31 Oktober 2018
Hierdie week se Boodskap
Teks: Johannes 13:31-35 + 1 Korintiërs 13:1-7
Kom ons veronderstel vir ‘n oomblik dat jy aangekla word van Liefdeloosheid. Die aanklaer roep ‘n klomp getuies. Eerste aan die word is diegene die naaste aan jou. Jou huweliksmaat, jou kinders, broers, susters, niggies, nefies en so meer. Daarna word ander getuies geroep. Die vrou agter die til waar jy gewoonlik inkopies koop; die man wat in jou tuin werk; die bediende in jou huis; jou kollegas by die werk; die onderwyser by jou kind se skool. Wat sal elkeen van hierdie mense oor jou getuig?
Dit is gewoonlik vir ons maklik om lief te wees vir diegene wat vir ons terug lief is. Dit maak dit maklik vir ons wanneer ons dink iemand is oulik en hulle tree op soos ons graag wil hê hulle moet. Wanneer dit voordelig vir ons is, is dit nog makliker om ander lief te hê. Meeste van ons kry hierdie manier van liefwees reg.
Maar in God se oë is hierdie nie wat ware liefde beteken nie. Ware liefde, Agape, beteken om iets van God se liefde te verstaan en dit te begin uitleef teenoor alle mense. In Johannes 13:34 kry ons nog ‘n moeilike opdrag van God: “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” Hierdie opdrag van die Jesus sê dat almal behoort iets van Sy liefde in ons raak te sien. Alles wat ons doen moet gemotiveer wees deur ware liefde. In alles wat ek sê en doen moet Jesus se liefde die deurslag gee.
Dit beteken dat ek liefde moet bewys ook aan diegene wat nie terug liefde bewys nie. Dat ek ook moet liefde bewys aan die randfigure van vandag se samelewing. Ja, ek moet ook liefde bewys aan diegene wat niks van my hou nie.
Wanneer ek dit begin regkry om ander onvoorwaardelik lief te hê, wanneer ek mense kan lief hê al kom ek nie met hulle oor die weg nie, dan begin ek iets van Jesus se liefde verstaan.
Gebed: Dankie Jesus vir die voorbeeld wat U vir ons kom leef het. Here help my dat ek meer en meer U liefde sal uitleef. Help dat ek nie onderskeid sal tref nie maar liefde aan alle mense sal bewys. Ook aan die randfigure van my leefwêreld.
Die tyd het aangebreek vir ons Vleisfees!
Jeugbediening
Daar gaan GEEN Juventas wees nou eerskomende Donderdag nie aangesien alles reeds in gereedheid gebring word vir die Vleisfees.
Alle kinders word uitgenooi om Vrydagaand saam te kom kuier by die Vleisfees. Daar gaan ‘n Kindertafel wees, ‘n Springkasteel, Marshmellow braai en nog vele meer.
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.