Hierdie week se boodskap
Tema: Geloof
Teks: Num. 13-14
Wat jy glo verander alles. Ongeloof is beperkend op jou lewe. Dit steel van jou. Geloof maak weer die onmoontlike moontlik. Geloof maak die wonderlike wat God deur Jesus vir jou voorberei het, moontlik. Jy word van so baie beroof as gevolg van jou ongeloof, twyfel of verkeerde ingesteldheid.
Jy is geroep om meer te wees as wat jy tans is. God het ‘n roeping oor jou lewe. Jy is ‘n oorwinnaar. Jy is nie bestem om geestelik arm en uitgeteer te wees nie. Geloof sluit ‘n nuwe lewe oop.
Mens sou dink dat die Israeliete nie kon wag om die beloofde land binne te gaan nie. Vanuit Numeri 13-14 sien ons nadat Moses die 12 manne gestuur het om ondersoek in te stel en hulle terugkom, hulle verslag nie dieselfde is nie. Tien van die manne gee ‘n negatiewe verslag. Hulle is bang. Hulle sien net die slaggate raak en nie die geleenthede nie. Hulle beskou hulself as sprinkane in hul eie oë en in die oë van die vyand. Hulle ongeloof veroorsaak dat hulle die res van die volk ook negatief beïnvloed. Hulle invloed is so groot dat die volk glad nie wil hoor wat Josua en Kaleb vanuit ‘n geloofsperspektief sê nie. Inteendeel, hulle wil die twee manne doodmaak. Dis dan dat God self ingryp en Sy hartseer uitspreek omdat die volk nie Sy almag sien en nie op Hom vertrou nie. Die uiteinde is dat die Here hulle laat swerf in die woestyn as gevolg van hulle ongeloof.
God vra van ons geloof in hierdie uitdagende tye. Geloof in Hom en Hom alleen. Ons moet nie staatmaak op ons eie vermoëns nie, maar God ten volle te vertrou in alle aspekte van ons lewe. Soms kan jy voel dat daar nie uitkoms is nie, maar onthou wat Matteus 19:26 sê: Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik”. Lees gerus Numeri 13-14 en luister na die boodskap ten einde die volledige prentjie van geloof en ongeloof te ervaar.
Gebed: Here help my in my ongeloof. Help my om my oë te alle tye op U te rig.
Vir volledige videoboodskap: Klik hier
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Hugo Hamilton
- Lettie Myburgh
- Marietjie de Bruin
- Baba MJ Erasmus
Medelye word betoon met:
- Jan en Ria Strydom na die afsterwe van drie naby familielede
- Kat en Maritha Snyman na die afsterwe van haar vader.
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit