Hierdie week se boodskap
Tema: Dankbaarheid as Lewenswyse
Teks: Kolossense 3:1-17
Boodskap:
Die gedeelte handel oor die ou en nuwe lewe en verskillende fasette daarvan. Kolossense 3 begin met dit wat God vir ons elkeen kom doen het. Hy het iets vir ons gedoen wat niemand anders vir ons kon doen nie. Hy het met sy lewe vir ons sondes betaal.
Omdat God hierdie dinge vir elkeen gedoen het, moet elkeen sy ou lewe laat staan en ‘n nuwe lewe begin leef.
Vers 9 en 10 is eintlik baie mooier in die oorspronklike teks as wat dit vertaal is in die 1983-vertaling.
“aangesien julle die ou mens en sy gewoontes uitgetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, en die nuwe mens aangetrek het, at tot volle kennis en na die beeld van sy Skepper vernuwe word.”
Ons moet die ou lewe uittrek soos ou, vuil klere en die nuwe lewe aantrek soos nuwe skoon klere. Nuwe skoon klere wat deur God aan ons geskenk word. Een van die elemente van ‘n nuwe lewe wat veral in die laaste verse sterk na vore kom is die element van Dankbaarheid. Dankbaarheid teenoor God. Dankbaarheid vir die ou klere wat jy kon uittrek en nuwe klere wat jy kon aantrek.
Dankbaar vir wat jy het en wat jy in Christus Jesus is.
As ons skoon klere aantrek, moet ons volledig probeer skoon aantrek. Dit help nie ons trek net ‘n skoon hemp aan as al ons klere vuil is nie. Ons kan nie sekere dinge van die ou lewe uittrek en sekere dele hou nie. Ons kan nie skoon klere bo-oor ons vuil klere wil aantrek nie.
Daarom sien ons in Kolossense 3, dat meeste van die aspekte van ‘n nuwe lewe, onderling met mekaar verweef is en nie losmaakbaar van mekaar af is nie.
Dankbaarheid lei tot Vergenoegdheid aangesien ek fokus op wat ek het en nie op wat ek kort of graag wil hê nie. Dankbaarheid maak dat ek meer vreugde en vrede in die lewe ervaar. Dit maak dat ek die mooi in die lewe meer gereeld raak sien.
Hierdie is meer as om net met tye Dankie te sê. Dit gaan oor ‘n lewenswyse. ‘n Ingesteldheid van ‘n dankbare lewe. Dit gaan om te fokus op God en op alles wat God vir ons doen en nie die heeltyd te fokus op wat ek nog nie het nie.
Een van ons uitdagings is dat ons in ‘n wêreld leef wat baie ondankbaar geraak het. Daar is so baie goed wat mense deesdae as hulle regte toe-eien. So baie goed wat mense maar as vanselfsprekend aanvaar. Dit maak dat ons nie volkome in afhanklikheid van God leef nie en ook nie waarlik ‘n lewe van Dankbaarheid leef nie.
Kom ons leer ons kinders en kleinkinders baie meer as maar net om “Dankie” te sê.
Kom ons leer hulle waarom en hoe om ‘n lewe van Dankbaarheid te leef
Kom ons elkeen kies vandag opnuut om ‘n lewe van dankbaarheid te leef.
Dankbaarheid te leef wat uit my hart uit kom en gevestig is in my verhouding met God.
Gebed: Here, ek besef opnuut hoeveel daar in my lewe is waaroor ek dankbaar kan wees. Dankie, Jesus dat U vir my ‘n nuwe lewe moontlik gemaak het. Heilige Gees help my werklik ‘n lewe van dankbaarheid te leef.
AMEN
Vir volledige video van die preek, klik hier.
Knie-aksie
- Marietjie Craig
- Delport Davel
- Helen Ellis
- Joye Crous
- Juvé Geldenhuys
- Lidmate wat tans Covid het en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.
Program vir die week
Katoen Uitreik
Dankie vir elkeen wat ‘n bydrae gemaak het vir Katoen.
Ons kon die afgelope Saterdag verskeie items aan hulle verskaf het:
- Tuingereedskap en saad vir hulle Groentetuin.
- Gereedskap en skroewe/spykers ens. vir herstelwerk aan hulle blyplekke.
- Materiaal en wol vir kleremaak projek.
- Leesboeke, legkaarte en skryfbehoeftes vir die kinders.
- Potte, mikrogolf en wasmasjien.
- Sjampoo en ander toiletware.
- Genoeg kos vir ongeveer 2 weke se etes.
Ons het middagete met ‘n roomys vir elkeen kon gee. Daar is met die kinders gespeel en saam met hulle geverf. Daar is gekuier en gesels met van die inwoners en ‘n paar pastorale gesprekke gevoer. Behoefte bepalings is gedoen en ons beplan verdere projekte daar.
Die nood bly groot onder die mense. Daar gaan op gereelde basis uitgereik word na Katoen.
Gemeentelede is welkom om steeds goed te skenk vir Katoen of om ‘n kontant donasie in die kerk se rekening in te betaal. Merk dit net duidelik vir Katoen.
In verlede week se gelukwense is berig dat Marius Pretorius verjaar, dit moes Marie wees. Ons vra verskoning vir die fout.
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit