Eindig goed!

Teks: Heb12:11 – 2  en 2 Tim 4: 6 – 8

Boodskap: 

Die Bybel beskryf ons lewe as ‘n wedloop, nie ‘n 100m resies nie, maar ‘n marathon. En terwyl almal hierdie wedloop hardloop, gaan nie almal die wedloop goed voltooi nie. Hulle gaan ontmoedig word, hulle aandag gaan afgetrek word, hulle gaan seer kry of eenvoudig net opgee. Eventueel sal hulle hulleself vind op die kantlyn sit, met drome wat nooit gerealiseer het nie, en hulle sal opgee op God en die Godgegewe potensiaal wat binne-in hulle is.  
 
God is opsoek na gelowige bittereinders vandag. Dit maak nie saak of jy geval het nie en of jy stadig hardloop nie, God wil hê jy moet klaar maak. Vandag wil te veel gelowiges opgee, die wit vlagie waai of die wit handdoek ingooi, wanneer die lewe en geloof te moeilik raak. Om op te gee, is makliker as om te volhard.  
 
Paulus is in die tronk en hy is besig met die laaste rondte van sy lewe. Paulus het na sy lewe gekyk as ‘n offer en gesê, dat hy graag alles wat hy het vir die Here sal gee. Hy het niks terug gehou nie en dit het vir hom baie vreugde gebring. Hy het sy lewe gesien, nie sy dood nie, as sy uiteindelike daad van opoffering aan die Here. Hy was ‘n lewende opoffering, nie ‘n dooie een nie. Vir Paulus was sy doodsvonnis nie ‘n tragiese einde nie, maar ‘n oorwinnende nuwe begin, waar hy vrygemaak word van al sy laste.
 
Ons karakter word nie bepaal deur hoe goed ons wedloop begin nie, maar deur hoe ons dit klaar maak. Paulus sê: “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof” (Heb. 12:1). Ons moet daardie dinge verwyder wat ons terughou en weerhou om te wees alles wat God ons geskape en geroep het om te wees.
 
Wat ons moet verstaan is, dat God het ons uniek geskape – daarom het God vir elkeen van ons ‘n unieke wedloop geskep. Ons kan slegs die lewe leef wat God vir ons gegee het, en ons sal nie die wedloop kan voltooi tot en met ons nie ontslae geraak het van hierdie valse verwagtinge van ander mense nie. As ons gaan lewe deur ander se verwagtinge na te streef, dan gaan ons nie die beste lewe leef wat God vir ons gee nie, en gaan ons nie die wedloop, hierdie lewe van geloof goed voltooi nie. Nog ‘n hindernis is ons verlede, ons verlede is ‘n swaar gewig wat ons saam met ons dra, wat ons moeg en uitgeput maak, want ons is of swaar gelaai met skuldgevoelens en skaamte oor wat ons gedoen het, of ons is swaar gelaai met bitterheid en wrokke oor wat ander aan ons gedoen het.
 
Ons kan nie die wedloop goed hardloop sonder dat ons oë gefokus is op die eindstreep nie. As ons hierdie lewe goed wil voltooi, dan moet ons onsself herinner aan wat is by die eindstreep, en waarom ons doen, wat ook al dit mag wees waartoe God ons geroep het om te doen. Die “hoekom” bepaal so baie. As die hoekom, gekoppel is aan korttermyn doelwitte, dan sal ons stop lank voor die einde. Maar as die hoekom gekoppel is aan die lang termyn doelwitte, die ewige doelwitte, dan sal ons uithou en klaar maak tot aan die einde.
 
Moedeloosheid kom maklik wanneer ons fokus op ons gesondheid, ons skoolwerk, ons finansies, ons verhoudings, ons huwelik eendag, ons beroep wat ons gaan volg. En terwyl moedeloosheid ‘n realiteit van ons lewe is, is dit ook ‘n keuse wat ons maak. Die Bybel leer ons dat soos ‘n persoon diep dink in hulle harte, is dit wat hulle eventueel word. Moedeloosheid is die teenoorgestelde van geloof, want dit kyk na probleme vanuit ‘n menslike verstaan, eerder om na ons probleme te kyk vanuit die oë van geloof.
 
Ons probleem is ons leef in ‘n samelewing van “onmiddellike bevrediging” (instant gratification). Enige iets wat die moeite werd is om te doen, is die tyd en belegging werd wat ons daar insit. Jesus het nooit opgegee nie, selfs met die wete dat die kruis voor Hom was. Hy het die rede geweet vir die kruis, dat Hy ons plek sal inneem, en ons dood vir ons sal sterf, sodat ons die ewige lewe kan hê. Hy het die beloning geken en was daarom tot die dood toe gehoorsaam. Vir ons is dit nooit te laat nie. God is nie klaar/afgehandel met enige van ons nie en daar is ‘n lewenswedloop wat gehardloop moet word. Dit maak nie saak hoe of wanneer jy met die wedloop begin nie of hoe swak jou verlede was nie. 
 
Wat saak maak is hoe jy klaar maak. Ons mag dalk trip en val. Ons mag dalk onsself op die kantlyn van moedeloosheid sit, maar niks van dit maak saak nie. Dit gaan alles oor hoe jy weer in die wedloop kom en hardloop – en vandag is die beste tyd en plek om weer te begin.
Die antieke Grieke het ‘n wedloop in die Olimpiese Spele gehad wat baie uniek was. Die wenner was nie die een wat eerste klaar gemaak het nie. Die wenner was die atleet wat klaar gemaak het met sy fakkel nog aangesteek/aan die brand. Ek wil die lewens maraton klaar maak, al die pad met die vlam van my fakkel wat nog helder brand vir Jesus. 
 
Kyk gerus na die volledige videoboodskap by https://www.youtube.com/watch?v=NoKYqCUrx8E

 

Gebed: Liewe Heer, soms raak die lewe moeilik en uitdagend. Help ons om ons oë op U gerig te hou en om die lewenswedloop te hardloop wat voor ons is. Ons bid dit in Jesus se naam. Amen.

Vrae vir verdere studie:

• Lees 2 Tim. 4:6-8.
– Wat bedoel Paulus met “ek word alreeds as drankoffer uitgegiet”? Numeri 28:7       
  verduidelik die doel van die drankoffer, dit bied vir ons so bietjie agtergrond.
– Wat is hierdie goeie wedloop waarvan Paulus praat?
– Hoe moet ons hierdie wedloop klaar maak?
• Lees Fil. 1:21.
– Wat probeer Paulus vir ons sê in hierdie teksvers?
• Lees Fil. 3:13-14.
– Watter raad gee Paulus vir ons oor die verlede en die toekoms?
– Waarom is dit vir ons as mens dikwels so moeilik om die verlede te laat gaan en op die
   toekoms te fokus?
• Lees 1 Kor. 9:25-26.
– Paulus sê, hy hardloop elke tree met ‘n doel voor oë? Wat is hierdie doel? Is dit ook jou
  doel?
• Lees Gal. 6:9.
– Waarom moet ons nie moeg word om goed te doen nie?
– Wat dink jy word bedoel met die bestemde tyd?
• Lees 1 Tim. 4:8.
– Wat is belangriker om jou liggaam te oefen of jou geestelike lewe te voed en te
  versorg? Wat is die rede vir jou antwoord?
• Lees Matt. 24:13 & Jak. 1:12.
– Wat leer ons uit hierdie twee verskeie teksverse?
– Wat het al die bogenoemde 8 teksgedeeltes in gemeen met mekaar?
– As jy een opskrif vir al die teksgedeeltes saam moes gee, wat sou dit wees?
  

 

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:  

Marie Pretorius

Homer Neethling  

Magda Meyer

Loubeth Piek

Koos Verwey

Bid asb ook vir lidmate wat siek is. 

Mag elkeen, elke dag die Here se Sorg en Liefde ervaar.

Vriendelike groete,

Jean, Louis en Gerrit