Hierdie week se boodskap
Tema: Is jy toegewy of afgelei … in jou verhouding met Jesus?
Skriflesing: Lukas 10:38-42
Boodskap: Die Bybel praat van ‘n intieme en dinamiese verhouding met Jesus – Hy is immers ‘n persoon en nie ‘n teologiese konsep nie, Hy is nie iemand wat eendag lank gelede geleef het nie en nou ver weg is nie, Hy is persoon wat uit die dood uit opgewek is en lewe en naby ons is.
Die punt van die saak is, jy self bepaal watter soort verhouding jy met Jesus wil hê. Eers moet jy glo dat ‘n persoonlike intieme verhouding met Jesus moontlik is, voordat jy in so ‘n verhouding intree. ‘n Verhouding met Jesus is nie eensydig nie. Jesus maak dit duidelik wanneer Hy sê: “As iemand my lief het, sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê” (John. 14:23). Dink net daaraan, Jesus en die Vader wil na jou toe kom en hulle huis by jou vestig – is dit die soort verhouding wat jy met God het?
Hou verhouding word dieper soos wat jou liefde van Jesus toe neem, en jou liefde vir jou eie lewe afneem.
Was jy al ooit daar? Ja, ek glo jy was al daar en miskien is jy steeds daar. Daardie plek waar daar te veel is om te doen, en alles van dit is belangrik, en jy weet jy gaan dit nooit alles klaar kry nie. Dis senutergend, dis frustrerend en waansinnig – en tog sê Jesus: “Waarom is jy bekommerd oor al die dinge?” Daar is net een ding wat eintlik saak maak en dit is Ek. Jou verhouding met My, kom en sit hier by My voete vir wyle”.
Wat Martha se vrede versteur het, is al daardie baie dinge wat ons in die lug moet hou. Ons almal identifiseer goed met Martha – ons is lief vir God, ons glo in Jesus ons Verlosser, ons doen ons bes om om te sien na ons families en om getrou te wees aan die kerk… maar tog word ons aandag afgetrek deur so baie dinge, dat ons nie kan fokus op ons verhouding met God nie.
Hoekom? Wat is die rede? Wel vir Jesus is dit eenvoudig, soos Martha sit ons nie by sy voete nie. Om te groei in jou verhouding met Jesus is meer belangrik as enige ander kulturele verantwoordelikheid van gasvryheid. Indirek het Jesus vir Martha gesê, laat staan daardie skaapboud en kom sit hier by my voete.
In ‘n kultuur van besige skedules en die nimmereindigende jaag na produktiwiteit, is ons geneig om ons waarde te meet aan hoe besig ons, hoe baie ons bereik het of hoe goed het ons voldoen aan ander se verwagtinge.
Ons almal voel soos Martha ons het die beste intensies vir hoekom ons doen wat ons doen en ons laat toe dat dit ons in honderde rigtings intrek, waar ons bekommerd en gespanne en ons aandag afgelei word in die gejaagde lewe. En tog sê Jesus vir ons, maar kan ons ons lewe met ‘n uur verleng deur bekommerd te wees (Lukas 12:25).
Ons kan omsien na ons huis, maar nie ‘n tuiste bou nie. Ons kan saam met ons eggenoot leef, maar nie ‘n huwelik kultiveer nie. Ons kan betrokke wees by gemeentelike aktiwiteite, maar ons dien nie eintlik regtig die Here nie. Ons kan Christelike liedere sing maar nie eintlik die Here loof nie. Soos Martha moet ons leer om te leef in Jesus se teenwoordigheid (Immanuel – God met ons).
Soms sien mense Martha as die praktiese een en Maria as die geestelike een. In ons verhouding met God moet daar ‘n balans wees tussen ons diensbaarheid en aanbidding. ‘n Balans tussen doen en luister. ‘n Balans tussen my geloof wat aktief is in liefde en my geloof wat versterk word deur God te aanbid.
Maria se postuur verteenwoordig haar hart, nederig, leerbaar, sy is ‘n dissipel wat elke woord van Jesus indrink en sy kan nie genoeg daarvan kry nie.
Jesus sê die probleem is nie Martha in die kombuis nie, die probleem is Martha se hart in die kombuis. Haar gesindheid was soos melk wat suur geword het. In haar effort om die Here te bedien, het sy konneksie met die Here verloor. Sy het belas geword, opgewerk en afgelei oor ‘n klomp dinge. Soos sy vir die Here gewerk het, het haar werk meer belangriker geword as die Here Homself.
Om vir Jesus te werk of te dien, beteken niks as dit nie in liefde gedoen word nie.
Martha se afleiding en bekommernis los geen ruimte vir die mees belangrikste aspek van gasvryheid – volgehoue aandag aan jou gas. Daar is geen groter gasvryheid as om te luister na jou gas. Die een ding wat Martha nodig het om in Jesus se teenwoordigheid te tree, is om na Jesus te luister, om te hoor en te weet dat sy waarde as kind van God en nie oor wat sy doen of hoe goed sy dit doen nie.
Onthou die vyand, die vader van die leuen, draai jou nie weg soos wat jy die Here dien nie. Let op hy het nie vir Martha uit die kombuis gehaal nie – hy het haar net laat fokus op haarself en wat sy verdien. So ook doen hy met ons. Vir Jesus is die hart agter die diensbaarheid meer belangrik as die diens self. Daarom dien in liefde.
Jesus sê vir Martha, dat ‘n mikrogolf ete, sou ook goed genoeg gewees het. Maria fees op brood wat haar siel sal volmaak en wat nie van haar weg gevat kan word nie. Wat in die kombuis gekook word sal weg wees in minute, Martha, maar wat hier voorberei word sal aangaan tot in ewigheid.
Wat voed jou siel? Wat les jou dors? Maria het daardie beste deel gekies, ‘n lewende verhouding met Jesus. Dit is ‘n keuse wat jy moet maak om by Jesus se voete te sit en na Hom te luister. Dit gebeur nie outomaties nie en is nie ‘n kits oplossing nie. Dit is ook nie ‘n eenkeer keuse nie, jy moet die Here elke dag kies. Moet nie net tyd saam met God spandeer nie, belê ook jou tyd in God.
Jesus sê: “Kyk ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou en hy saam met My” (Op. 3:20). Jesus sê ‘as iemand’ my stem hoor, daardie iemand sluit jou in… miskien het jy lank terug ‘n Christen geword, maar jy het nie regtig ‘n intieme verhouding met die Here ervaar nie. Voel jy hoe Jesus vandag aan die deur van jou hart klop? Nooi Hom in, nie net as ‘n offer vir jou sondes nie, maar as ‘n goeie geliefde vriend, as Here wat regeer in jou lewe.
Gebed: Here, dankie dat ek kan weet U wil in ‘n verhouding met my staan elke dag. Help en lei my elke dag om die ‘beste deel’ te kies, om aan U voete te sit, na U te luister, sodat ek perspektief kan kry oor dit wat U van my vra om te groei in my verhouding met U. Mag U verheerlik word daardeur. Amen.
Klik hier om na die volledige boodskap te luister.
Knie-Aksie
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Ria Lourens
- Marie Pretorius
- Annatjie Minnaar
- Louise Combrink
- Ciska Le Roux
- Phyllis Meyer
Elize Steenkamp
Bid asb vir lidmate wat tans in die hospitaal is:-
- Deon ( familielid van Zelda en Vernon Paul )
Medelye
Meegevoel word betuig met Joyce Crous en kinders met die afsterwe van Bokkie.
Oopstel van kerkfasiliteite vir groepe
Die kerkraad het op die afgelope kerkraadsvergadering besluit om die kerkfasiliteite weer oop te stel vir Omgee- en Bybelstudiegroepe. Die groepe kan weer by die kerk bymekaar kom, onder hewig aan al die nodige regulasies. Alle groepe wat by die kerk wil bymekaar kom, moet dit eers met die Fasiliteitsbestuurder, Hugo, bespreek en bevestig.
Die Kerkraad is tans besig om al die verskillende opsies te ondersoek om te probeer om eredienste weer te hervat.