5 September 2018


Hierdie week se Boodskap

TEKS: Jona

TEMA: Beleef God soos Jona

Almal van ons het al in die lewe opdragte gekry waarvoor ons nie lus was nie of waarvoor ons dalk nie kans gesien het nie. Soms kry ons dalk gereeld opdragte waarvoor ons nie eintlik lus is nie.

Ons sien om verskeie redes op teen sekere opdragte. Soms is dit omdat ons bloot nie lus is nie. Ander kere is dit omdat ons voel die opdrag is bokant ons vuurmaakplek. Ons voel nie vaardig of waardig genoeg vir die opdrag nie. Ander kere is dit dalk omdat die opdrag ons uit ons eie gemaksone neem. Dit maak dat ons grense gaan moet verskuif. Grense wat se hoekpale dalk baie diep ingekap is. Dit kan ook wees dat die opdrag dalk nie sin maak nie of dat ons voel die opdrag het nie ‘n kans op sukses nie.

Die verhaal van Jona leer ons dat ons nie van God se opdragte of Sy wil vir ons lewens kan wegvlug nie. Die verhaal leer ons dat dit nie help om allerlei verskonings te probeer gebruik oor waarom ek nie God se opdragte en Sy wil vir my lewe uitleef nie. Die verskoning van nie tyd nie of ek is te oud of te jonk tel nie. Gaan kyk maar weer ook na die verhale van Moses in Eksodus 4 en Jeremia in Jeremia 1.

Ek dink baie keer voel ons nie opgewasse vir die opdragte van God nie. Ons voel nie waardig genoeg nie. Ons dink baie keer ons sal nie die mas kan opkom nie. Dink maar aan die dissipels. As ons as mense die dissipels moes kies, wonder ek hoeveel van hulle die kortlys sou haal. God kyk anders na mense as ons. Hy weet watter potensiaal Hy in elkeen ingeskep het.

Wanneer mens te selfversekerd is, dan maak mens op jou eie insigte en vermoeëns staat in plaas van om op God staat te maak. God kies juis ons sodat ons grense geskuif kan word en ons kan groei daardeur.

So wanneer jy nie opgewasse genoeg voel vir God se opdragte nie, dan is jy juis waar jy moet wees.

Kom ons kies om op te hou wegvlug van God se wil vir ons lewens. Kom ons kies om op te hou verskonings maak oor waarom ek nie God se opdragte in my lewe uitleef nie.

GEBED:
Hemelse Vader, dankie vir al die genade en geduld wat U vir ons het. Help ons om U wil uit te leef en ander van U groot genade en liefde te vertel. Amen


Uitreik na Silwerdae Ouetehuis

Uitreike Bediening en die Omgeegroep van Kobus Craig het Saterdag 1 September 2018 Silwerdae Ouetehuis in Waterval Boven besoek.

Voedsel ter waarde van ongeveer R7000.00 asook skenkings is by hulle kombuis afgelaai om hulle spens aan te vul. Ons het ook vir hulle n Erediens gehou.

Baie dankie vir almal se skenkings en bydraes wat dit moontlik maak om op n gereelde basis n verskil te maak by Silwerdae Ouetehuis. Ons waardeer dit opreg.

 


 

 


 

Seminaar: Hersaamgestelde Gesinne: 7 – 9 September

 

Meer inligting oor bogenoemde seminaar is in die volgende video beskikbaar.

Klik HIER om na die video te kyk.


 

Kom kuier saam!

Gou spring!  Indien jy graag nog wil saam kamp, tree asseblief so spoedig moontlik in verbinding met Theo Boezaart by 076 981 0924.

 


Jeugbediening

 

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.