25 April 2018
Boodskap vir die week
TEKS: Johannes 6 + Efesiërs 2:8
Tema: Ek kan seker wees.
Daar is so baie onsekerhede in hierdie lewe. Baie goed wat ons dink sekerhede is, kan ons in ‘n oogwink verloor. Jou werk, jou geld, jou gesondheid, jou status. Dit kos net een iets om skeef te loop en dit waarop jy jou sekerheid gebou het, is weg. Hoeveel keer hoor mens nie verhale van mense wat alles verloor het nie. Mense wat dan in sak en as sit.
Maar dan hoor mens ook baie verhale van baie mense wat menslike gesproke alles verloor het en tog staande bly. Wat steeds hoop het. Die rede is omdat hulle in hulle lewe verstaan het dat daar net een sekerheid is wat niks of niemand van jou af kan wegneem nie. Nie eens die grootste natuurramp kan dit van jou kom wegruk nie.
Dit is die sekerheid wat te vind is in God se genade. Sekerheid wat te vind is daarin om in opregte geloof, God se genade jou eie te maak. Die rede waarom hierdie ‘n onwrikbare sekerheid is, is omdat dit buite onsself gesetel is. God bied Sy Genade, deur Jesus Christus, verniet vir ons aan. Dis nie opgrond van wie of wat ek is dat God dit doen nie, maar opgrond van wie Hy is, dan Hy dit doen.
Daar is niks wat ons kan doen om dit ooit te kan verdien nie. Maar daar is ook niks of niemand wat dit van my kan wegneem nie.
Omdat Jesus Christus se kruisdood vir my die weg gebaan het om God die Vader se kind te word. Maar dan moet ek bereid wees om volledig my lewe, deur geloof, aan God te gee. Werklik in ‘n verhouding met Hom te leef en na Sy wil vir my lewe te soek. Dis is nie iets wat ek net half kan doen nie. Jesus het nie net halfpad vir my aan die kruis gesterf nie. God maak my nie halfpad Sy kind nie.
Kom ons elkeen kies weer opnuut om volledig God se genade, deur geloof ons eie te maak. Kom ons kies om volledig ons vertroue in Hom te stel.
Gebed:
Hemelse Vader, dankie dat U U genade ook vir my aanbied. Dankie Jesus Christus dat U volledig vir my sondes betaal het aan die kruis end at ek nou volledig die Vader se kind mag wees. Help my om nou volkome my geloof in U te stel. Volkome op U te vertrou. Amen
Jeugbediening
.
Juventas
Baie mense het gevra wat is Juventas. By Juventas het ons in die Begin van die Jaar by die skepping begin en ons leer die storie van die Bybel. Die Bybel leer ons ook dat ons moet lewe volgens God se wil en daarom leer ons by Juventas hoe om te lewe. Die kinders geniet die speel, die sing en die boodskap. Alhoewel daar NIE hierdie week Juventas is nie op grond van die lang naweek, is daar weer volgende week. Al die laerskool kinders word uitgenooi na Juventas toe op Donderdae aande van 18:15 tot 20:00 om hulle Bybel beter te leer ken.
Invia
Tieners!!! Invia is vir julle!!! Invia beteken “op pad”. Al die tieners word uit genooi om saam met mekaar en saam met God hierdie reis aan te pak want op die einde van die dag is God saam met ons op pad. Hierdie kwartaal het ons afgeskop met #RE-IMAGINE.
So as jy uitgemis het omdat jy nie by #IMAGINE was nie, kan jy kom inhaal. Invia is op Woensdae aande 18:00 tot 19:30 by die Lapa. Sien julle daar.
Kinderkamp
Die kinders word uit genooi om saam te kom kamp! Wie hou nie van kamp nie??? Hierdie kamp gaan die kinders se lewens verander en ons is so opgewonde om so vroeg al in hulle lewens in te bou. Ouer, moenie laat jou kind hierdie kamp misloop nie. Die kamp vind plaas van 18 tot 20 Mei en kos R450. Vorms is by die kerk beskikbaar of kontak Johan (0823932944) vir meer inligting.
Aansoekvorms kan ook HIER afgelaai word!
Pinkster: Sop en Broodjies (13 – 17 Mei)
Dames dit is Pinkster en weer tyd vir lekker Sop en Broodjies na die aand pinksterdienste. Ek benodig 60 potte sop en 60 Brode vir die week. Ek vra groot asseblief jul hulp. Indien julle kan help kontak my asseblief en sê watter aand sal jul pas om te help met die kook van ‘n pot sop en die maak van broodjies.
Skakel vir Annetjie Maré by 082 589 9922 / 013 744 9436
Helpende hande
Jong, getroude man in sy middel twintigs is dringend opsoek na werk.
Hy het ervaring in boukonstruksie sowel as Teater portier in hospitale.
Hy beskik oor eie vervoer.
Kontak: Ds Louis Pienaar 082 878 1743
Groete & seënwense,
Jean, Louis en Johan
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.