Hierdie week se boodskap

 

Tema: Om God te kan sien
Skriflesing: Lukas 24:13-35

Emmaus en Jerusalem – Kan jy soms jouself met hierdie mense se gemoedstoestand vereenselwig? Voel jy soms of jou persoonlike lewe, jou werk, al die negatiewe dinge wat in die land en in die kerk gebeur, net vir jou te veel raak? Jy sukkel dalk om die lewe te balanseer tussen jou man of vrou, jou kinders, jou familie, jou vriende en die hond. Jy jaag jouself dood van die een dag na die volgende. En dan kom vertel die kerk vir jou dat jy net moet glo en alles gaan oukei wees.

Boonop is dit bitter moeilik om sin te maak uit verhale soos dié oor Jesus se opstanding, sy Hemelvaart en ’n paar van die wonderwerke. Ja, vir baie mense is dit ’n groot uitdaging om in óns tyd nog “naïef” te glo. Dit is moeilik om elke dag God of Jesus by jou en in ons wêreld raak te sien. Meestal kyk ons rondom ons en, soos die Emmausgangers, sien ons net na voor en na agter ’n stofpad – ’n pad wat gewoon huis toe lei ná maar net nóg ’n dag, nóg ’n week, nóg ’n jaar.

Ons het almal ’n Jerusalem en ’n Emmaus. Jerusalem is die plek waar jy God ervaar, waar jy vermoed dat jy Hom kan sien. Dit kan die kerkgebou en die erediens wees; vir party mense is dit eerder hulle gunstelingplek in die natuur; en vir nóg ander is dit hulle tyd van stilword in die oggend of die aand.

Emmaus is weer die plek waarheen ons vlug wanneer ons vermoed dat ons God nie meer kan sien nie. Dit is die plek waarheen ons gaan wanneer ons dié teleurstelling ervaar. Dit is die plek waarheen ons gaan wanneer ons, soos Kleopas en sy medereisiger, moedeloos raak. Soms is Emmaus vir ons ’n rekenaarskerm en ’n klomp werk; soms is dit ’n lazyboy-stoel en ’n afstandbeheerde televisie; Emmaus is soms ’n kroeg en ’n paar brandewyne; Emmaus is vir ander ’n besige, raserige inkopiesentrum en ’n kredietkaart. Vir sommiges is Emmaus ’n terugtrek in hulle eie gedagtes.”

Ja, ons het almal ons Jerusalem en ons Emmaus. Soms ervaar ons dat ons nie meer vir God in ons Jerusalem kan sien nie… dan maak ons dieselfde fout as wat Kleopas-hulle gemaak het: Ons verwag ook nie veel van ons Emmaus nie.

Jesus loop die pad met die Emmausgangers, as ’t ware met sy hand op hulle skouers, maar hulle sien Hom nie. Om hulle te láát sien, om hulle oë oop te maak vir God se nabyheid, doen Jesus iets met hulle: Hy vat hulle deur ’n proses sodat hulle op ’n nuwe manier na die wêreld kan kyk. Ons kan amper sê Jesus doen met hulle ’n oefening om God te leer sien. Hy neem die Jerusalem-ervaring na hulle Emmaus toe.

Die vyf stappe waarmee ons hier werk, is dinge wat ons ook in die erediens vind, maar wat ’n mens ook in jou lazyboy sou kon ervaar. Allereerste is daar die faktor van gemeenskaplikheid of saamwees. Kleopas en sy medereisiger deel hulle twyfel met hierdie “onbekende” man langs die pad. So is die twee saam in die teenwoordigheid van die opgestane Christus, en dus in gemeenskap.

Dit is soos wanneer gelowiges op ’n Sondag byeenkom in die erediens met al hulle twyfel en vrae en hartseer en geluk. Gelowiges kom byeen in die erediens, maar wat hierdie verhaal ook vir ons wil leer, is dat Jesus Christus, die opgestane Here, self ook in die erediens teenwoordig is. Die opstanding van Jesus beteken juis dat Jesus só opgestaan het dat Hy elke sentimeter en elke sekonde van hierdie wêreld met sy opgestane heerlikheid vul.

Dit beteken dat ons net so naby aan die opgestane Here Jesus is as Kleopas, sy medereisiger, Petrus, die vroue en die ander dissipels wat Hom destyds eerstehands gesien het. In ’n samekoms soos die erediens is gelowiges tegelykertyd in gemeenskaplikheid met mekaar én met die opgestane Here Jesus. Wanneer ’n mens dit weet en glo, is jy reeds ’n hele stuk nader daaraan om God, soos vergestalt in Jesus, in jou lewe te herken. Dan dink jy nie meer aan Hom as ’n man wat iewers ver weg van jou af “aan die regterhand van die Vader” sit “nie. Jy word bewus daarvan dat Hy nóú, hiér by jou/my/ons teenwoordig is.

Die volgende gebeurtenis op die pad na Emmaus is dat die Here Jesus vir hulle die Skrifte open en verduidelik hoe die wet, die profete en die psalms op Hom betrekking het. Ons kry hier dus die ekwivalent van die Skriflesing en prediking soos ons dit op Sondae in die erediens terugvind. Jesus se heerlikheid kom via Golgota. En dit is ook wat die prediking behoort te wees: ’n verkondiging van Jesus Christus as ons Verlosser, maar spesifiek as Christus die Gekruisigde.
Dan antwoord die Emmausgangers op Jesus se “prediking” met een van die oudste gebede in die Christelike tradisie, naamlik: “Bly by ons, want dit is amper aand en die dag is al verby” (Luk 24:21). Deur al die eeue was dit ook die aandgebed in die kloosters. Die woorde verteenwoordig vir ons die gebed van mense. In die erediens bid ons ook voor en na die prediking in afhanklikheid van God en vra Hom om in die erediens en ook in die komende week by ons te bly. Op die gemeente se saamwees in die kerk volg die prediking en dit loop uit op gebed.

Ná die gebed breek Jesus die brood. Dit vra nie veel verbeelding van ons om in te sien dat hier sprake is van die nagmaal nie. Hulle sit saam om die tafel, en Jesus neem die brood, vra die seën, breek en gee dit vir hulle. Daar in die brood by die tafel kry ons vir Jesus. Aan tafel sien ons die opgestane Here. Maar weer eens, net soos in die prediking, sien ons Hom nádat die brood gebreek is. Sy liggaam is gebreek en dan sien ons Hom.

Die laaste element van die verhaal is die feit dat die Emmausgangers, na die gemeenskaplikheid, die prediking, die gebed en die nagmaal, in beweging kom. Ook dít kan vergelyk word met die laaste beweging in ons eredienste: die uitspreek van die seën en die uitstuur van die gelowiges. So eindig ons eredienste ook nie wanneer die seën uitgespreek is en die “Amen” gesing is nie. Nee, dan begín die erediens van die lewe.

Dan gaan leef ons dit wat ons beleef het. Dan gaan ons uit, want ons het God gesien en ons kán nie daardie belewenis vir onsself hou nie. Lukas 24 gee ons inderdaad goeie raad oor hoe ons God, spesifiek die gekruisigde en opgestane Here Jesus, in hierdie wêreld kan sien en ontmoet.

Emmaus sê dat die God van die Bybel onsigbaar is sonder die kruis. Die God van die Bybel openbaar Hom dikwels in jou Emmaus. As ons dít besef, kan ons op dié manier na die wêreld begin kyk en vir God op die (on)gewone plekke in ons lewe soek. Emmaus daag ons uit om die opgestane Here op elke plek en enige tyd te ontmoet. Die erediens van Jerusalem maak ons oë oop om God te sien, maar ons moenie die erediens van Emmaus onderskat nie. Ook, en juis wanneer ons die stofpad vat na ons eie Emmaus, dan stap Jesus die pad op ’n besondere wyse sáám met ons.

Gebed: Here, dankie dat te midde van onsekerhede en omstandighede wat buite ons beheer is, ons kan weet en vertrou dat U, die God is wat die pad elke dag saam met ons stap met U hand op ons skouers. Lei ons deur U, Gees, om ook in hierdie tyd U raak te sien vir wie U werklik is en mag dit ons inspireer en bemoedig om elke dag uit te gaan en die ‘erediens van die lewe’ te gaan leef in ons Jerusalem en Emmaus. Word verheerlik deur ons lewens. Amen.

Klik hier om na die volledige boodskap te luister.

 

Knie-Aksie

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.

Ria Lourens
Marie Pretorius
Annatjie Minnaar
Louise Combrink
Ciska Le Roux
Lulu Pelser

Bid asb vir lidmate wat tans in die hospitaal is:

Elize Steenkamp
Fanie Sholtz
Phyllis Meyer
Deon – familielid van Zelda en Vernon Paul
Bernie Jordaan