30 Mei 2018


Midweek Boodskap

Tema: Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk

Boodskap: Die kerk is vandag onder geweldig baie druk. Dis nie net in Suid Afrika nie, maar regoor die wêreld. Mense sal eerder op ‘n Sondag rustig gaan sit en koffie drink en koerant lees as om kerk toe te gaan. Die Mall is Sondae voller as die kerk.

Wie is die kerk? Is dit die gebou? Nee, dis die mense wat hul lewens aan God oorgegee het. Die kerkgebou is die plek waar gelowiges bymekaar kom. Die kerk is die mense, die gelowiges. Dis hoekom mense soos ek en jy baie versigtig moet wees, want die wêreld vorm ‘n persepsie van die kerk deur na gelowiges se gedrag te kyk.

Gelowiges glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk. Die vraag is net tot watter mate leef jy dit wat jy bely oor die kerk?

Verteenwoordig jy iemand wat heilig is? Dit beteken dat jy jouself sal afsonder vir God, dat jy bruikbaar sal wees in Sy koninkryk en dat jy Sy opdragte sal uitvoer.

Verteenwoordig jy die algemeenheid van die kerk? Dit beteken dat jy mense laat welkom voel in die kerk, almal is welkom want jy wild at elkeen die liefde van God ervaar en die wat nie leef volgens Sy wil nie, dat hulle lewens sal verander.

Verteenwoordig jy die Christelike kerk? Dat dit vir jou net oor God alleen gaan en niemand anders nie?

Ek en jy bely hierdie elke Sondag. Die vraag is leef jy dit? Kan die wêreld dit in jou optrede sien?

Uit jou eie sal jy dit nie kan doen nie. Slegs deur jou afhanklikheid van die Heilige Gees sal jy dit kan doen.

Gebed: Vader help my om dit wat ek glo en bely uit te leef. Ek glo aan ‘n heilige, algemene, Christelike kerk. Amen

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.