21 Junie 2017


Welkom my ons Midweek-nuusbriefie!  Ons vertrou dat dit met jou goed gaan.

Mag jy hierdie week geseën word met alles wat jy aanpak.


Boodskap vir die week

Tema: Hoor en Doen

Teks: Jak. 1:19-27

Boodskap: Binne die kommunikasieproses is luister natuurlik baie belangrik. In hierdie gedeelte lê Jakobus baie klem op die hoor, maar ook op doen. Volgens hom help dit niks dat jy die Evangelie hoor, maar niks daaraan doen nie. Dit moet vrug dra in jou lewe. Die Woord moet interaksie met jou hê.

In vers 21 sê hy dat dit essensieel is dat ons eers ontslae moet raak van alle sedelike vuilheid en ongeregtigheid in ons lewens. Hy wil hê dat ons ons lewens reinig voordat ons waarlik die vrug kan dra van die Woord wat ons hoor. Dit is ‘n doelbewuste skoonmaakproses wat in jou lewe moet plaasvind.

Hy gaan verder deur ook te sê op watter wyse ons die Woord moet ontvang. Dit moet met ‘n gesindheid van ootmoed wees. In vers 25 sê hy dat ons onsself moet verdiep in die Woord. Dis belangrik dat jy vir die Heilige Gees sal vra om die Woord vir jou verstaanbaar te maak. Dit is deels hoekom Hy na hierdie wêreld toe gestuur is, om jou te rig en te lei in die waarheid. Verdiep beteken dat ek doelbewus sal tyd maak om tyd saam met God te spandeer.

Jakobus wil sy lesers dus aanmoedig om moeite te doen om na die Woord te luister sodat dit kan vrug dra in hulle lewens. Begin sommer vandag om al die onreinheid uit jou lewe weg te sny sodat jy die Woord met ootmoed, soos ‘n spons kan opneem en werklik ‘n ligdraer kan wees.

Gebed: Dankie Here dat U deur die Woord praat. Help my vandag om te hoor en te doen. Amen


Eredienste

Sondag 25 Junie

  • 08:30 – Oggenddiens
  • 18:00 – Koinonia byeenkoms

Het jy al ingeskryf?

Net weer ‘n herinnering: hierdie pragtige kombers van 1,5m x 1,5m is deur Elna Williams gehekel vir die Vleisfees. Staan ‘n kans om dit te wen en koop ‘n kaartjie by die kerkkantoor teen R50 per inskrywing. Die trekking sal op 1 September gedoen word.


Gemeentekamp!

Die kamp vind hierdie jaar weer by Mankele plaas. Die gemeentekamp is vir almal – oud en jonk. ‘n Geleentheid wat u beslis nie moet mis nie! As u belangstel kontak vir Belinda by 0836355480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za.  Die lidmate wat nie wil kamp nie maar in die huisies wil bly moet self met Mankele reël by 0788010453.

Kom kamp saam!


“Laaik” jy ons?

Het jy al die “Like” knoppie op ons Facebook blad gedruk?  Indien nie, is dit ‘n oulike idee om dit sommer nou te doen.

Ons plaas gereeld kort nuusbrokkies op hierdie blad.  Deur die “Like” knoppie te klik, sal jy kennis ontvang sodra ons nuwe inligting plaas – en so dus op hoogte bly van gebeure.

So, indien jy dit nog nie gedoen het nie, klik op die volgende skakel en klik dan op “Like”

https://www.facebook.com/ngnelspruitsuid/


Op ligter noot

Eendag merk die dominee ‘ n klein seuntjie in die voorportaal van die kerk op wat aandagtig na ‘ n groot gedenkplaat teen die muur staan en kyk.

Dit was oortrek met name en daar was klein landsvlaggies weerskante.

Toe loop die dominee nader, kom staan langs die seuntjie, en sê saggies: “Goeiemore my seun.”

“Môre, Dominee,” sê hy, met sy oë nog vasgenael op die plaat. “Dominee, wat is dit hierdie?” vra hy.

Die dominee antwoord: “Wel, my seun, dit is ‘n gedenkplaat vir al die jongmanne wat in die diens gesterf het.”

In doodse stilte en met groot eerbied staan die twee voor die plaat en staar na die name.

Uiteindelik, in ‘n skaars hoorbare stemmetjie en bewend van vrees vra die seuntjie: “Watter diens, Dominee? Die oggend- of die aanddiens?”

 


Groete & seënwense,

Jean & Louis

 

Skielik iets onthou om te vra, te reël?

Kontak ons per epos:

Kerkkantoor, Jean, Louis.