23 Mei 2018
Boodskap
TEKS: Romeine 8
TEMA: Die Heilige Gees lei ons om anders te leef
Ons huise is gewoonlik vir ons een van ons privaatste ruimtes. Ons doen baie moeite om ongewenste gaste uit te hou. Ons kies ook watter gaste in watter dele van ons huis toegelaat word. So byvoorbeeld is kenisse of meer amptelike besoeke beperk tot net die sitkamer. Vriende laat ons in meer van die vertrekke van ons huis toe. Beste vriende en familie in nog meer vertrekke en die huismense kan gewoonlik oral in die huis beweeg.
Ons kan aan ons lewens ook dink as ‘n huis. Elkeen van ons se lewens bestaan uit verskeie aspekte en verhoudings. Ons kan dit sien as die verskillende vertrekke van ons lewe. So is daar jou werk, jou sport, jou familie, jou vriende, jou liefdeslewe en jou eie persoonlike ruimte.
Die Heilige Gees wil graag toegang hê tot elkeen van hierdie vertrekke van ons lewenshuis.
Ons lees daarvan in 1 Korintiërs 3:16 + 6:19-20. Die fout wat baie mense maak is dat hulle God se Gees net in die lewenshuis se sitkamer toelaat. Baie keer besef ons nie eers dat daar aspekte van my lewe is wat ek nie die Heilige Gees ingenooi het nie.
Baie keer wil ons nie die Heilige Gees in die ander vertrekke in nooi nie want ons is skaam oor wat Hy daar gaan vind. Ongehoorde verhoudings of dalk ‘n gebrek aan waardes en norms. Om Gees vervuld te wees, beteken om die Heilige Gees toegang te gee tot elke hoekie en draaitjie van my lewenshuis en om Hom toe te laat om my te lei om oral te leef soos God van my vra.
Ons elkeen behoort dus gereeld introspeksie te hou of ons hele lewe nog onder God se Gees se beheer is. Ons moet gereeld opnuut die Heilige Gees vra om ons lewens te vul en beheer te neem van elke aspek, elke verhouding waarbinne ek leef.
Gebed: Hemelse Vader, dankie dat U vir ons die Heilige Gees gegee het om ons lewens te rig en te lei. Help my om my hele lewe onder beheer van U Gees te plaas. Heilige Gees kom vul my weer opnuut met U teenwoordigheid. Kom neem beheer van elke aspek, elke verhouding van my lewe. Amen
Sondag 27 Mei: Nagmaal, gemeente-ete en ons neem afskeid…
Eerskomende Sondag vier ons weer Nagmaal. Tydens hierdie erediens neem ons ook afskeid van Johan Koen, wat ‘n beroep na Hoopstad gemeente aanvaar het.
Ons wens om alles van die beste toe met sy bediening, mag die Here hom ryklik seën!
Laastens, Mosaiek Omgee Bediening bied hierdie jaar weer die Divorce-Care kursus aan. Indien jy deur ‘n egskeiding geraak is (of dalk weet van iemand wat daardeur is) is hierdie kursus ‘n moet!
Groete & seënwense,
Jean, Louis en Johan
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.