Hierdie week se boodskap

 

 

Tema: Loop op die water

Skriflesing: Matt. 14:22-32

Boodskap:  Hierdie jaar is vol uitdagings, maar ook baie geleenthede. Geleentheid om die Here beter te leer ken asook groeigeleenthede. Hierdie teks is ‘n verhaal van hoop. Jesus het sopas die slegte nuus oor Johannes die doper se dood ontvang. Hy wou net alleen wees, maar die skare het Hom agtervolg. Ons sien dan iets van Jesus se hartklop, dat Hy omgee. Die hele dag lank genees Hy mense, leer hulle en einde te laaste die wonderwerk waar Hy meer as 5000 mense voed met 5 brode en 2 visse. Op ‘n stadium teen laat skemer stuur Hy sy dissipels uit op die meer om na die oorkant toe te roei.

Dalk het Jesus hier reeds in gedagte gehad dat dit wat hulle die hele dag sien gebeur het, nou prakties toegepas moet word. Dis nou tyd dat hulle geloofstree gee. Ons persepsies moet ook uitgedaag word in terme van praktiese geloofsgroei. Die dissipels word gekonfronteer deur ‘n geweldige storm en boonop sien hulle sien iets op die see aangestap kom. Eers dink hulle dis ‘n spook, maar dan word hulle gekalmeer deur Jesus se woorde:”…wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie…”.

Mag hierdie woorde wat Jesus vir die dissipels gesê het midde die storm ook jou rustig maak binne jou storms. Toe Petrus besef dis Jesus, het hy gewaag om uit die bootjie te klim. Tree vir tree kon hy op die water loop tot hy sy oë wegneem van Jesus af. Gelukkig was Jesus daar om hom te red. Petrus het gewaag en Jesus was daar saam met hom.

Om te waag saam met Jesus is nie altyd so eenvoudig nie. Jy moet die eerste geloofstree gee. Jy moet jou eie vrese oorwin en weet dat Jesus groter en sterker is as jou vrese. Weet net dat Jesus saam met jou is hierdie jaar en mag Sy woorde heeltyd weerklink in jou ore:”…wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie…”.

Gebed: Here dankie dat ek uit die verhaal kan leer dat U daar is vir my in stormagtige tye. Amen

Vrae vir verdere bepeinsing:

  • Wat is jou grootste vrees vir hierdie 2021?
  • Hoe het die Here jou in die verlede al bygestaan?
  • Hoe laat Jesus se woorde jou voel:”…wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie…”.
  • Wat dink jy is nodig sodat jy ‘n geloofstree sal gee?
  • Gesels met Jesus oor jou vrese en laat toe dat Hy jou innerlik rustig maak.

 

 

Klik hier om na die volledige boodskap te luister.

 

 Knie-Aksie

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.

  • Marie Pretorius
  • Hugo Hamilton
  • Morné Van Der Merwe

Bid asb vir diegene wat tans in die hospital is:

  • Leon Steenkamp
  • Ds Gerrit Vosloo

Medelye

Medelye word betoon met die families en geliefdes van diegene wat tydens die vakansie weggeval het:

  • Leon Brugmann
  • Babs Vermeulen
  • Christa Schutte
  • Nic Cronje
  • Freek Schnetler
  • Job Maritz
  • Gerhard en Amanda Louw, na die afsterwe van beide Amanda se ouers
  • Leon Lourens na die afsterwe van sy moeder

 

Nuwe Bybelstudiereeks: Die Hoëpriesterlike Gebed

 

 

 

KLIK HIER om die elektroniese weergawe van die boekie af te laai

Boekies sal ook by die kerkkantoor beskikbaar wees.

 

 

 

 

 

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit