Hierdie week se boodskap

 

Tema: Op reis saam met God

Teks: Eksodus 33

Boodskap: Om te reis is ‘n voorreg, of jy binne die grense van Suid-Afrika of in die buiteland reis, jy ontwikkel as mens vanweë al die ervaringe wat jy opdoen. Die Bybel sê baie duidelik dat ek en jy pelgrimsreisigers is. Ons weet dat ons op reis is deur die lewe en dat ons ook nie vir ewig op aarde sal wees nie. Een of ander tyd bereik ons aardse reis sy eindpunt. Psalm 139 sê dat al ons lewensdae in God se boek opgeskryf is. Binne die Eksodusverhaal lees ons dat Israel ‘n behoefte gehad het om verlos te word uit hulle slawerny van reeds 400 jaar. Dit was hulle droom, dit deel van hulle gebede gevorm. ‘n Hulpgeroep tot God. God het egter ook ‘n plan met die volk gehad naamlik om hulle te bevry en te neem na die beloofde land toe. Binne die reis na die beloofde land, wou God dat die volk Hom leer ken as God. Dit was ‘n belangrike deel van hulle reis. Ja, dit het die volk 40 jaar geneem om God waarlik te leer ken.

God wil ook graag saam met jou reis deur jou lewe. Hy wil ook dat jy Hom nog beter leer ken. Hy wil jou medereisgenoot wees, maar eintlik meer as dit. Hy wil ook jou Navigator wees tydens jou reis op aarde. In Eksodus 33 vind ons die gesprek tussen God en Moses en waar Moses dit baie duidelik stel dat hy en die volk nie bereid is om te trek as die Here nie saamgaan nie.

Tot watter mate vorm die Here deel van jou lewensreis? Is Hy waarlik jou Navigator? Is jy ook soos Moses wat vir die Here sê dat jy nie bereid is om hierdie jaar en jou lewensreis sonder Hom aan te durf nie?

My gebed vir jou is dat jy sommer vandag nog die Here saam jou sal neem as Navigator van jou aardse reis. Mag jy God opnuut ontdek as jou Verlosser, Versorger en Voorsiener.

Gebed: Here dankie dat U saam met ons op reis wil gaan sodat ons U beter kan leer ken. Here kom wees U die Navigator van my lewe. Amen

Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister.

Jeug

 

 

 

Gemeentebediening

Koffie@Suid

 

 

Elke Sondag, behalwe in skoolvakansies, bedien die gemeentebediening lekker filterkoffie, kitskoffie, tee en sap by Koffie@Suid. Dit is ‘n lekker kuier geleentheid na die erediens.

 

Die Gemeentebediening benodig egter helpers om Sondae suksesvol te funksioneer. As jy voel jy wil betrokke raak, kontak gerus vir Belinda by  083 635 5480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za.

 

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit