Hierdie week se boodskap
Tema: Op reis saam met God – Kruispaaie
Skriflesing uit Eksodus 3:1-20 en Matteus 7:13-14
Die lewe gaan oor keuses en die lewe gaan oor die vryheid om daardie keuses te maak. God is so lief vir ons dat Hy nie daardie gawe/vaardigheid van kies, van ons af weggeneem het nie. God stuur nie mense hel toe nie, ons kies om soontoe te gaan deur die manier hoe ons reageer op God se liefde, genade en verlossing deur Jesus Christus.
Van al die keuse wat ons moet maak is die belangrikste sekerlik die keuse vir Jesus en sy koninkryk. Dit is die uiteindelike keuse wat jou bestemming tot in die ewigheid gaan bepaal. Al die ander belangrike keuses in jou lewe gaan bepaal word deur hierdie een keuse wat jy moet maak.
Ons is almal op ‘n pad. Ons is gebore om op pad te wees. Dit is die pad van die lewe. Daar is baie stoppe op hierdie pad. Sommiges is goeies en ander is slegtes. En op verskillende plekke op die reis, kom ons almal by kruispaaie. Interseksies wat gemerk is deur die kruis van Jesus Christus . Plekke van ewigheid keuse. By die kruispad, deel die pad op – en ons het ‘n keuse om op die breë pad te bly wat lei na die ewige dood, of ons kan op die nou pad klim wat ons lei na die ewige lewe.
Die keuse wat ons maak by die kruispad, hou nie net gevolge in vir die res van die reis nie, maar meer belangrik, dit bepaal ook jou finale bestemming. Op watter pad is jy? Watter pad gaan jy kies? Is jy hier in 2020 op daardie nou pad wat lei tot die ewige lewe? Of het jy God se tekens, sy brandende braambosse langs jou lewenspad geïgnoreer? Lewe jy roekeloos met die lewe wat God vir jou gegee het? Is jy roekeloos met God se genade op jou lewenspad?
Jesus het ‘n tydelike padblokkade opgesit. Hy het ‘n brandende braambos vir jou aangesteek om jou aandag te kry – Hy beduie vir jou – die kruis wys vir jou die regte rigting, wat jy moet volg. Moet nie die oomblik misloop nie. Moet nie verby die kruis in die middel van die pad ry nie. God roep na jou. Jesus roep na jou “Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt. 11:28). Ek het gekom dat julle mag lewe hê… die alternatief is daar vir ons. Al wat jy hoef te doen is om dit te vat.
Weereens die keuse is joune om ‘n nuwe lewe te leef vry van sonde en dood of, jy kan ‘n Moses op jouself trek en allerhande verskonings maak – “Ek is te besig”, “Ek is nie goed genoeg nie”, “Ek het te veel sonde”. God se liefde is groter as jou sonde! Sy liefde vir jou is groter as jou verskonings, gaan vra maar vir Moses.
Die Here doen vir ons soveel meer as net om vir ons iets te wys, Hy gee vir ons Jesus die weg en die waarheid en die lewe, en om seker te maak ons verdwaal nie weer nie, gee God vir ons sy Gids, sy Voorspraak, sy Gees. God gee vir ons sy teenwoordigheid. God wil nie net vir jou leiding gee nie, Hy wil jou Gids wees.
Hy wil saam met jou die pad stap, Hy wil saam met jou wees op jou pad. Ons almal soek leiding, maar God gee vir ons die beste, Hy gee Homself vir ons. Dit kan net gebeur as jy by jou kruispad vir God kies en in ‘n verhouding met Hom staan. Die ding van ‘n kruispad is, jy kan dit nie keer nie. Jy kan nie om dit gaan nie. Jy kan dit ignoreer, maar eventueel sal jy dit in die gesig moet staar. En die keuse moet maak. Onthou daar is nie u-draai in die ewigheid nie. Jy is by ‘n kruispad in jou lewe, wat gaan jy doen? Wat is jou keuse?
Gebed: Dankie Here dat ons weet ons is nooit alleen op ons lewenspad nie, U is saam met ons op reis, U is teenwoordig by ons – U is Immanuel. Gee asb vir ons die nodige leiding om die regte keuse te maak, wanneer ons te staan kom by ‘n kruispad. Mag ons rus vind, soos ons stil word by U in 2020 en mag ons verkwik word met nuwe krag. Amen.
Klik hier om na ‘n klankbaan van die preek te luister.
Jeug
‘n Opwindende nuwe kursus begin 26 Januarie!
Gemeentebediening
Elke Sondag, behalwe in skoolvakansies, bedien die gemeentebediening lekker filterkoffie, kitskoffie, tee en sap by Koffie@Suid. Dit is ‘n lekker kuier geleentheid na die erediens.
Die Gemeentebediening benodig egter helpers om Sondae suksesvol te funksioneer. As jy voel jy wil betrokke raak, kontak gerus vir Belinda by 083 635 5480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za.
Jean, Louis en Gerrit