilige Gees help my asseblief om meer en meer ‘n lewe van dankbaarheid te kan leef. Amen
Om na ‘n klankbaan van die preek te luister, klik hier.
Foto’s: Afsluiting van Kinderkerk
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit