Boodskap vir die week

 

Tema: God is Almagtig

Boodskap: Wanneer laas het jy by ‘n blom gaan stilstaan en daaraan geruik?. Wanneer laas het jy in die aand opgekyk na die sterrehemel en die glans daarvan aanskou? Wanneer laas het jy tyd gemaak om na iemand se getuienis te luister oor God se werking in hulle lewe? Wanneer laas het jy stil gesit en nagedink oor God se werking in jou eie lewe?

Dit gebeur so maklik dat jy vasgevang word in die warboel van jou eie lewe dat jy nie tyd het om by die dinge stil te staan nie. Dit is so maklik om God se werking in jou lewe te reduseer na onbenullig klein, bloot omdat jy te besig is. Die wêreld reduseer Hom na niks, die filosowe redeneer Hom weg en gewone mense leef Hom dood.

Reeds vroeg in die Bybel kom stel God homself bekend aan Abraham as God die Almagtige. Die belangrikste om raak te sien is dat Hy in Sy verbond wat Hy met Abraham sluit, bevestig dat Hy wat die Almagtige is, vir hom en sy nageslag en al die geslagte ‘n Almagtige God sal wees. Dit beteken dat God vandag nog Almagtig is. Dis baie interessant as jy die volgende paar verse gaan bestudeer om te sien dat die een generasie, die feit dat God Almagtig is, na die volgende generasie oordra. Gen 17:1-7; Gen 28:3; Gen 35:11; Gen 43:14; Gen 49:25.

Kyk gerus wat sê God vir Moses in sy moeilike omstandighede (Eks. 6:2). Vir jou en my vandag, weet dat God steeds Almagtig is. Deur Jesus het Hy dit bewys en deur die werking van die Heilige Gees.

Neem tyd en doen die Bybelstudie wat hierby aangeheg is ten einde jou geloof verder te versterk.

Gebed: Here, dankie dat U Almagtig is. Amen.

Om na ‘n klankbaan van die preek te luister, klik hier.

Bybelstudie

 Ons gee nou weekliks ‘n Bybelstudie uit wat aansluit by die preek ter versterking van die tema.

Klik hier om die Bybelstudie-dokument af te laai.

 

Jeug

Let daarop dat die afsluiting van Jeug en Kinderkerk op Sondag 27 Oktober sal plaasvind

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Verskeidenheidskonsert

Die musiekspan se konsert was ‘n reuse sukses. As jy nie Vrydagaand bygewoon het nie, het jy beslis uitgemis op ‘n verskeidenheid van goeie musiek en sang. Die kunstenaars het bestaan uit die musiekspan en hul gesinslede. Dankie aan alle deelnemers se harde werk en elkeen in die gehoor se ondersteuning

 

 

 

 

 Groete & seënwense,

 Jean, Louis & Gerrit