28 Februarie 2018


Boodskap vir die week

Teks: Johannes 15:1-8

Tema: Ek is die ware wingerdstok

Boodskap: In Jes. 5 en Jer. 2 praat die Here oor Israel wat soos ‘n wingerdstok is. Hy het die grond mooi voorberei en die wingerdstok geplant, maar die druiwe wat dit voort gebring het was suur. Jeremia 2 beskryf dat die wingerdstok in onkruid verander het. Die volk het dus nie die vrug getoon soos die Here verwag het nie. Hulle het ontaard is iets anders.

In Johannes 15 kom Jesus en sê vir die mense dat Hy die ware wingerdstok is. Die mense is nou die lote en nie meer die wingerdstok nie. Elke loot wat aan Hom verbind is sal nie suur druiwe voorbring nie, maar eerder kwaliteit vrugte dra.

Jesus praat verder met ons as lote. Hy noem vyf keer dat ons aan Hom vas/verbind moet wees (lees ook Kol. 2:6-15). Hierin lê ‘n diep geheimenis. Ons kan nie vrugdra as ons nie aan Hom vas is nie. Die nodige voeding/lewensappe word dan aan ons gegee. Tog noem Hy dat die Vader ons ook gaan snoei sodat ons nog meer vrugte kan dra. Dis nie altyd lekker nie, maar baie nodig.

Die doel van snoei en in Hom bly, is dat ons vrugdra. In die konteks van 8 verse word vrugdra agt keer genoem. Vrugdra tot eer van die Vader wat die boer is. Hoe lyk die vrugte wat jy dra? Vertel dit iets van jou verhouding/verbintenis met die wingerdstok (Jesus)? Word jy tans gesnoei? Onthou dat die Vader vrugdra in gedagte het. Leef opnuut vanuit jou verbintenis met Jesus!

Gebed: Vader dankie dat U my belange op die hart dra. Snoei my wanneer U dink dis nodig sodat ek nog meer vrug kan dra. Amen.


Erediens Sondag 4 Maart

Leraar: Ds Louis Pienaar

Tema: Ek is die goeie Herder

Teks: Johannes 10:1-12

 

 


Bybelstudie: Rubicon Aftree-oord

Almal in Rubicon Aftree-oord word hartlik uitgenooi na ‘n nuwe Bybelstudiegroep wat begin word in Rubicon.

Die Bybelstudie sal Donderdae om 10:00 plaasvind.

Meer Inligting: Ds. Louis Pienaar – 082 878 1743

 


 

Ons almal weet hoe moeg ‘n mens kan wees op ‘n Vrydag! Al wat jy wil doen is, skoene uit skop, die gesin in die oë kyk en rustig raak. Natuurlik is almal in die gesin honger en dan moet daar eers kos gemaak word.

Vir Vrydag 2 Maart het ons vir jou en jou gesin ‘n oplossing. Daar sal Vrydag, 2 Maart, ‘n Hamburger drive-thru by die kerk wees. Dit is ‘n Lekker hamburger en ‘n koeldrank vir net R50.

Jy kan kaartjies met kontant kom koop by die kerkkantoor vir die geleentheid. Die ander opsie is om Sondag na kerk kaartjies te koop by die jeug afgevaardigde. Ondersteun ons jeug en kom geniet jou Vrydag sonder die stress van kos maak.

 


Seniorbediening Nuus

Skon en tee oggend: 11 Maart

Alle seniors word uitgenooi om saam met die gemeente te kuier volgende Sondag na die erediens by Koffie@Suid.

Ons gaan heerlike skons, tee,filterkoffie, kitskoffie en sap hê.

Kom bring ‘n vriend of vriendin en kom kuier saam!

 

 

Senior verjaardae

Ons het by die volgende seniors ingeloer met albei wat 84 jaar jonk geword het:

Tannie Lizzie van Staden het op 17 Februarie en oom Gideon du Plessis op 23 Februarie verjaar.

 

Dinsdagoggende Senior Kuier

Ons nooi alle seniors om Dinsdae oggende om 10:00 saam te kuier by die kerk. Ons kuier, maak mooi goedjies, brei, hekel en ontmoet nuwe mense.

Verlede Dinsdag het ons handewerk gedoen.

Hierdie week het ons blikkies geverf, versier en pietersielie en kappertjies geplant.

Daar is reeds 4 kombersies wat aanmekaar gehekel is van die blokkies wat die seniors die afgelope tyd gebrei het. Hierdie kombersies sal later na Huis Betlehem geneem word.

Indien enigeen betrokke wil raak by die seniorbediening, kontak gerus vir Susan van Huyssteen by 0849642847.


Jong Volwasse selgroep

Is jy dalk ‘n jong avontuurlistige volwassene in hierdie wilde woeste wêreld? Is jy opsoek na ‘n plek waar jy net kan behoort?

By die jong volwasse selgroep kom dié wat klaar met skool en onder 30 is bymekaar om vriende te maak en om saam met ander – wat dieselfde dink – te praat oor God se Woord. Natuurlik kuier ons saam met mekaar en saam met die Here.

Join ons op Dinsdae aande om 18:30 in die lapa by die kerk. Kontak Johan Koen 082 393 2944.

Bybelskool

Bybelskool word gerun op ‘n “vir die tieners – van die tieners” basis. So is jy dalk tussen die ouderdom van 13 en 18? Hier is vir jou ‘n geleentheid om te hoor wat die Here sê en om ook jou insette te lewer tussen mense wat na jou gaan luister.

1 Timoteus 4:12 en 14 sê: “Niemand mag op jou neersien omdat jy jonk is nie, maar wees jy vir die gelowiges ‘n voorbeeld in woord en gedrag, in liefde, geloof en reinheid.” “Moenie die genadegawe wat jy het, verwaarloos nie…”

Juventas

Ons nooi al die Gr. 1-6 ouers uit om op Donderdae aande hulle kinders Lapa toe te bring om saam te kom speel, die Here te loof en Prys en te hoor wat sê die Bybel.

Ons wil ook Juventas se veiligheid opskerp, daarom vra ons elke ouer om die kinders te registreer sodat julle kan weet dat julle kinders veilig is.

Dit is so belangrik dat ons die kinders leer van Jesus want Hy het self gesê “Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle.” (Lukas 18:16)


Groete & seënwense,

Jean, Louis en Johan


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.