24 Januarie 2018


Midweek boodskap

Teks: Johannes 3:22-35 (33)

Tema: Wat moet minder en wat moet meer word in 2018?

Het dit al ook met jou gebeur dat jy iewers by ‘n konferensie of dalk by die kerk, vir jou koffie wil maak en dan gooi jy per ongeluk water vanuit die verkeerde fles? Dan sit jy eweskielik met ‘n onsmaaklike mengel van koffie en tee wat gemeng is. Enige een wat dit al oorgekom het en dit probeer drink het, sal vir jou kan sê dat die twee nie saamgaan nie.

Nee, koffie en tee hoort nie saam in dieselfde beker nie.

Johannes die Doper kom vertel vir ons dat dieselfde ook van ons geestelike lewens waar is. Net soos koffie en tee nie in dieselfde beker of koppie hoort nie, so ook hoort die “Eie-ek” en die Christus se Gees nie in dieselfde persoon nie.

Johannes die Doper sê hier baie duidelik “Hy moet meer word en ek minder”. Die “Eie-ek” maak dat Christus nie volkome in my kan woon en werk nie. Ek moet meer en meer sterf aan die “Eie-ek” om Christus te laat meer word in my lewe.

Prakties beteken dit dat ek minder fokus op wat my behoeftes is, wat my voorkeure en afkeure is, waarvan ek hou. My fokus skuif en ek vra eerstens wat wil God hê. Hoe wil God hê moet ek leef? Hoe wil God hê moet ek optree in elke situasie?

Dit beteken ek dink voordat ek iets sê, doen of op enige sosiale media plaas, ek dink mooi of dit opbouend is soos wat God van my vra in Efesiërs 4:29b.

“praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom.”

Dit beteken dat ek erns sal maak met 1 Korintiërs 10:33

“Maak soos ek: ek probeer om almal in alles tegemoet te kom. Ek soek nie my eie belang nie maar dié van baie ander, sodat hulle gered kan word.”

Gebed:  Heilige Gees, help my om die “eie-ek” wat so gefokus is op my behoeftes en my voorkeure en afkeure, meer en meer sal kan aflê sodat Jesus Christus meer en duideliker in my lewe kan word. Amen

Week van gebed: 28-31 Januarie 2018

Hierdie jaar word die week van gebed waargeneem deur ds Arrie Preller van die NG Gemeente, Komatipoort.  Hy gaan fokus op die eerste gedeelte van die Ons Vader gebed.

Neem die vrymoedigheid om hierdie reeks by te woon wat hierdie Sondagoggend, 28 Januarie om 08:30 afskop.

 

Gebedswaak tydens die week van gebed

 

  • Die gebedswaak vind plaas vanaf 28 Januarie tot 2 Februarue, tydens ons week van gebed.
  • Kontak vir Minette Scheepers (082 550 4190) om deel van die gebedswaak te wees. Jy kan daagliks bid in uurlikse tydsgleuwe van 06:00 – 18:00.
  • Op die webblad is daar ‘n dokument wat presies verduidelik waarvoor ons elke dag bid.  Klik hier om meer hieroor te lees en klik hier indien jy die gebedsgids wil aflaai.

 

Ek is“-uitsprake van Jesus

 

Ons begin 4 Februarie met hierdie splinternuwe reeks!

Daar is boekies wat tydens hierdie reeks gebruik kan word by die kerkkantoor of Sondae by die kerk beskikbaar teen R10.

Indien jy jou huis beskikbaar wil stel as gashuis of wil inskakel by ‘n groep of ‘n groep wil begin, kontak dr. Jean Strydom by
083 572 4886 / jean@ngnelspruitsuid.co.za

 

Het jy al jou verbindingsvorm ingevul?

Wat is dit? Dis die vorm waar jy jouself verbind om iewers bertokke te wees in 2018. Ja, ons wil jou die geleentheid bied om jou gawes uit te leef. Die vorm is op die webblad beskikbaar. Klik hier om die vorm af te laai.  Vul dit in en bring dit Sondag saam of stuur dit na jean@ngnelspruitsuid.co.za

 

Vakature: Fasiliteite Bestuuder (Voltydse Pos)

Daar is tans ‘n vakature beskikbaar by ons gemeente vir ‘n Fasiliteite Bestuuder

Profiel van kandidaat:

  • Iemand wat beskik oor die nodige Bestuursvaardighede.
  • Ervaring in Onderhoudswerk is ‘n sterk aanbeveling.
  • Ervaring in Fasiliteite Bestuur sal ‘n aanbeveling wees.

Take

  • Behartig alle aspekte van die Instandhouding van die Kerkgeboue en terrein.
  • Verantwoordelikheid vir die Oop en toesluit van Kerkfasiliteite.
  • Hantering van die Verhuring van Kerkfasiliteite.
  • Voorbereiding van Kerkfasiliteite vir funksies.
  • Toesig en beheer oor die algemene werkers.

Indien jy belangstel om aansoek te doen, of van iemand weet mat dalk mag belangstel,  klik hier  vir meer besonderhede.

Verandering van sleutels en kodes by die kerk

Neem kennis dat die kerkfasiliteite se slotte verander gaan word ter wille van sekuriteit.  Indien jy die voorsitter van ‘n bediening is of die leier is van een van die kerklike aksies, en jy na-ure toegang tot die kerkfasiliteite moet hê, kan jy by die kerkkantoor aansoek doen vir sleutels en ‘n nuwe kode.

 

Terugvoer: Projek 500 (Geskenkpakkies aan minderbevoorregte seniors)

Dankie aan elkeen wat die projek ondersteun het en op die manier ‘n bejaarde persoon se lewe kleur gegee het.

Al die pakkies is voor Kersdag deur lede van die Seniorbediening uitgedeel aan verskeie bejaardes en by verskeie ouetehuis. Daar is tot sover as Waterval Boven se outehuis pakkies uitgedeel.

Ons hoop om hierdie jaar nog meer pakkies te kan gaan uitdeel.

 

Helpende hand…

Kinderkerk – Ons benodig jou hulp!

Ons benodig nog 2 persone wat sal kom help by die Graad 1 meisies. Daar is 4 groepe wat op ‘n rotasie- basis help om die kleingroepies (kategeseklassies) aan te bied. Dit beteken dat elke groep ongeveer 7 Sondae ‘n jaar moet aanbied. Kom gebruik hierdie geleentheid om ‘n instrument in God se hand te wees en self in die proses geestelik te groei. As jou kind in die kinderkerk is, is hierdie ‘n manier om jou Doopgelofte practise te laat grondvat.  Kontak asseblief virr Fransien Taljaardt  by 084 602 1338 indien jy kan help.

Rolstoel benodig

Daar is ‘n gemeentelid wat ‘n dringende behoefte het aan ‘n rolstoel. Kontak dr. Jean Strydom (083 572 4886) indien jy een het.

 

Verblyf benodig

‘n Enkellopende ouerige dame in die gemeente is dringend op soek na verblyf. Kontak asbasseblief dr. Jean Strydom by 083 572 4886 indien jy goedkoop verblyf beskikbaar het.

 

Groete & seënwense,

Jean & Louis


Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.