26 Julie 2017


Welkom my ons Midweek-nuusbriefie wat ten doel het om nuuswaardige brokkies inligting rakende gebeure in ons gemeente met jou te deel.

Mag jy hierdie week geseën word met alles wat jy aanpak.


Boodskap vir die week

Tema: Geloof soos mosterdsaad

Teks: Matteus 17:20-21

Boodskap: Deur die eeue was mense gefassineer deur berge. In die Bybel speel berge ook ‘n prominente rol. In vandag se lewe verteenwoordig berge ook iets van die uitdagings van die lewe, die probleme wat opgelos moet word, die hekkies waaroor ons moet kom. Hierdie berge kan verskillende vorme aanneem soos die dood van ‘n geliefde, gesinsprobleme, finansiële probleme of die probleem met ‘n rebelse kind.

In Joh 6:33 stel Jesus dit duidelik dat ons dit nie maklik in die lewe sal hê nie (daar sal berge wees), maar Hy sê ook dat ons moet moed hou want Hy het die wêreld klaar oorwin. Die klem word hier op Hom geplaas. Dus kan ek slegs oor die berge kom deur in geloof aan Jesus vas te hou, want hy het dit reeds oorwin.

Tydens Jesus se bediening op aarde is daar baie voorbeelde waar geloof baie belangrik is vir die oplos van probleme. Gaan lees gerus die volgende gedeeltes aandagtig deur (Matt 8:8vv; 9:18vv; 14:22-32; 17:14-21)

Geloof is nie ‘n kragtoertjie nie. Geloof gaan nie oor hoeveel ek glo nie. Geloof gaan oor God. Die grootte van my geloof maak nie saak nie, al is dit so klein soos ‘n mosterdsaadjie; wat belangrik is, is hoe groot God is. Geloof gaan aan die einde van die dag oor wie God is en wat Hy doen en wat Sy karakter is. In Heb 12:1-3 skryf die skrywer baie duidelik dat Jesus die begin en die voleinder van ons geloof is. Hy en niemand anders, daarom moet jy Hom voor oë hou sodat jy nie geestelik moeg word en uitsak nie, sodat jy nie deur die berge in jou lewe verwoes word nie.

Gebed: Here dankie dat U die kern en die fokus van my geloof is. Amen


Eredienste

Sondag 30 Julie

  • 08:30 – Oggenddiens
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms

Divorce Care

Die volgende video gee meer besonderhede oor hierdie uitstekende kursus, kyk gerus!


Seniorbediening

Daar was ‘n paar verjaardae in Julie en van die seniorbediening het by hulle gaan inloer.

Ons oudste lidmaat Tannie Babs Vermeulen het op 24 Julie 95 geword. Annelie Verster het by haar besoek afgelê.

Links: Oom Piet Myburgh was op 19 Junie 83 jaar. Carien Craig het hom besoek. Middel: Tannie Charlotte Bührmann het op 17 Julie 85 geword. Ria Strydom het haar besoek. Regs: Tannie Huipie Lighthelm was op 22 Julie 86 jaar. Maritha Smith het haar besoek.


Junior Kinderbediening

Die Kleuter- en Kinderkerk skop Sondag weer af!

Gedurende hierdie termyn gaan ons op die belangrike saak van geloof fokus.

Welkom terug aan almal!


Gemeentekamp 8-10 September

Die kamp vind hierdie jaar weer by Mankele plaas. Die gemeentekamp is vir almal – oud en jonk. ‘n Geleentheid wat u beslis nie moet mis nie! As u belangstel kontak vir Belinda by 0836355480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za vir verdere inligting.

Die lidmate wat nie wil kamp nie maar in die huisies wil bly moet self met Mankele reël by 0788010453.

Kom kamp saam!

 


 

Groete & seënwense,

Jean & Louis

Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.