30 Augustus 2017
Welkom my ons Midweek-nuusbriefie wat ten doel het om nuuswaardige brokkies inligting rakende gebeure in ons gemeente met jou te deel.
Mag jy hierdie week geseën word met alles wat jy aanpak.
Boodskap vir die week
Teks: Matteus 21:18-22
Tema: Geloof wat vrug dra en berge versit
Was daar al dinge in jou lewe wat vir jou onmoontlik gelyk het? Dinge wat vir jou onoorkombaar voorgekom het maar dan met die krag en genade van die Here kon jy daardeur kom? Ek dink ons almal het verhale waar ons geloof ons deurgedra het, waar ons geloof ons gehelp het om die onmoontlike te kon regkry.
In hierdie teksgedeelte kom leer Jesus die dissipels dat geloof vrug moet dra. Jesus kom waarsku hulle dat hulle nie kragtelose geloof moet hê wat dalk mooi lyk soos ‘n vyeboom vol blare, maar geen vrugte het nie. Want so ‘n geloof is dood. ‘n Geloof wat vrug dra, help ons om goed wat onmoontlik mag lyk, te kan regkry.
Dis wat Jesus hulle leer wanneer Hy vir hulle sê dat hulle berge sal kan versit. Daarmee bedoel Jesus nie noodwendig net groot goed nie. Ek dink ons maak baie keer die fout om te dink dit gaan hier oor groot goed. Jesus gebruik hierdie simbolies om ons te leer dat goed wat onmoontlik of onoorkombaar vir ons lyk, moontlik is as ons geloof het wat vrug dra. Dus geloof wat werklik ‘n verskil maak.
Wat is daar in jou lewe wat onmoontlik lyk wat God graag wil hê jy moet regkry?
Miskien is dit iemand wat jy moet vergewe; dalk is dit iemand of ‘n gebeurtenis wat jy sukkel om te aanvaar; dalk is dit omstandighede wat jou tans vasgevang hou; dalk is dit seer van die verlede wat sukkel om te genees.
Weet dat die Here vir ons elkeen die krag, genade en liefde deur geloof gee om al die berge in ons lewe te bowe te kan om.
Gebed: Here, dankie dat U my help om in geloof te groei. Here help my dat ek vrug sal dra en dat ek nooit sal vergeet dat U die onmoontlike, moontlik kan maak nie. Amen.
Eredienste
Sondag 3 Spetember
- 08:30 – Oggenddiens
Prediker: Dr. Jean Strydom
Tema: Toegewyd aan GodEk nooi jou uit om Sondag te kom luister oor presies wat ‘n lewe van toewyding aan God behels. Hoe kry ek dit reg? Wat is die effek daarvan op my lewe? My gebed is dat die Here jou persoonlik sal voorberei vir Sondag se boodskap sodat jy die volheid van Sy teenwoordigheid in jou lewe sal ervaar. Baie sterkte vir die res van jou week.GroeteDr. Jean StrydomDaar is hierdie Sondag ook Jeug, Kinder en kleuterkerk, waar dieselfde tema met ons kinders behandel word – uiteraard op hulle vlak.
- 18:00 – Koinonia byeenkoms (Chris Mostert)
Vetkoekverkoping
Die vetkoekverkoping was ‘n reuse sukses! Die projek het ongeveer R30,000 se fondse gegenereer vir die gemeente! Ons hartlike dank aan die span wat so hard gewerk het om van hierdie projek ‘n sukses te maak!
Gemeentekamp 8-10 September
Die kamp lê nou om die draai, en dit vind hierdie jaar weer by Mankele plaas. Die gemeentekamp is vir almal – oud en jonk. ‘n Geleentheid wat u beslis nie moet mis nie!
Ons gaan leer juksei speel, kook en op die koop toe is daar sommer ‘n lekker vet prys te wen!
As jy belangstel kontak vir Belinda by 0836355480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za vir verdere inligting.
Die lidmate wat nie wil kamp nie maar in die huisies wil bly moet self met Mankele reël by 0788010453.
Kom kamp saam!
Koeksisters!
Daar is heerlike koeksisters beskikbaar teen R40 per dosyn. Betaal by die kerkkantoor en haal dit dan Sondag na kerk af by Koffie@Suid. Fondse is ten bate van die Seniorbediening se Kersfeesete aan die einde van die jaar. Kontak Susan by 084 964 2847 of Ds Louis by 082 878 1743 indien jy enige navrae het.
Jeugbediening
Bybelskool vir Tieners
Woensdae van 18:00-19:00 in die kerk se Lapa. Hierdie is ‘n lekker geleentheid om meer van God se Woord te leer.
Juventas vir Laerskoolkinders
Donderdae van 18:30-20:00 in die kerk se Lapa. Kom loof en dien die Here al spelende.
Huis Betlehem – Gholfdag op 28 September 2017 @ Nelspruit Gholf Klub
Nelspruit-Suid ondersteun altyd Huis Betlehem, daarom dat ons hierdie Gholfdag aan julle bekendstel.
Indien daar iemand is wat hierdie dag wil borg kan u net vir Ann van der Merwe skakel by 060 783 8941 of epos by annvdmerwe@yahoo.com.
Daar sal eersdaags meer inligting rakende hierdie Gholfdag in die midweek verskyn.
Meer volledige inligting oor borgskappe is beskikbaar, laai bloot die dokument af deur op die blou skakel hieronder te klik.
Klik hier om die dokument af te laai
Hou die datum oop – Vrydag 3 November!
Hoekom? Dis Nelspruit-Suid se Fees-Vrydag!
Heerlike saamkuier en natuurlik sal daar baie te koop en te ete wees. Onthou om jou geld vir die groot vleistafel gereed te kry. Vleis teen uiters bekostigbare pryse.
Navrae: Dr. Jean Strydom 083 572 4886
Geloofsoffer*
Waar staan ons nou?
Vriendelike versoek t.o.v. geloofsoffer:
Inbetalings t.o.v die geloofsoffer moet asseblief gespesifiseer word sodat dit korrek geallokeer kan word.
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.