Boodskap vir die week

Romeine 1:5 Die Evangelie van God se genade, geloof en gehoorsaamheid

Die Evangelie van Jesus Christus is tegelykertyd kompleks en verbluffend eenvoudig. Dit is kompleks in die sin dat daar tot vandag toe nog steeds boeke geskryf word, kongresse gehou word om die enigma van Jesus Christus se koms na die wêreld beter te probeer begryp, te interpreteer, te verstaan. Die Evangelie is verbluffend eenvoudig, so eenvoudig dat voorskoolse kinders dit verstaan en aanvaar dat God hulle liefhet. Ons wat lidmate is kan nou in een van die twee eensydighede val. ‘n Mens kan die Evangelie van Jesus Christus moeilik maak – oor kompliseer deur ‘n klomp kritiese vrae te vra en steeds te bly wonder… ‘n Mens kan die Evangelie van Jesus Christus ook oorvereenvoudig – ‘n tipe “Liewe Jesus het my lief”-teologie en daarmee is alles gesê.

Tegelykertyd is die nadenke vanuit Romeine 1 ook iets van ‘n persoonlike belydenis: so het ek hoe langer hoe meer die Evangelie van Jesus Christus begryp.

In Romeine 1:1-7 word die Evangelie met drie begrippe beskryf: Genade, Geloof, Gehoorsaamheid.

Die drie begrippe – genade, geloof, gehoorsaamheid – word nie uit die lug gegryp nie. Dit is begrippe wat so in Romeine 1:5 genoem word en as ‘n mens die Romeine-brief in die geheel lees, kom jy agter dat die drie begrippe die as’t ware die pilare is wat die hele brief dra. In die eerste deel van Romeine val die klem op genade, later (Rom 5-8) val die klem op geloof en nog later (Rom 12-16) van die klem op gehoorsaamheid. Romeine 1:5 is dus ‘n beknopte opsomming van wat daar in die res van die brief staan. In Romeine 1:17 kry ons weer die drie begrippe: God spreek mense vry (genade); omdat hulle glo (geloof) daarom sal hulle lewe (gehoorsaamheid).

Genade is die eerste begrip waarmee die Evangelie beskryf kan word.

Genade het ‘n verslete woord geword. Dit is ‘n woord wat ly aan woord-inflasie. Net soos wat inflasie die koopkrag van geld al minder laat word, laat woord-inflasie die krag van die begrip “genade” al minder word. Genade word ook skaars in die samelewing. Meriete is dit wat (behoort!) te tel.

Genade is God se gunstige, goedkeurende kyk na ons. Genade beteken God kyk na ons met liefde. God het ons lief omdat Hy ons genadig is. God is ons genadig en daarom het Hy ons lief. God se genade is die manier waarop Hy ons liefhet. God het ons lief deur ons genadig te wees. God wys dat Hy ons liefhet deur genadig met ons te werk.

God se genade word vergestalt, beliggaam in Jesus Christus. God se genade word gesien in Jesus, in sy woorde en sy dade. Met sy gelykenisse, met die Bergrede, met sy gesprekke wys Jesus vir ons telkens God as die genadige God. Met Jesus se dade wys Jesus vir ons God as die genadige God. As ons praat van Jesus se dade dan bedoel ons veral sy daad aan kruis. God se genade beteken dat Hy ons vryspreek van dit wat teen ons tel. Dit wat teen ons tel, tel nie meer nie. Hoekom nie? Jesus se daad aan die kruis, sy opstanding uit die dood het ons rekening by God betaal. God se genade is dus nie bloot net ‘n eienskap van God nie. Dat God genadig is, sê iets van God se wese – dit is wie Hy is, dit is sy identiteit, God is genadig.

Die Evangelie begin dus by God en sy genade. Die Evangelie begin nie by ons nie. Dit is nie ons wat God genadig gemaak het nie, of hom gevra het om genadig te wees nie, dit is nie ons wat God kan manipuleer om genadig te wees nie, die Evangelie gaan oor God wat in sy wese genadig is.

Die idee van genade is vreemd aan die wêreld waarin ons leef. Iets wat jy gratis kry is gewoonlik nie veel werd nie. ‘n Gratis pen by ‘n kongres sukkel om te skryf. Gratis is goedkoop. By die Evangelie werk dit presies andersom: Die Evangelie is so kosbaar dit kan net gratis beskikbaar wees gewoon omdat onkoopbaar duur is.

Geloof is die tweede begrip waarmee die Evangelie beskryf kan word.

Geloof en glo in Nederlands is dieselfde woord. “Ik geloof” in Nederlands beteken in Afrikaans “ek glo”. Geloof beteken dus om te glo. Geloof beteken om te glo wat die Evangelie aanbied. Dit kan vergelyk word met iemand wat ‘n vliegkaartjie oorsee aangebied word. Die kaartjie is klaar in jou naam, instapkaart met sitpleknommer. ‘n Mens glo die aanbod deur die aanbod op te neem. Wie glo dat God hom/haar liefhet, wie glo dat dit wat Jesus Christus gedoen het op my rekening geskryf is, het tot geloof gekom.

Geloof beteken dus om af te sien van my eie meriete. Geloof beteken om God te glo. Geloof beteken om af te sien nie net van my slegte eienskappe nie (dit doen ons maklik), geloof beteken om af te sien ook van my goeie eienskappe wat ek meen in my guns behoort te tel by God.

Dit is nie so maklik nie want ons leef in ‘n gemeenskap waar meriete juis tel. Dit juis jou kwaliteite wat vir jou werk in jou beroep, jou vriendekring, huwelik, sosiale lewe ens. Jou CV is ‘n dokument vol meriete. Prestasie word beloon. In die Evangelie werk dit juis nie so nie.

So maklik as wat dit is, so moeilik kan dit ook wees. As alles rondom my op meriete en verdienste werk, hoekom sal dit in die Evangelie anders wees? Omdat die Evangelie so vreemd is, so anders werk as wat dinge werk in die wêreld waarin ons leef, is dit partykeer moeilik om dit so te glo.

Gehoorsaamheid is die derde begrip waarmee die Evangelie beskryf kan word.

Die Evangelie van God se genade is nie ‘n passiewe evangelie nie. Omdat ek God se genade ervaar en ook aanvaar het, leef ek nou in gehoorsaamheid aan die God wat my genadig was.

Ek is gehoorsaam aan God wanneer ek doen wat God aan my gedoen het. God het my lief, daarom het ek lief. God is my genadig, daarom is ek genadig in die manier waarop ek lewe. ‘n Passiewe ontvanger van God se genade word ‘n aktiewe weerkaatser van God se genade.

Genade, geloof, gehoorsaamheid – die drie begrippe. Daar is natuurlik ‘n volgorde in die begrippe. Wanneer die drie begrippe omgeruil word, word dit ‘n verwringing, ‘n skeeftrekking van die Evangelie. Wie gehoorsaamheid eerste plaas eindig met ‘n wettiese Evangelie. Wie geloof eerste plaas eindig met ‘n Evangelie van verdienste en meriete (“ek word gered op grond van my geloof”) waar my geloof God se genade eintlik moet verdien. Nee, dit gaan om die volgorde van Genade, geloof, gehoorsaamheid.

Kom ons ontdek weer God se genade in die Evangelie. Trouens, dit is God se genade wat die Evangelie die Evangelie maak. Kom ons leef uit God se genade, kom ons glo die Evangelie van God se genade, kom ons leef die Evangelie van God se genade deur ons gehoorsaamheid.

Amen.

 

Om na ‘n opname van die preek te luister, klik hier.

 

 

 

 

Vleisfees Bybel Vasvrae- Kriptiese LeidradeVleisfees Bybel Vasvrae- Kriptiese Leidrade Antwoorde en Skrifgedeelte

Bak en brou, moenie te lank hierin hou: Koektafel – oond – Daniël 3

Hul maak geen geluid meer: Vleistafel – kleinvee –  1 Samuel 15:14

Super-vrou: Handwerktafel – Spreuke 31: 24

Soek in die boom: Vrugte- (en Groentetafel) – Psalm 1:3  

Soet koei onder die afdak: Koffie en Koek     –  Melk en Heuning  – Eksodus 3:8Ek is platsak:  

Geld – Lukas 15:8 Pluk jou hier, trek jou daar, berge toe!:  Pulled Pork Buns – Lukas 5:1 -13  

 

 

Foto’s tydens die Vleisfees geneem

 

Hieronder verskyn 16 foto’s wat die feestelikheid uitbeeld.  Klik op die foto om na die volgende foto aan te skuif.

 

 

 

 

 

Ons het nog gasvrouens nodig vir bogenoemde funksie.  Is jy dalk bereid om te help?

 

 

Groete & seënwense,

 

Jean, Louis & Gerrit