29 November 2017
Boodskap
Teks: Lukas 22:7-23
Tema: Jesus se “foto”
Meeste van ons het foto’s wat vir ons baie werd is. Party se foto’s is in albums, ander s’n weer op hulle rekenaar of selfoon. Elke foto spreek gewoonlik boekdele vir diegene wat op een of ander manier ‘n verbintenis met die gebeure in die foto het. Soms is jy in die foto. Soms is jy die een wat die foto geneem het. Soms ken jy die persone of die plek in die foto baie goed.
Die waarde van fotos lê nie in die fisiese randwaarde daarvan nie. Die waarde van die fotos lê in dit waarvan die foto simbool is. Dit roep bepaalde herinneringe en emosies op. Dit laat mens terug verlang en laat mens baie keer uitsien na wat kom.
Toe Jesus op aarde was was daar nie kamera’s of video kamera’s gewees wat Jesus Christus kon afneem of verfilm nie. Daarom het ons nie fotos van Hom nie. Ons het Sy Woord, Sy liefdesbrief aan ons. Maar Jesus het nog iets vir ons nagelaat om ons aan Hom te herinner. Hy het vir ons die Nagmaal gegee. Die nagmaal behoort vir elke Christen amper soos ‘n foto te wees.
‘n Foto wat groot waarde het omdat dit bepaalde emosies en herinnerige by ons kom oproep oor wat Christus vir ons elkeen gedoen het. Die waarde lê nie in die brood of die wyn self nie, maar in die kruisgebeure waarvan dit simbool is. Daarom behoort die nagmaal vir elke Christen belangrik te wees omdat dit ons aan Christus se verlossingswerk herinner.
Laat ons dis elke keer opnuut nadink oor Jesus Christus en my verhouding met Hom wanneer ons die nagmaal vier.
Gebed:
Here Jesus, dankie dat U vir ons die Nagmaal gegee het om ons te kom herinner en te kom versterk. Dankie vir hierdie tasbare tekens wat ons geloof kom versterk. Amen
Kerssangdiens
Ons jaarlikse Kerssangdiens het Sondagaand 26 November plaasgevind. Dit was soos altyd ‘n wonderlike geleentheid waar die gemeente heerlik saam kon sing. Hierdie jaar is daar ook gefokus op die bydrae van kinders tydens die diens, met o.a Leané Pienaar wat die voorlesings uit die kinderbybel gedoen het.
Mens besef nie altyd hoeveel ure se werk in die inoefening van items ingaan nie. Aan elke lid van die musiekgroep, wat ons deur die program begelei het, baie dankie vir julle toewyding.
Kan jy dalk help?
Ons is DRINGEND opsoek na verblyf vir ‘n senior enkellopende dame van ons gemeente. Sy het ‘n troeteldier wat ook geakkommodeer moet word. Sy kan R1,000 per maand bekostig. Indien jy dalk oor die nodige geriewe beskik (of weet van iemand wat kan help), kontak asb vir dr. Jean Strydom (083 572 4886).
Projek 500
Ons herinner jou net weer aan ons Projek 500 wat hierdie Sondag ten einde loop.
Met projek 500 wil ons ten minste 500 geskenkpakkies insamel en aan behoeftige senior mense in ons gemeenskap uitdeel.
Jy kan letterlik enige iets in die pakkie sit. Wenke: Toiletware, lyfroom, handeroom, tandepasta (tandeborsel ook welkom), waslappie, koekies, sagte lekkertjies, ens. (Verkieslik nie sjokolade, biltong/droëwors of ander bederfbare produkte nie)
Bruinpapiersakke is by die kerkkantoor en Sondae by die kerkdeure beskikbaar. Bring asseblief die pakkies na die kerkkantoor/kerk voor of op Sondag 3 Desember.
Garage Verkope: Vrydag 1 Desember 2017
Maak bietjie skoon vir Desember!
Bring jou ou klere en kombuisware vir ons jaarlikse Garage Verkope.
Kontak: Susan 084 964 2847
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.