Hierdie week se boodskap
: Wat maak jy met God se Lig?
Teks: Filippense 2:5-18
Ek is seker ons elkeen ken die frustrasie van kragonderbrekings. Veral as die krag onverwags in die aand af gaan. Dan is dit eweskielik donker om ons en jy kan nie sien waar is wat nie. Jy val maklik oor goed of loop in goed vas want jy kan nie sien waar is die veilige pad. Jy voel ook gewoonlik dadelik onveilig.
Sodra iemand in die huis ‘n flits aansit of ‘n kers aansteek, maak dit ‘n verskil.
Jy kan sien waar is wat en jy voel minder onveilig. Jy kan weer rond beweeg sonder om oor goed te val of teen goed vas te loop.
Sonde het die wêreld ‘n donker, duister plek gemaak. Weens sonde het mense al meer seergekry en kon hulle nie sien waar die regte pad loop nie. Jesus Christus het weer lig na die wêreld toe gebring. Maar meer nog, Hy het nie net lig gebring nie, Hy is die Lig vir die wêreld.
Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy ons met ‘n paar opdragte gelos.
Toe Jesus opgevaar het hemel toe, het Hy ons met ‘n paar opdragte gelos.
Een van hierdie opdragte is dat ons Sy Lig verder moet versprei in hierdie wêreld.
In Filippense 2 het ons gelees dat ons “Ligdraers” moet wees.
Hierdie is nie ‘n opdrag aan net sekere gelowiges nie.
Nee, hierdie opdragte is aan elkeen van ons gerig.
‘n Ligdraer is nie iemand wat uit sy eie uit die lig laat skyn nie.
‘n Ligdraer dra God se Lig sodat ander die lig kan sien en sodat hulle lewens deur die lig verhelder kan word. Hierdie lig word in liefde uitgedra na ‘n gebroke en stukkende wêreld.
Mag elkeen van ons weer opnuut besef dat God ons roep om Sy ligdraers te wees wat in liefde Sy lig helder laat skyn.
Kyk gerus na die videoboodskap ten einde jou verder te help met die onderwerp:
https://www.youtube.com/watch?v=5vBl4FhrVdg
Gebed:
Here, maak my gewillig en bekwaam om U lig helder en in alle omstandighede te laat skyn. Gebrui
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat ongesteld is, herstel na operasies of tans in die hospitaal is:
Bid asb ook vir lidmate wat siek is.
Program vir die week
James en Belinda Potgieter (lidmate)
James en Belinda Potgieter is hierdie jaar 30 jaar gelukkig getroud. Hulle het in 2008 hierheen verhuis nadat James vanaf Johannesburg verplaas is. Hy is tans aan die stuur by Mpact Nelspruit wat ‘n vervaardiger is van verpakkingsmateriaal vir die landbousektor en sy is ‘n tuisteskepper.
Hulle het twee dogters, Bianké 24, wat in Johannesburg werksaam is, en Clarissa 21, wat ‘n student in Bloemfontein is. James het een suster en sy en haar gesin woon in Driepan. Belinda het ‘n suster wat tans in China skoolgee en ‘n broer wat met sy gesin in Potchefstroom woon. Daisy is die Potgieter-gesin se besige vyfjarige Africanis.
James en Belinda is baie aktief en hardloop gereeld wedlope asook die Laeveld se paaie plat. James het twee keer die Comrades aangedurf en het talle ultra-wedlope op sy kerfstok. Hulle is ywerige natuurliefhebbers en kamp gereeld in die Bosveld.
James en Belinda getuig: “In ons jare saam was daar allerlei uitdagings, maar ons voel ons beginsels en geloof in Christus het ons daardeur gedra en dra ons nog steeds.Ons groei in ons geestelike reis deur deel te wees van die weeklikse byeenkoms van ons omgeegroep. Ons is aktief by die kerk se gemeentebediening betrokke en voel dat die Here ‘n mens roep om te dien en nie bedien te word nie. Volgens Jakobus moet jou dade getuig van jou egtheid van geloof en juis in hierdie bediening wil ons ‘n kultuur van gasvryheid en koinonia skep.”
Mag elkeen God se Liefde elke dag ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit
Mag elkeen God se Liefde elke dag ervaar.
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit