Hierdie week se boodskap

 

Teks: Joh. 8:1-11 en Matt. 18:23-35

Boodskap: 

Wanneer laas het jy nagedink oor die Suurstof wat jy inasem?

Enige iemand wat erg deur Covid geraak is, sal egter vir jou vertel dat jy opnuut suurstof waardeer wanneer jy deur Covid is. Dat jy dan opnuut besef hoe belangrik suurstof is en dat ons dit te maklik as vanselfsprekend aanvaar.

God se genade en liefde is baie soos suurstof.

Sonder suurstof is ons liggaam dood.

Sonder God se genade en liefde is ons geestelik dood.

God se genade maak dat ek geestelik kan lewe en dat daar vir my geestelik hoop is. God is genade. Net soos wat God liefde is. Dis deel van God se kern. Net soos wat die goue draad van God se liefde reg deur die Bybel loop, loop die goue draad van God se genade ook reg deur die Bybel.

God is die bron van oorvloedige, onbegrensde genade.

Ongelukkig, weens sonde, put ons nie genoeg uit God se bron van genade nie. Wanneer dit op die punt kom waar ons Genade aan ander moet gaan uitleef, skiet ons baie keer ver te kort.  Ons is baie dankbaar vir die genade wat God aan ons bewys, maar is traag om genade aan ander te bewys.Ons is na God se beeld geskape en God verwag van Sy kinders om al hoe meer Sy beeld uit te leef na buite. Dit beteken dat God se Genade ook duidelik in my lewe sigbaar moet wees.

Ons genadeloosheid word meestal veroorsaak deur die “eie ek.” Ons tree baie keer genadeloos op sodat die “eie” ek en sy behoeftes vervul kan word. Hoeveel keer is ons nie genadeloos teenoor mense en instansies nie, net omdat hulle nie aan my verwagtinge voldoen nie.  God is nie heeltemal in die middelpunt van jou lewe soos wat dit behoort te wees nie.

Kom ons kies opnuut vandag om met meer genade te leef. Mooi te dink hoe wil God hê moet ek optree alvorens ek iets sê, doen of op sosiale media plaas. Kom ons kies om elke dag te put uit God se bron van genade en intensioneel met meer genade te leef.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir al die genade wat ek van U af ontvang. Dankie dat U so baie vir my doen en gee sonder dat ek dit ooit sal kan verdien. Help my om hierdie jaar met meer genade teenoor ander te kan leef.

Vir volledige opname van die erediens, KLIK HIER 

 

Knie-aksie

Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, tans in die hospitaal is, die wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is. Bid ook asb vir lidmate wat tans Covid het en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.

Medelye

Medelye word betoon met Lizzy Van Staden en haar familie na die heengaan van haar dogter.

Medelye word ook betoon met Pieter Briel en sy familie na die heengaan van sy pa.

 

Program vir die week   

Jeug

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

    Vriendelike groete,
    Jean, Louis en Gerrit