Hierdie week se boodskap

 

Tema: Haal asem deur die Heilige Gees

Teks: Eksodus 3:1-15 en Galasiërs 5:16, 25

Boodskap:

Met alles wat in ons lewens aangaan, wie dink nou eintlik aan hulle asemhaling? Dit is seker die laaste ding waaraan ons dink, en tog is sonder asem, sonder hierdie lug kan ons nie lewe nie. Elke dag neem ons omtrent 6000 keer asem, wat om en by 14 000 liter van lug is. En ons is veronderstel om vanuit ons maag asem te haal en nie vanuit ons bors nie, maar as ons gespanne is en as ons te vinnig beweeg, dan neig ons om vanuit ons bors asem te haal.

Ons neem gemiddeld 4-6 keer per minuut asem, maar meeste mense haal 16-20 keer per minuut asem. Kenners sê dat ons veronderstel is om 99% van ons energie te kry deur ons asemhaling. En hulle sê dat meeste van ons gebruik maar tussen 10-20% van daardie Godgegewe natuurlike energie.

Toe Moses in Midian gewoon het, het God aan hom verskyn en gepraat deur ’n brandende bos (Eksodus 3:1-15) en God sê vir Moses hy moet sy skoene uittrek, want die grond waarop hy staan is heilig. Moses het vir die afgelope 40 jaar oor daardie grondgebied geloop. En dit is nie dat die grond ewe skielik verander het nie, nou ewe skielik heilig geword het nie, maar Moses word bewus daarvan.

En dit laat die vraag ontstaan by ons. Staan ons op heilige grond die hele tyd? Loop ons verby brandende bosse die hele tyd, aan ons linker kant aan ons regter kant? Maar omdat ons te vinnig beweeg in ons lewens, word ons aandag afgetrek en ons mis die brandende bosse rondom ons. Vêrder in Eksodus 3 lees ons dat God het die noodroep van Israel gehoor toe hulle in Egipte was. En Hy wil hê Moses moet hulle gaan bevry. En Moses sê, maar as ek na die mense toe gaan en vir hulle sê God wil hulle red, gaan hulle vir my vra maar wat is hierdie God se naam? En Moses vra vir God maar wat is U naam?

En God sê vir Moses: EK IS WAT EK IS. Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur.

As ons die woord Here in ons Bybels lees word dit met ’n hoofletter geskryf. En die woord Here kom meer as 6000 keer voor in die Bybel. Maar die Bybel was nie oorspronklik geskryf in ons hedendaagse tale nie, dit was geskryf in die Hebreeuse en Griekse taal.

In Hebreeus word die naam Here geskryf in vier letters, ons sal sê YHWH. In Hebreeus word die letters uitgespreek as Yo He Wa He. Party mense spreek dit uit as Jahwe of Yahwe, alhoewel in party tradisies word die naam nie eers uitgespreek nie, want dit word beskou as te heilig, te mistiek. Die antieke rabbi’s het geglo dat, hierdie letters eintlik as werkwoorde funksioneer in die Hebreeuse taal.

Hulle het geglo dat dit asemhalings klanke was en dat die naam eintlik onuitspreekbaar is, want die letters saam (in Hebreeus) is die klanke van asemhaal. Yo He Wa He. In Genesis 2:7 lees ons dat God het die eerste mens geskape en God het hierdie stof van die grond gevat en dit gevorm en daarin asem geblaas en dit het ’n lewendige wese geword.

Daar is hierdie paradoks by die hart van wat dit beteken om ’n mens te wees. Ons is broos, kwesbaar, ons kom vanaf die stof soos dit sê in Prediker 3:20 “Alles gaan na een plek toe; alles is uit die stof, en alles keer na die stof terug.” Die lewe is broos. En tog terselfdertyd was daar asem in ons geblaas deur die Skepper van die heelal en hierdie goddelike lug/asem is in elke menslike wese. Jou lewe is maar ’n asemhaling en tog was jy geskape deur die Skepper van alles.

Vir 1000de jare het mense verstaan dat hierdie fisiese asemhaling wat ons almal besit, is eintlik ’n prentjie van ’n dieper realiteit, in die Bybel is die woord vir asem dieselfde as vir die woord Gees en vir wind ook. In die Hebreeuse taal is dit die word ruach en in Grieks pneuma. Wind is ‘n basiese element wat ons nodig het om te lewe. Die Heilige Gees is ‘n basiese noodsaaklikheid vir elke Christen om te lewe. Wind is lug met beweging, dit is onontbeerlike om te lewe. Dit versprei saad en stuifmeel om te groei en te vermeerder. Die Heilige Gees is die teenwoordigheid van God – dit is ‘n fontein van lewe (John. 3:5-7; Gen. 2:7).

Die eerste Christene het hierdie begrip gevat en dit vêrder verwerk en hulle het geglo (soos ons vandag) dat die Gees letterlik in ons woon, in ons leef. In Rom. 8 lees ons dat as die pneuma, die Gees van God wat Jesus uit die dood opgewek het in jou lewe dan sal God jou lewe gee.

1 Kor. 6:11 & 1 Petrus 1:2 sê weer dat wat die Gees van God doen wat in jou leef is dit maak jou heilig, jou reinig. Wat dit essensieel beteken is dat wanneer jy God inlaat, wanneer jy asemhaal, word jy bewus van al die dinge wat jy moet agterlaat, al die dinge wat jy moet los.

Waaroor is jy kwaad? Waaroor is jy bekommerd? Waaroor is jy angstig? Wat pla jou? Wat vul jou gedagtes? Wat laat jou stress? As jy dan nou eerlik is met jouself, is daar enige iets wat jy moet uitasem?

Jesus het gesê die Gees van God lei ons in die waarheid in (John. 16:13). Is daar enige iets waarin jy leiding nodig het? Miskien is wat ons nodig het eintlik so naby soos om asem te haal! Die Heilige Gees is nie sigbaar met die oog nie, maar die teenwoordigheid en effek kan gevoel word en dit transformeer, dit reinig, dit bemoedig, dit begelei, dit versterk (2 Kor. 3:18; John. 16:13; 2 Tess. 2:13; Rom. 8:29).

Is daar enige iets wat jy op die oomblik moet inasem? Soos dit geskrywe staan in Efesiërs 4:4-6, daar is Een God & Vader van almal, wat oor almal is en deur almal en in almal. Wind en sy effek kan nie deur mense beheer word nie. Die Heilige Gees kan ook nie beheer word deur die mens nie (Hand. 2:2; 6:10; John. 3:8).

Soos Jesus gesê het God is die Gees en jy is ’n heilige skepping van God en sy goddelike lug/asem vloei deur jou en deur die persoon langs jou en dit vloei deur die persoon langs daardie persoon. Jy is op heilige grond en daar is ’n heiligheid tot die mense rondom ons en hoe jy hulle behandel.

In Matteus 25:31-46 sê Jesus, alles wat jy vir jou medemens doen, doen ons ook vir Hom. God is daar, want God is hier. En ’n mens hoef nie hiermee saam stem, vir dit om alreeds waar te wees nie, God het alreeds vir ons lewe gegee en die asemhaling van nou en die asemhaling wat ons na dit gaan haal en na dit.

Mag jy besef dat God hier is, op hierdie oomblik, met ons dieheeltyd, mag jy besef dat die grond waarop jy staan heilig is. Mag jy God se teenwoordigheid ervaar en mag jy leer om weer asem te haal.

En soos jy stadiger deur die lewe beweeg en na jou asemhaling luister, mag jy bewus word dat dit in God se Gees is dat ons leef, beweeg en asemhaal. Ons ontvang krag van Bo, van God af, ons ontvang die Heilige Gees (Lukas 24:49; Hand. 1:8; 2:15-17;4:13; 1 Kor. 14:15). Mag die Heilige Gees jou lei en versterk soos wat jy leef vanuit God se Gees.

Gebed: Here, mag ons leer om weer te fokus op ons asemhaling, dat ons deur U Gees, kan lewe. Help ons om opnuut weer bewus te word van U daaglikse alomteenwoordigheid in ons lewens. Mag ons besef dat U is so naby aan ons soos om letterlik asem te haal. Mag die asemhaling van nou en van vandag en môre, tot eer en verheerliking wees van U. Amen.

Om na ‘n video opname van die boodskap te kyk, klik hier.

Skrywe aan NG Suid Gemeente

3 Mei 2020

 

Goeie dag liewe lidmaat,

Nooit in ons wildste drome het ons gedink dat dit wat tans met ons gebeur, ooit sou gebeur nie. Elkeen van ons voel die effek van hierdie wêreldwye pandemie. Natuurlik hanteer ons dit verskillend. Skielik is daar ‘n klomp dinge wat ons voorheen as vanselfsprekend aanvaar het, wat nie meer so is nie. Om nie op ‘n Sondag as ‘n geloofsfamilie bymekaar te kom nie, was nie binne een van ons leraars se verwysingsraamwerk nie. Maar soos Charles Swindoll sê: “I am convinced that life is 10% what happens to me and 90% how I react to it. And so it is with you. . . We are in charge of our attitudes.”. Ek stem volkome saam, ”Attitude determines your altitude”. Soos ons in hierdie dae telefonies met verskeie lidmate gesels, kom ons agter dat ons persoonlike ingesteldheid en gesindheid gedurende hierdie uitdagende tyd, van uiterste belang is.

As geloofsfamilie mis jy sekerlik ook die samesyn, die eredienste en heerlike saamkuier na die tyd. Gelukkig leef ons in ‘n tegnologiese era, waarin ons wel op alternatiewe wyses met mekaar kan kommunikeer. As leraars poog ons, om nie ons boodskappe te lank te maak nie, aangesien almal nie eweveel data tot hulle beskikking het nie. Tog probeer ons om wel op ‘n Woensdag ‘n kort bemoedigende boodskap te stuur, asook ons gereelde Sondag erediens boodskap en jeugboodskappe. Ons glo dat jy dit van waarde vind. In hierdie tyd is dit belangrik dat jy as individu, steeds kwaliteit tyd met die Here spandeer. Kyk na jouself, in terme van jou geestelike, fisieke en emosionele gesondheid. Vir al die ouers met kinders wat tans tuis onderrig ontvang, julle is in ons gebede. Sien dit ook as kosbare tyd saam met jou kind. Glo my, jy sal dit ook mis!

Baie dankie aan elkeen wat steeds getrou julle maandelikse bydraes elektronies oorbetaal. Ons bankbesonderhede is op ons webblad beskikbaar. Ons is dankbaar vir elke donasie, wat ingekom het vir Maart en April. Dit stel ons in staat om ons maandelikse verantwoordelikhede na te kom, en ook te kan gee waar dit nodig is. Daar is baie gesinne wat swaar kry in hierdie tyd. Ons help hulle finansieel, en met kospakkies, soos wat ons kan. Ons bid dat die Here in elkeen van julle behoeftes sal voorsien. Indien daar nood of siekte is, moet asseblief nie huiwer om ons te kontak nie.

Gedurende Mei-maand gaan ons as gemeente fokus op die funksionering van die Heilige Gees. Dit was binne ons jaarbeplanning, en ons sal steeds voortgaan om hierdie tema op verskeie wyses aan te spreek. Ons gebed vir die maand is, dat jy as gelowige tyd maak om te werk aan jou verhouding met die Heilige Gees, en dat jy werklik Sy werking in jou lewe sal ervaar. Hierdie maand sou ook ons Pinksterweek gewees het (24-28 Mei) saam met ds. Dirkie vd Spuy. Ongelukkig sal dit dus ook nie meer kan plaasvind nie. Hy sal wel vir ons ‘n video boodskap stuur vir Sondag 24 Mei. Louis en Jean sal die res van die Pinkster boodskappe hanteer, in die vorm van video’s wat daagliks uitgestuur sal word. Ons sal beslis die sop en broodjies, asook die samesyn rondom dit, mis. Maar maak gerus vir jou ‘n pot sop tydens die pinksterweek.

Ons program vir Mei-maand sal min of meer soos volg wees:

3/05 – Sondag boodskap en jeugboodskappe, per video
6/05 – Woensdag boodskap per vide, en ontvang Midweek boodskap, per epos
10/05 – (Moedersdag) Sondag boodskap en jeugboodskappe, per video
13/05 – Woensdag boodskap per video en ontvang Midweek boodskap, per epos
17/05 – Sondag boodskap en jeugboodskappe, per video
20/05 – Woensdag boodskap per video en ontvang Midweek boodskap, per epos
21/05 – Hemelvaart boodskap, per video
24/05 – Pinkster boodskap, per video (Ds. Dirkie vd Spuy)
25/05 – Pinkster boodskap, per video
26/05 – Pinkster boodskap, per video
27/05 – Pinkster boodskap, per video en ontvang Midweek boodskap, per epos
28/05 – Pinkster boodskap, per video
31/05 – Sondag boodskap en jeugboodskappe, per video

Die pad vorentoe in terme van ons grendeltyd-fases is onseker. Wanneer ons weer as geloofsfamilie byeen sal kom, is nie aan ons bekend nie. Tog, binne die onsekerheid het ons die vaste versekering dat ons aan Jesus Christus ehoort. Ons glo en vertrou dat Hy elkeen van ons sal lei, en sal beskerm in hierdie tyd, tot die dag wat ons weer saam kan wees. Ons sien met verlange uit na daardie dag.

Ek sluit af met Paulus se woorde in Ef. 6:23-24 “Vrede vir die broers en susters, en liefde en geloof, van God die Vader en die Here Jesus Christus! Die genade sal by almal wees wat vir ons Here Jesus Christus met onverganklike liefde liefhet.”

Groete in Jesus Christus

Leraars: Jean, Louis, Gerrit