31 Januarie 2018


Boodskap vir die week

Tema: Beeld van God
Skriflesing: Genesis 1:26-28 & Hebreërs 1:1-3

 

Boodskap: Almal van ons ken die uitdrukking “Eerste indrukke hou”. Dit beteken dat ons geneig is om ‘n opinie van mense te vorm opgrond van ons eerste indrukke van hulle. Dis gewoonlik eers later wanneer ons hulle baie goed leer ken, wat ons ons opinie oor mense sal aanpas. Baie mense hou so vas aan die eerste indrukke wat hulle van mense gevorm het, dat al die persoon oor tyd bewys die eerste indrukke was foutief, mense nogsteeds vashou aan die eerste indrukke.

Op hierdie manier verkry mense baie keer ‘n skeefgetrekte beeld van ander mense. Baie keer word ons opinies ook gekleur deur ander mense se opinies en ervarings van ‘n betrokke persoon. Dit is ook waar oor hoe ons oor God dink. Van kleins af vorm ons ‘n beeld van God. Wie is God. Hoe is God. Wat is Sy eienskappe en so meer. Ons opinie van God word van kleins af beinvloed deur ons ervarings van kerk sowel as die optrede en opinie van mense na aan ons. Ongelukkig het dit tot gevolg dat ons soms groot word met ‘n skeefgetrekte beeld van God.

Genesis kom leer ons dat ons elkeen na God se beeld geskape is, as Sy verteenwoordigers. God se beeld in ons is egter vertroebel deur sonde en die eie ek. Hebreërs kom leer ons dat Jesus Christus die perfekte ewebeeld van die Vader is. As ons dus wil weet hoe ons oor God moet dink en hoe God is, dan moet ons moeite doen om Jesus Christus al beter te leer ken. As ons graag ‘n beter beeld van God wil hê, moet ons ons eerste ervarings, ons eerste belewenisse en opinies toets aan God se woord. Sy Woord wat vir ons die regte perspektief bring.

Eers wanneer ons seker maak dat ons ‘n gesuiwerde beeld van God het, kan ons effektief God se beelddraers en sy verteenwoordigers hier op aarde wees.

Kom ons elkeen kies om so effektief moontlik God se Beeldraer, Sy verteenwoordiger hier in Sy wonderlike skepping te wees. Kom ons kies om God net al beter en beter te leer ken en Sy liefde al meer uit te leef na buite.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U my geskape het as U beelddraer, U verteenwoordiger. Dankie Jesus Christus dat U, nadat sonde U beeld kom bekadig het, vir my kom wys en leer het wie God is. Heilige Gees, kom neem U beheer en help my om al meer effektief Verteenwoordiger, Beeldraer te wees.
Amen

Om na ‘n volledige opname van hierdie preek te luister, klik hier

 

 

Preekopnames

Die gemeente beskik nou oor ‘n eie YouTube rekening wat dit moontlik maak om klankopnames van preke beskikbaar te stel.

Skakels na die onderskeie preke is op ons webblad beskikbaar.

Klik hier om na preke te luister

Daniël Mannekonferensie

Manne, merk asb solank hierdie datum op jou kalender!

Datum: 12-14 April 2019
Waar: NG Nelspruit-Suid
Vir meer inligting: Ds Louis Pienaar 082 878 1743

 

Gesinsfoto’s

Hoewel die sperdatum van die projek 31 Januarie was, gee ons nog bietjie grasie vir diegene wat nog nie ‘n familiefoto aan Dr. Jean of Ds. Louis gestuur het nie, om dit asseblief so spoedig moontlik te doen. Jy kan ook sommer op hierdie epos reageer, die Reply knoppie druk, ‘n foto aanheg en te Send.

Hierdie is vir ons ‘n belangrike projek en ons vra asseblief almal se samewerking.

Verander van Binne na Buite

‘n Nuwe reeks preke met die tema Verander van Binne na Buite het verlede Sondag, 3 Februarie afgeskop. Boekies wat die onderwerp in geheel dek, is steeds beskikbaar teen R10 elk.

  

 

Groete & seënwense,

Jean, Louis en Gerrit