24 Mei 2017
As Laevelders is ons werklik geseën met uitsonderlike herfsdae!
Ten suide van ons, met spesifieke verwysing na die Wes-Kaap word buitengewoon hoë temperature ervaar en is damvlakke kritiek laag. Ons wil tog vra dat jy voorbidding sal doen dat ons Vader milde reën sal voorsien waar dit so bitter droog is.
Ons boodskap van die week is ‘n verkorte weergawe van Ds Carel se afskeidspreek. Mag ook hierdie boodskap op vrugbare grond val!
Boodskap vir die week
Teks: Matt 13:1-23 Gelykenis van die saaier
Boodskap: Mens kan sê dat in die gelykenis van die saaier, daar vier kategorieë van oppervlaktes is: Dit wissel van hard en ondeurdringbaar tot sag en vrugbaar. Die gelykenis konfronteer ons ook om te besluit in watter kategorie jy val!
Die eerste een is saad wat op ‘n harde pad, ondeudringrbraar, val. Dit is die Woord van die Here wat na iemand kom, maar dit val op dowe ore!
Die tweede is saad wat op op ‘n klipbank val. Die grond is maar dun. Dit is bv iemand wat by ‘n jeugkamp beleef dat God met hom praat en vir die duur van die kamp, opgewonde is oor die Here en die Bybel se boodskap. Wanneer hy/sy Maandag terug by die skool is, is alles gou vergete en bly hy/sy by die ou lewenswyse.
By die derde kategorie, raak dinge gekompliseerd. Dit lyk of die grond van goeie gehalte is maar die onkruid raak net te veel. Ons sal vandag kon sê dat daar te veel “noise” is, dat daar te veel dinge is wat die fokus besoedel. Spesifiek word bekommernisse en die verleiding van rykdom, as twee groot faktore genoem!
Die laaste kategorie, is die goeie kategorie van goeie grond, daar is nie onkruid wat kos en water steel nie en die opbrengs is goed!
Die belangrike van dié gelykenis is dat ons, ons lewe sal skoon hou van alle geraas wat die boodskap van ons Hemelse Vader verdoof. Dat ons “nee” sal sê vir dinge/mense/aktiwiteite wat ‘n gevaar vir ons kan wees. Verder, nie net die skoonhou van ons lewe nie, maar dat ons ‘n vrugbare, produktiewe lewe sal hê – 100-voudig, 60-voudig of 30-voudig. Dit beteken dat ek en jy OOK saaier moet wees. Dit impliseer dat my en jou saad ook op die harde pad van iemand anders gaan val, of op ‘n klipbank, of ‘n bedding vol onkruid. Ons hoop en bid dat dit ook iewers by iemand in ‘n vrugbare hart te lande sal kom!
Ons is bevoorreg om te kan sien en te kan hoor, sê Jesus. Ja, ons het die Woord, die kruisboodskap van Jesus, die boodskap van sy leë graf en die Heilige Gees – Gees van die Waarheid.
Mag NG-Suid en elkeen van sy lidmate, ‘n vrugbare gemeente wees! Mag jy ook ‘n saaier in Nelspruit wees!
GEBED
Here Jesus, dankie dat U nie opgehou het om te saai in my lewe nie! Dankie dat ek kan glo! Ek wil ook vir U ‘n saaier wees! Amen
Gemeentebraai!
Sondag 28 Mei om 11:00 het ons ‘n kuier-geleentheid by die kerk.
Ons gaan lekker kuier om die braaivleisvure!
Bring jou stukkie vleis, eetgerei en drinkgoed en kom spog met jou nagereg. Ons verskaf die nodige vure, koffie en tee.
Kom kuier lekker saam!
Hemelvaartdiens
‘n Hemelvaartdiens word op Donderdag 25 Mei om 18:30 vanuit ons gemeente aangebied.
Junior Kinderbediening
Die Kinderbediening se tema eerskomende Sondag is : Ligdraers is gevul met die Heilige Gees. Daar sal Kleuterkerk en Kinderkerk wees Sondag. Indien daar enige persoon is om ons te kom help aanbied by die Kinderkerk, moet hulle asb. vir Fransien Taljaard (0846021338) kontak.
Die Moederskamer is beskikbaar vir gesinne met babas tot 18 maande en die Peuterkamer vir kleingoed tussen 18 maande en 3 jaar. Die Kleuterkerk is daar vir kleuters vanaf 3 jaar. Die Moederskamer is bo agter uit die boonste voorportaal en die Peuterkamer langs die konsistorie by die Jeugsentrum se ingang. Ouers kan die eredienste van hier saam met hul kinders volg en daar is genoeg om hul (die kleuters) mee besig te hou. Die Kleuterkerk word in die saal aangebied.
Vleisfees
Oor net meer as 3 maande hou ons Vleisfees. Ons het verlede jaar bewys dat NG Suid by enige mark kan kersvashou met die kreatiewe items wat ons uit eie geledere ontvang het. Die Vleisfees is ONS fees. Daar is nog genoeg tyd om ’n paar items te maak. Niemand hoef 100de items te maak as elke huis ’n projek of twee aanpak nie.
WAT HET ONS NODIG?
Bruikbare ou klere, skoen, kaste, hoede, handsakke en juwele met karakter. (Dink vintage) Ou hout fotorame, hout kassies, stoele, tafeltjies, kapstokke en kieries. Oud, maar mooi!
Tapyte, mooi ou koppies, pierings, teepotte, suikerpotjies, kersblakers en eetgerei wat jy geërf het maar niks mee doen nie. Ons sal die items ook kom afhaal indien vervoer ’n probleem is. Ons wil ’n regte antieke winkel gevoel skep waar almal kan kom rondkrap.
Kindertafel
- 250 ml margarien bakkies
- Kleurvolle lint
- Sakke gemengde lekkers (met papiertjies om)
- Kondensmelk spuite (klaar gemaak)
- Toffie appels
- Fudge
- Wegloopbondeltjies vir seuntjies en dogtertjies
- Hout en propgewere
- Tombola items
- Hout speelblokke
- Ketties
Geskenke, handwerk en tuindekor
Geskenke vir die huis, vir mans en dames – kom ons kry sommer al die kersinkopies afgehandel. Lekker sepe en badbederf. Enige handwerk – gehekel, gebrei, geverf. Mooi plante en tuindekor.
Wie om te kontak
Marzaan Styger 073 482 8750 en Thea Bam 083 404 9621
Kindertafel: Yvette Malan 082 783 0078
Hekel en Handwerk: Colette van Zyl 082 783 7051
Geskenke: Magdel Terblanche 082 337 9707
Tuin: Charlene Kruger 082 782 7398
Waar kry jy idees?
Ons het al verskeie “Basaar borde” op Pinterest bymekaar gesit oor die afgelope paar jaar. Gaan volg gerus en dra idees by. (Volg net die skakels).
https://za.pinterest.com/marzaanstyger/?eq=marza&etslf=35746
https://za.pinterest.com/ylm88/?eq=yvette&etslf=6209
https://za.pinterest.com/fransien/?eq=Fransien&etslf=6188
Wen hierdie pragtige kombers!
Hierdie pragtige kombers van 1,5m x 1,5m is deur Elna Williams gehekel vir die Vleisfees. Staan ‘n kans om dit te wen en koop ‘n kaartjie by die kerkkantoor teen R50 per inskrywing. Die trekking sal op 1 September gedoen word.
Mannekamp vir Swasi / Engelssprekende werknemers (of selfs kollega’s)
VG Kerk Alkmaar hou vanjaar vir die eerste keer ‘n mannekamp. In ons gesprekke tydens ander kampe het ons agtergekom met hoeveel hartseer selfs volwassenes rondloop omdat hulle pa’s nie hulle rol as man en vader in hulle gesin vervul het nie of bloot totaal afwesig was. Ander pa’s se teenwoordigheid is vernietigend eerder as opbouend of hulle het nie die vaardighede wat nodig is nie. Dit spoel dikwels ook oor na die volgende geslag. Daarom is dit geweldig belangrik om pa’s en jong mans selfs voor hulle pa’s word te help om met integriteit te leef en hulle kinders te bemagtig en hoop te gee.
Help asseblief om hierdie keer die manne by die kamp te kry. Dit is ‘n belegging in hulle en hulle gesinne se toekoms! Die kamp vind plaas van 23 tot 25 Junie 2017 by Ella Combrink. Dit kos R250 alles ingesluit. Inskrywingsvorms is by die kerkkantoor of ds. Koos Kriel by kooskriel40@gmail.com of 084 500 1082 of dit kan vanaf hierdie bladsy afgelaai word.
Klik hier om die aansoekvorm af te laai
Bid saam vir Moslems
Ds. Koos Kriel het ook die volgende versoek aan ons gemeente gerig. Hy skryf…
“Elke jaar tydens Ramadan bid Christene wêreldwyd vir die Moslems tydens hulle vastyd. Hierdie 30 dae gebedstyd is vanjaar van 27 Mei tot 25 Junie. Die Here doen wonders in antwoord op sy kinders se gebed. Daar is ‘n gebedsboekie met daaglikse sake vir voorbidding wat van by http://www.30daysprayer.com/booklets.php aangekoop kan word. Ek het egter met ‘n bietjie navorsing op die internet ‘n stukkie saamgestel vir ons gemeentes. Dit fokus veral op Suid-Afrika. Dalk kan jy iets daaruit gebruik.
Klik hier om die dokument af te laai
Hare sny…
‘n Jong tienerseun het pas sy bestuurslisensie deurgekom en vra sy pa of hulle nou kan praat oor ‘n kar. Sy pa sê hy sal ‘n ‘deal’ met hom aangaan:
“Stoot jou punte van ‘n C na ‘n B gemiddeld, lees jou Bybel ‘n bietjie en gaan vir ‘n haarsny. Dan kan ons praat oor ‘n kar.”
Na omtrent ses weke sê sy pa:”My seun, jy’t nou jou punte opgestoot en ek sien jy lees darem jou Bybel, maar ek’s teleurgesteld dat jy nog nie jou hare laat sny het nie.”
Die outjie sê: “Ek het daaroor gedink Pa, en ek het in my bestudering van die Bybel gelees dat Simson lang hare gehad het, Johannes die Doper, en Moses…en daar is sterk bewyse dat selfs Jesus lang hare gehad het.”
Sy pa sê toe:”Het jy ook agtergekom dat nie een van hulle karre gehad het nie?”
Groete & seënwense,
Jean & Louis
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.