Boodskap vir die week
Boodskap: Onkruid tussen die koring klink nie reg nie. Dit klink sommer net asof daar moeilikheid is. Dit was wel hier die geval. Jesus vertel hoe die vyand gekom het en onkruid in die koringland gesaai het. Kyk ons na die wêreld rondom ons sal ons sien dat daar baie onkruid in die wêreld is. Dit neem verskillende vorms aan. Die doel daarvan is om jou getuienisaksie oneffektief te maak. Ons maak ook soos die slawe wat dadelik die onkruid wil uittrek. Ons vra ook vir die Here om asseblief die bose/onkruid uit te roei. Tog leer ons uit die gelykenis dat God ons antwoord, maar die antwoord is dat ons moet wag tot die tyd reg is. Hy sal verseker afreken met die onkruid, maar wanneer die oes eers reg is. Intussen verwag Hy van jou en my wat die koring is, om te leef ten spyte van die teenwoordigheid van die onkruid. Jy moet net voortgaan om jou getuienisaksie uit te leef. Moenie veroordeel nie, dis God se taak. God verwag dat jy net so sal leef dat almal sal sien dat jy koring is. Ek en jy moet toegewyd leef, gaan wees sout en lig, hou jou oog op Jesus. Wees die beïnvloeder. Wees jy die verandering wat jy wil sien,
Gebed: Here dankie dat ek op U hulp kan reken om koring te wees. Help my om te leef tot U eer ten spyte van die onkruid rondom my. Amen
Om na die klankopname van die preek te luister, klik hier
Kerrie & Rys
Die kerrie & rys verkope was weereens ‘n reuse sukses. Baie dankie aan elkeen wat ‘n donasie gemaak, gehelp het met voorbereiding, gekoop het of gehelp het om bestelling te genereer en hulp Vrydag.
‘n Totaal van 1339 bakkies Kerrie en Rys is verkoop, ver meer as die doelwit van 1000. Alle lof aan God vir Sy Seën wat ons so mildelik elke jaar in hierdie projek beleef!
Hierdie is ‘n gedugte span waarvoor ouderdom nie ‘n faktor is nie. Hulle kan meng, opskep en bestellings uitpak – voorwaar ‘n wenspan!
Elke porsie is presies afgemeet.
Personeel van die SUID Kerrie & Rys Fabriek
Die manne in beheer van die kastrolle- meesters in roer en meng.
Elkeen het sy werk fluks gedoen om die produksielyn, heeldag lank, suksesvol te laat verloop.
In die kombuis het twee lidmate van SUID-China na die rys omgesien.
Musiekspan
Die musiekspan wat Sondag 28 Julie die Gemeente tydens die erediens begelei het met voorsang en instrumente. Die span bestaan tans uit 19 lede wat Sondae afwissel. Hulle oefen Donderdagaande en kom Sondagoggende reeds soms so vroeg soos 7uur kerk toe, om voor die diens weer te voor te berei.
Daar is altyd plek vir nog lede en veral vir jongmense om in te skakel.
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit