Hierdie week se Boodskap
Tema: Kruipende skoenlappers
Teks: Ef. 4:17-24
Boodskap: Elkeen van ons sukkel van tyd tot tyd om te lewe wie ons is. As wedergebore kinders van God is ons veronderstel om te lewe soos wat God van ons verwag. Paulus som dit vir ons mooi op in Rom 7: 22vv as hy die spanning wat ons beleef in hierdie gedeelte saamvat. Sy oplossing is dat dit net Jesus is wat ons van hierdie doodstyd kan verlos.
Die vraag is sekerlik hoe kan ek dit regkry om my nuwe karakter ten volle uit te leef? Paulus sê dat ek en jy voortdurend die ou mens moet afsterwe. Dit het nie net gebeur toe jy jou lewe vir die Here oorgegee het nie, dit moet daagliks gebeur. Sterf daagliks in jouself, die eie ek asook jou destruktiewe gedrag en denke. Paulus sê voorts dat jy dan terselfdertyd ook al die eienskappe wat by jou nuwe menswees pas moet aangryp. Hy sê dat jy jouself daarmee moet beklee. Jy moet dit deel maak van jou lewe. Die afsterf van die ou mens en die opneem van die nuwe mens is ‘n lewenslange proses.
Hy sê dat ook dat jy dit nooit uit eie krag kan regkry nie. Jy kan dit slegs regkry deur die werking van die Heilige Gees. Gaan lees gerus Rom 8:13 en pas die teksgedeelte toe in jou lewe. Jy kan ook gaan kyk na Titus 2:11-13 en Kol. 2:10, 15. Hierdie gedeeltes sal jou help om oorwinnend te leef.
Gebed: Vader dankie dat ek ‘n nuwe mens is. Heilige Gees help my om deur U werking elke dag te sterf in myself en die karaktereienskappe van die nuwe mens op te neem.
Om na ‘n volledige klankbaan van hierdie preek te luister, KLIK HIER.
Preekopnames
Die gemeente beskik nou oor ‘n eie YouTube rekening wat dit moontlik maak om klankopnames van preke beskikbaar te stel.
Skakels na die onderskeie preke is op ons webblad beskikbaar.
Klik hier om na preke te luister
Gemeentekuier 24 Februarie
Baie dankie aan die Gasvryheidsbediening vir ‘n heerlike ete en gesellige saam kuier na die erediens.
Ons neem afskeid
Die gemeente het Sondag 24 Februarie afskeid geneem van Susan Geldenhuys. Sy tree af na sestien jaar se diens in die kerkkantoor as Senior Adminstratiewe Beampte. Ons bid haar ‘n geseënde nuwe lewensfase toe.
Daniël Mannekonferensie
Datum: 12-14 April 2019
Waar: NG Nelspruit-Suid
Vir meer inligting: Ds Louis Pienaar 082 878 1743