Hierdie week se boodskap

 

 

Tema: Sekerheid in onseker tye

Teks: Johannes 14:15-31

Boodskap:

Ons lewens is in baie opsigte baie deur mekaar gekrap met die gebeure van die afgelope tyd. Vir baie van ons voel dit of ons beheer oor ons eie lewens verloor het.  ‘n Klomp van dit wat ons so maklik as vanselfsprekend aanvaar het, is ewe skielik in ‘n groot stuk onsekerheid gehul.

Mense se finansies, gesondheid, beplanning en selfs toekomsdrome is ewe skielik nie meer so seker nie. Verder besef ons as mense opnuut dat ons meer broos is as wat ons noodwendig wil erken. Al hierdie onsekerhede maak dit ekstra moeilik vir ons. Meeste mense hou van sekerheid hê.

Gelukkig is daar ‘n paar sekerhede wat geen regeringsbesluit, natuurramp of pandemie van ons kan wegneem nie. Ja, daar is niks in hierdie skepping wat dit van ons kan wegneem nie.

“Ek gee hulle die ewige lewe en hulle sal in alle ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” – Johannes 10:28

Ten midde van al hierdie onsekerhede, bly God die sekerheid in ons lewe.

Niks of niemand, ja, selfs nie ‘n ongekende virus pandemie, kan jou uit God se hand ruk nie. Net jyself kan kies om weg te beweeg van God af en Sy hand te los.

Dis die een ding waaroor niemand die beheer van jou kan weg vat nie. Die beheer bly jou jou hande.

Ja, dit gaan dalk ons lewens vir altyd verander – Ons gaan dalk van ons drome en ideale moet opoffer. Ons gaan dalk ‘n klomp aardse goed verloor, maar niks of niemand kan van jou af wegneem dat jy ‘n Kind is van die Almagtige God nie en dat jy die ewige lewe het nie.

Johannes 6:47 “Dit verseker ek julle: Wie in My glo, het die ewige lewe.”

Ons kan vashou aan God se beloftes in hierdie onsekere tyd. Al verstaan ons nie hoekom God dit toe laat nie. Al verstaan ons dalk nie nou mooi God se plan met ons lewens nie.  Al sukkel ons dalk om sin te maak in hierdie onsekere tye. Moet ons aanhou om God se hand styf vashou en naby Hom leef.

God is al een wat ons deur hierdie krisis tyd kan dra. Ons het nie nodig om te probeer om vanuit ons eie krag staande te bly nie. God is die een wat vir ons die nodige krag gee en ons geestelik veilig hou en bewaar.

“En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.” – 1 Petrus 1:5

 

GEBED:

Hemelse Vader. Dankie dat U vir ons sekerheid en rustigheid bring in onsekere, onstuimige tye. Dankie dat ons weet dat U met U krag ons vashou in hierdie tyd. Help ons dat ons nie U hand sal laat los nie. Amen

Om na ‘n opname van hierdie boodskap te kryk, klik hier

 

Whatsapp Groepe

Liewe lidmaat,

Ons leef in uitdagende tye. In hierdie tyd moet ons die elektroniese media soveel moontlik gebruik. Ek stuur weer 2 skakel vir jou wat jy asb vir lidmate kan aanstuur wat dalk nog nie op een van ons Whatsapp groepe is nie. Dis belangrik vir ons om kontak te behou. Ek stuur 2 skakels. Hulle kan enige een vd 2 kies. Indien die een vol is kan hulle net die ander een kies.

Groete.
Leraars

https://chat.whatsapp.com/FS3TTtNZNI8JE0amsqL3Kr

https://chat.whatsapp.com/IYVAtZTFnivJ7JOa8IDzfl

 

 

Maskers

Wil jy graag help met die maak van maskers?

Kan jy dalk material hiervoor skenk?

Die kerk sal help met die verspreiding van maskers na behoeftige mense.

Kontak asb vir Ds Louis by 082 878 7143

 

Koskas

Die kerk se koskas raak vinnig leeg, meer kospakkies word aan mense uitgedeel.

Indien jy graag ‘n bydrae wil maak:

  • Kan ‘n donasie inbetaal word in die kerk se rekening, duidelik gemerk as “Kospakkies”
  • Nie-bederfbare blikkies of klein pakkies kos kan by die kerk afgegee word Maandae en Vrydae tussen 8:00 en 10:00.

 

Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit