25 Oktober 2017


Boodskap vir die week

TEKSTE: Efesiërs 5:15-17; Jakobus 4:13-17; Prediker 3

TEMA: Rentmeesters van ons Tyd

Wanneer laas het jy mooi gaan dink oor hoe kosbaar Tyd is?  Tyd is een van die mees kosbaarste besittings wat ons het. Ja, nie eers al die geld in die Wêreld kan ‘n uur tyd by koop nie. Ons almal het net 24 uur of 1 446 minute of 86 400 sekondes ‘n dag. Wanneer ons vriende verloor, kan ons altyd weer nuwe vriende maak. Wanneer ons finansies min word, kan ons altyde meer genireer deur hard te werk.

Maar die tyd wat God aan elkeen van ons gee, is vas en blywend. Daar is niks wat ons kan doen om by hierdie tyd by te voeg of om die horlosie terug te draai nie. Wanneer tyd verby is, is dit verby. Maak nie saak hoe graag ons tyd wil terug draai om gedane sake ongedaan te maak nie. Maak nie saak hoe graag ons verkwiste tyd wil terug wen nie, ons kan nie. As die tyd verby is, is dit verby.

Daarom is dit belangrik dat ons mooi sal dink hoe ons hierdie kosbare lewens item spandeer. Hoeveel van ons tyd spandeer ons op goed wat ewigheidswaarde het en hoeveel van ons tyd gaan in aardse, tydelike goed?

Verhoudings is vir God baie belangrik. Dit is duidelik reg deur die hele Bybel. Jesus som die 10 gebooie op deur te sê dat die belangrikste is liefde vir God en liefde vir ons naaste. Dis mos verhoudingstaal wat Jesus hier praat. Daarom behoort ons baie tyd aan verhoudings te spandeer.

Ek dink daar is baie keer goed in ons lewe wat onnodig ons tyd roof en in beslag neem. Amper soos selfoon aplikasies (Apps) wat in die agtergrond aktief is en jou selfoon se data en battery krag opgebruik. Dalk moet ons elkeen weer mooi kyk wat hierdie goed is wat onbewustelik my tyd onnodig in beslag lê.

Daar is GEEN GROTER GESKENK AS TYD NIE!

“I value you enough to give you my most precious asset – my time”

Dit is juis wanneer ons sinvol tyd aan ons verhouding met God en ons medemens spandeer, wat ons sin in die lewe ontdek. God weet die beste, al verstaan ons nie altyd hoe Hy te werk gaan nie. Kom ons vra na Sy wil vir die manier waarop ons ons tyd spandeer. Kom ons plaas ‘n slag in gebed ons tydskedule in God se hande.

Kom ons vra Hom om ons te help om meer gebalanseerd te leef.

Gebed:  Hemelse Vader, dankie vir die kosbare geskenk van tyd wat U vir my elke dag gee.  Help my om nie hierdie geskenk te verkwis en te mors nie.  Leer my wat het in U oë ewigheidswaarde en help my om meer tyd aan hierdie dinge te spandeer.
Help my om gebalanseerd te leef. Amen

Kyk bietjie na die Tedx Youtube video van Rory Vaden, “How to multiple your time”, dalk help dit jou.

Eredienste

  • 08:30 – Oggenddiens: Tema: Rentmeesterskap van my mense-verhoudinge
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms

 

Projek 500 vir Seniors

Met projek 500 wil ons ten minste 500 geskenkpakkies insamel en aan senior mense in ons gemeenskap uitdeel. Ons kan nie met alles help nie maar ons wil met dié geskenkpakkie ʼn simbool van Jesus-liefde aan mense oordra. Daaraan het almal ʼn behoefte!

Jy kan letterlik enige iets in die pakkie sit. Wenke: Toiletware, lyfroom, handeroom, tandepasta (tandeborsel ook welkom), waslappie, koekies, sagte lekkertjies, ens.  (Verkieslik nie sjokolade, biltong & droëwors nie)

Bring die pakkies na die kerkkantoor/kerk voor of op Sondag 3 Desember

 

Fees-Vrydag: 3 November 2017

Die Mini Vleisfees- Maxi Kuierfees Fees-Vrydag op 3 November 2017 maak ons opgewonde. Ook hier stap die Here met ons op ’n nuwe geloofsreis en totaal nuwe inslag. Ons wil Hom allereers dank en loof vir dit wat Hy vir ons beplan. As jy enige plek wil help met die voorbereidings, kontak ons asb. – hierdie is ook ’n hart- en geloofsaak. Ons vertrou die Here om gewillige hande te stuur.

DIE MINI-VLEISFEES

Vleisverkope sal vanaf 17:00 begin. Skaap-, vark- en beesvleis asook hoender sal te koop wees teen gewaarborg die laagste pryse in die stad. Kom koop jou vleis vir die Desembervakansie. Beperkte voorraad – hierdie is ’n mini fees. Kom dus betyds om teleurstelling te voorkom. Kontak Jean Strydom (083 572 4886).

 

MAXI-KUIERFEES

Ons gaan lekker groot tente en springkastele opslaan, vure aansteek, tafels dek, speletjies uitpak, en koffiemasjiene aansit. Alles reg om heerlik te kuier.

SPITBRAAI @ R60

Die ete sluit die volgende in: ’n ruim porsie vleis, bykosse en poeding. Jy hoef geen eetgerei te bring nie – alles word voorsien. Kom sit net aan by een van ons keurig gedekte tafels en kuier saam met ons.

Kaartjies kan op een van drie wyses vooraf gekoop word.

  • Gebruik die Zapper-Toep op jou foon en skandeer die kode.
  • Betaal per EFT met verwysing “SPITBRAAI” – stuur bewys van betaling aan die kerkkantoor.
  • Koop kontant Sondae na die erediens of weeksoggende by die kerkkantoor.

Alle kaartjies moet met bewys van betaling by die kerkkantoor of Sondae na kerk afgehaal word. Sonder jou geldige kaartjie, kan ons nie jou ete bedien nie. Koop asb. jul kaartjies ASAP teen 2 November 2017 ter wille van ons getalle berekeninge.

JONK VAN GEES @ SUID

Vir die kinders en die kleiner eters sal daar “Boeredogs” @ R20 beskikbaar wees. Stokbroodbraai en speletjies vir alle ouderdomme. Kontak Louis Pienaar (082 878 1743) of Johan Koen (082 393 2944) vir meer besonderhede.

KOFFIE @ SUID

Soos altyd sal daar koffie, tee en iets koel beskikbaar wees met ’n ekstra soetdingetjie by.

Alles is gratis , maar donasies is welkom. Kontak Prins Ferreira (081 504 0653) as jy iets wil bydra of help.

TAFEL VAN OORVLOED

Die Tafel van Oorvloed is nuut en anders as wat ons dit nog ooit gedoen het. Ons wil die jaar niemand vra om enige iets te maak nie. Ons vra net dat elke gemeentelid kyk na sy oorvloed en besluit waarmee hy/sy iemand anders kan seën. Hierdie items word dan vooraf of op die oggend van 3 November na die kerk gebring. Geen pryse sal op enige item aangebring word nie. M.a.w. alles op hierdie tafel is eintlik gratis en kom uit die harte van ons gemeentelede. Daar sal slegs ’n houer vir VRYWILLIGE donasies wees. Ons gee uit ons oorvloed.

Items wat u kan oorweeg om te skenk:

  • Gebak soos koek, beskuit, terte, lekkergoed vir die kinders
  • Handwerk, houtwerk, kuns of geskenke of speelgoed
  • Goeie, bruikbare (!!!) witolifante
  • Mooi serpe of krale of dasse wat jy nie meer dra nie
  • Enige iets wat die Here op jou hart lê!

Kontak Fransien Taljaard 084 602 1338 vir meer inligting.

Geloofsoffer*

Waar staan ons nou?

Wonderlike nuus! Ons het ons doelwit oorskry met R200,000!  Ons staan dus nou op R610,000.

 

*Vriendelike versoek t.o.v. geloofsoffer:

Inbetalings t.o.v die geloofsoffer moet asseblief gespesifiseer word sodat dit korrek geallokeer kan word.

Geloofsoffers kan tot en met 31 Oktober inbetaal word.


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.