Hierdie week se boodskap

Jesus se opstanding maak dat ek anders leef

Teks: Romeine 5:1-11

In die bekende boek, Les Miserables van Victor Hugo, word die aangrypende verhaal vertel van ‘n jong Fransman gevangenisstraf opgelê is omdat hy ‘n stukkie brood gesteel het. In die tronk het hy ‘n geharde misdadiger geword. Nadat hy vry gelaat is, het hy gesukkel om verblyf of werk te kry totdat ‘n biskop hom oor die man ontferm het en hom slaapplek gegee het. Daardie nag het die man die kosbare silwerware van die kerk en die biskop se familie gesteel en daarmee gevlug.

Hy is egter deur die polisie betrap en vroeg die volgende oggend het hulle hom na die biskop gebring om te bevestig dat hy die silwerware gesteel het. Die biskop se optrede het egter almal uit die veld geslaan. Hy het vir die polisie gesê dat hy die silwerware vir die man gegee het sodat hy ‘n nuwe lewe kan begin. Die polisie het die man vry gelaat en hy het verbysterd en sprakeloos voor die biskop bly staan.

Die biskop het vir die man gevra om hom te belowe dat hy die silwer sal gebruik om sy lewe te verander en nuut te begin leef. Die man se lewe het handomkeer verander en hy het ‘n goeie lewe begin leef en ander gehelp waar hy kon.

Hierdie is ‘n baie mooi verhaal wat handel oor onverdiende genade. ‘n Skelm word vrygespreek maar meer nog, hy ontvang die teenoorgestelde van wat hy verdien. Hy word met goedheid en rykdom oorlaai nog voordat hy om vergifnis vra of sy lewe verander.  

In Romeine 5 vind ons egter nog ‘n groter en belangriker verhaal wat verwys na genade wat menslik onmoontlik is om te kan verdien. Dis tog juis wat genade is: Dis iets wat nie verdien kan word nie. Omrede daar ‘n kruis en ‘n leë graf was, ontvang ons genade en liefde wat vir ons as mens amper ondenkbaar is. Jesus neem al die sondes van elkeen van ons op Hom en in ruil daarvoor ontvang ons Sy geregtigheid. Hy gee vir ons die ewige lewe terwyl ons die ewige dood verdien, Hy maak ons kinders van die Koning van die heelal terwyl ons dit verdien om slawe te wees. Die Here oorlaai ons met soveel goedheid nog voordat ons om vergifnis kan vra of ons lewens verander.

As ons werklik besef en verstaan wat Jesus vir my en jou gedoen het, kan ons lewens nie maar net voortgaan soos vroeër nie. Dan sal ons ook soos die jongman in die boek Les Miserable, radikaal anders en nuut begin lewe. Die kruisgebeure sal nie maar net ‘n deel van my geloofskennis bly nie, maar ook ‘n ingrypende effek uitoefen op die manier hoe ek elke dag leef. My fokus en ingesteldheid in die lewe sal gerig wees op dit wat ewigheidswaarde het.

Kom ons kies vandag opnuut om die nuwe lewe te leef wat Jesus Christus vir ons moontlik gemaak het.

Gebed:

Dankie Jesus Christus vir wat U bereid was om vir my te doen. Dankie vir soveel onverdiende liefde en genade. Help my om radikaal anders en nuut te leef op so manier dat U deur my hele lewe verheerlik word. Amen.

Teks: 

 Vir volledige videoboodskap, klik hier

 

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:

Homer Neethling
Lientjie Steyn 
Tobie Pretorius
Louise Van Zyl 
 

Bid asb ook vir lidmate wat siek is. 

Program vir die week

Lewenskets van Ricky en Susan van Huyssteen (Susan is kerkraadslid met opdrag senior aksie)

Ricky en Susan van Huyssteen bly sedert 2007 in die Laeveld. Toe hulle hier aangekom het, het hulle niks van die Laeveld geweet nie behalwe dat hier ‘n Krugerwildtuin is.  Hulle het in die Laeveld beland aangesien Ricky Nelspruit toe verplaas is.

Susan is ‘n administratiewe beampte by Carpe Diem Primary en haar man, Ricky, is diensbestuurder by John Bean Technologies. Hy is in die versappingsbedryf.

Hulle het twee kinders naamlik Gretha en LeRico.  Gretha is 24 en werk in Upington. LeRico, ‘n studentonderwyser by Carpe Diem Primary, is 20 en hy is tans besig met sy onderwysstudies.

Susan het in Upington grootgeword en Ricky in Uniondale.  Beide het in die Paarl gewerk waar hulle mekaar ook ontmoet het.

Susan hou van lees, naaldwerk, hekel, brei, musiek en ‘n bietjie van dit en dat. Ricky ry graag fiets en kyk graag Formule 1.

Susan getuig: “Die Here het deur die jare positiewe en negatiewe gebeure oor ons pad gebring wat ons in ons geloof geslyp het. Baie keer wonder ‘n mens hoekom sekere dinge gebeur het, maar as ek terugkyk, was daar elke keer ‘n doel wat ons as mense nie op daardie stadium besef het nie. Dit moes egter so gebeur om my as mens te slyp. En so slyp die Here my nog steeds elke dag.” 

Bestellings vir die hamburgers sluit vandag om 12:00

Mag elkeen in hierdie week God se Guns en Seën beleef.

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit