Hierdie week se boodskap

Tema: Vehouding met God  

Baie mense het ‘n goeie kennis van die Here, hulle kan selfs ‘n klompie verse kwoteer uit die Bybel. So was dit ook in Jesus se tyd met die Fariseërs, hulle was die geestelike polisie van die dag en het die geskrifte baie goed geken. Tog spreek Jesus Sy misnoeë keer op keer teenoor hulle uit en reken Hy dat hulle tot bekering moet kom. Dieselfde was die geval met Nikodemus, die groot kerkleier. Jesus reken dat hy ook weer tot bekering moet kom. Die vraag is wat wil Jesus vir ons sê? Vir Jesus gaan dit oor meer as kennis, dit gaan oor ‘n verhouding met Hom. In die Grieks vind ons die woordjie “Ginosko” wat hierdie probleem oorbrug. Dit word bloot verstaan met die woordjie ”ken”, maar dis veel meer as dit. Dit moet eerder verstaan word as kennis oor God wat geïntegreer word in ‘n ervaring en groei in ‘n verhouding met God. Jesus wil graag dat ons in ‘n “Ginosko” verhouding met Hom staan. Binne daardie verhouding met Hom is daar lewe. Hoe lyk jou verhouding met God? Gaan kyk gerus die videoboodskap om die volheid van hierdie begrip te verstaan en dit te integreer in jou lewe.

Gebed: Here dank dat U graag in ‘n verhouding met my wil staan. My gebed is dat my verhouding met U sal groei sodat U tot eer en heerlikheid sal strek. Amen

Vir volledige videoboodskap, klik hier

Knie-aksie

Bid asb vir die volgende lidmate:

Annelene (dogter van Jakes en Santjie Labuschagne)

Kobus Craig

Heleen Boshoff

Danie Du Plessis 

Jacolette Scholtz

Daar is steeds lidmate wat tuis herstel of wat tans Covid het. Bid ook asb vir hierdie lidmate en ook vir die wat familie het wat tans Covid het.

 

Medelye word betoon met:

Karen Coetzer na die heengaan van Johan Groenewald

 

Program vir die week

Bekendstelling van ds. Louis en Anél Pienaar en hul twee kinders

Ds. Louis Pienaar en sy gesin is byna 14 jaar Laevelders waarvan hy net so lank leraar in NG Nelspruit Suid is. Voor dit was hulle vyf jaar in Rayton, ‘n end buite Pretoria.

 Al is ds. Louis in Bethal en Anél in Vryheid gebore, het beide hoofsaaklik in Pretoria groot geword waar ds. Louis in HTS John Vorster en Anél in Hoërskool Staatspresident C.R. Swart matrikuleer het. Liané, hul dogter, is vanjaar in graad 10 en hul seun, JJ, in graad 8 in NHS.

Ds. Louis het eers ingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer, maar halfpad deur sy studies na teologie oorgeslaan nadat die Here dit duidelik gemaak het dat dit Sy plan vir sy lewe is. Anél het toerisme na skool studeer en sy is reeds 24 jaar in die bedryf werksaam. Sy hanteer tans ‘n gastehuis in Sabi Sand asook die eienaar se plase se besprekings en administrasie vanuit hulle Nelspruit-kantoor.

Die Pienaar-gesin is lief vir diere en hul kinders het al ‘n wye verskeidenheid troeteldiere gehad: honde, ‘n kat, slange, hase en voëls. Hulle is ook lief vir die buitelewe en kampeer graag. Hulle verwonder hul veral in die Krugerwildtuin aan God se Skepping: van diere tot voëls en selfs insekte. Liané het ‘n natuurlike aanvoeling om met klein kinders te werk. Sy is ‘n perdefluisteraar en is op haar gelukkigste op ‘n perd se rug. Sy stel ook in die rehabilitasie van wilde diere belang. JJ het ‘n voorliefde vir geskiedenis en die natuur en verdiep hom gereeld daarin. Hy is net soos ds. Louis lief daarvoor om verskillende voëlspesies te identifiseer.

Ds. Louis het ‘n passie om mense te help, daarom het hy homself na skool as noodhelper en later ook as instrukteur en paramedikus bekwaam. Terwyl hy teologie studeer het, het hy vir ‘n ekstra inkomste by ambulansdienste gewerk en kursusse soos om basiese ambulansstudente op te lei, aangebied. Anél lees graag en geniet dit baie om mense te help om ‘n toerprogram wat verblyf- en reisreëlings insluit, op te stel. Sy is dwarsdeur ds. Louis se bediening goud werd in haar hulp met kamp- en ander reëlings.

Beide ds. Louis en Anél se ouers is al oorlede wat ‘n bepaalde invloed op hul lewens uitgeoefen het. Die Here het veral ds. Louis se pa se afsterwe aan die einde van sy eerste universiteitsjaar gebruik om sy lewe in ‘n bepaalde rigting te stuur en vir hom meer duidelikheid te gee. Die geboorte van hul kinders het ‘n groot invloed uitgeoefen op die vorming van wie en wat hulle vandag is.

Beide het in Christelike huise groot geword en het van kleinsaf ‘n liefde vir God en vir die kerk ontwikkel. Die uitleef van hulle geloof is vir hulle baie belangrik. Dit is vir die Pienaar-gesin belangrik om die Here te dien en ‘n verskil in Sy Koninkryk te maak waar en hoe Hy hulle graag wil gebruik. Diensbaarheid is vir hulle belangrik aangesien Jesus Christus self die voorbeeld gestel het.

 

 

 

Beste wense vir die res van die week!

Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit