5 Julie 2017
Hiermee ons weeklikse aflewering van goeie nuus in die vorm van die weeklikse boodskap asook ander nuusbrokkies van belang.
Seënwense vir die res van die week wat voorlê!
Boodskap vir die week
Teks: 2 Kronieke 7:14 “en my volk oor wie my Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na my wil en draai terug van hulle bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sonde vergewe en hulle land laat herstel.”
Boodskap: Die beste manier om vas te stel of iemand met jou eerlik is of nie, is om op te let of hulle oogkontak maak. Wanneer iemand jou nie in die oë kan kyk nie, beteken dit dat hulle wel iets het om weg te steek. Soms begin jou kinders ook sulke onverklaarbare draaie om jou te loop. Dan kan jy maar weet, iets onheiligs het gebeur. ʼn Kind is nie van nature skelm nie en ek kan jou belowe, hulle voel heelwaarskynlik baie sleg oor dit wat gebeur het. Wanneer jou kind jou vermy, omdat hy/sy nie die vrymoedigheid het om eerlik met jou te gesels nie, maak dit oneindig seer. Dit beteken nie, dat jy in jou ouerskapstaak gefaal het nie. Vertroue is ʼn brose plantjie, wat soms jare kan vat voor dit behoorlik begin groei.
In hierdie teks leer ons iets van God en die seer wat Hy ervaar, as ons Hom ook nie in die oë kan kyk nie. In die Hebreeuse vertaling verwys God na: “soek my gesig” in plaas van “vra na my wil”. Ons leer hier so ietsie van God se hartklop. Wanneer ons Hom doelbewus vermy, kry Sy hart ook maar seer. Hoekom loop ons dan draaie om ons Vader? Is dit omdat ons dalk Sy reaksie vrees? Dit is net hier, waar ons die fout maak. God het ons lief, ons is Sy kinders. Hy het reeds eeue gelede al die nodige ruimte geskep, sodat ons altyd met Hom kan eerlik wees. Jy kan Hom met vrymoedigheid nader. Wanneer daar iets tussen jou en God staan, moet jy dit in die ope kry en hierdie onreg bely. God sal jou nooit straf, wanneer jy ware berou het nie. Daaraan hoef jy nooit te twyfel nie.
Moenie draaie om jou Vader loop nie, dit maak Sy hart seer. Gaan in nederigheid op jou knieë, voor Hom. Bely dit waaroor jou so wroeg. Doen dit in opregtheid, en geniet die onbeperkte hoeveelheid liefde wat in jou Vader se oë te lees is.
Gebed: Vader, vergewe my vir die draaie, wat ek te gereeld, om U loop. In Jesus naam, Amen.
Eredienste
Sondag 9 Julie
- 08:30 – Oggenddiens – Dr Jean Strydom. Tema: Geloofsreis & Vrese
- 18:00 – Geen byeenkoms; gemeente word uitgenooi na Loof Hom Innibos. Toegang is gratis
Ontvangsdame benodig by Torga Optical Riverside
Ervaring in verkope is belangrik. Stuur CV na riverside@torgaoptical.co.za
Op ligte noot
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.