21 Februarie 2018
Midweek Boodskap
Tema: Ek is die Lig van die Wêreld
Teks: Johannes 1:1-13 + 8:12; Matteus 5:14-16
Almal van ons sal waarskynlik ‘n storie of twee kan vertel van ‘n keer wat ons onverwags deur die donker oorval is. Dit kan wees omdat ons onvoorbereid was of dalk omdat daar ‘n onverwagse kragonderbreking was. Gewoonlik moet mens dan baie versigtig beweeg tot waar daar ‘n flits of kers is. Kans is groot dat jy jouself kan beseer of iets kan afstamp en breek. Wanneer dit die donkerste om ons is, kan die kleinste flitslig of kersie tot ons redding kom en genoeg lig gee vir ons.
Ja, die donker kan ons maklik ongemaklik laat voel. Maar daar is iets gevaarlikers as fisiese donker. Geestelike donkerte hou groter gevaar vir ons in. Daar kan verskeie redes wees waarom ons onsself in ‘n geestelike donkerte bevind. Dalk het ons van God, die een wat Lig gee, weggedryf. Dalk is dit weens sonde in ons lewe of dalk het ons toegelaat dat die sorge van hierdie lewe ons oorval.
Maar Johannes bring vir ons die goeie nuus! Jesus gee Lig in die donkerste omstandighede. Jesus se Lig kan nie uitgedoof word nie. Nie eers die doderyk kon Sy Lig uitdoof nie. Ja, maak nie saak hoe donker dit vir jou lyk in jou lewe nie. As jy God vertrou en naby Hom leef, sal Hy vir jou Lig bring tot in jou donkerste situasie.
God wil ook graag elkeen van ons gebruik om Sy Ligdraers te wees. Dit lees ons in Matteus. God gebruik ons as instrumente om Sy lig te wees. God roep ons juis om baiekeer Sy Lig te bring in donker situasies en tye.
Gebed:
Dankie Jesus Christus dat U die Lig is wat deur niks of niemand uitgedoof kan word nie. Dankie dat U ook in my lewe die Lig vir my wil bring. Help my om ook so te leef dat ek U Lig aan ander sal bring.
Koffie@Suid
Jy en jou gesin word elke Sondag na die erediens genooi onder die afdakke by Koffie@Suid vir:
- heerlike saamkuier
- filterkoffie
- kitskoffie
- gewone tee
- rooibostee
- sap
- water
Aan die einde van elke maand is daar ‘n ietsie saam met jou drinkgoed.
Kom kuier saam of drink iets terwyl jy wag vir die jeug, kleuter-en kinderkerk om uit te kom. Kom ontmoet nuwe mense!
Indien jy wil betrokke wees by die voorbereiding of skink van koffie/tee kontak vir Belinda by 0836355480.
Gemeente-ete op Sondag 25 Februarie
Daar is plek vir 150 mense om heerlik saam te eet en te kuier. Koste is R50pp. (Heerlike Bobotie en geelrys, soetpampoen en boontjies asook roomys). Bring jou eie eetgerei en drinkgoed. Ons kuier lekker in die saal. Koop vroegtydig jou kaartjie om teleurstelling te voorkom. Kaartjies is Sondae beskikbaar by die kerk en weeksdae by die kerkkantoor (07:30-12:30).
Hamburger drive-thru
Ons almal weet hoe moeg ‘n mens kan wees op ‘n Vrydag! Al wat jy wil doen is, skoene uit skop, die gesin in die oë kyk en rustig raak. Natuurlik is almal in die gesin honger en dan moet daar eers kos gemaak word.
Vir Vrydag 2 Maart het ons vir jou en jou gesin ‘n oplossing. Daar sal Vrydag, 2 Maart, ‘n Hamburger drive-thru by die kerk wees. Dit is ‘n Lekker hamburger en ‘n koeldrank vir net R50.
Jy kan kaartjies met kontant kom koop by die kerkkantoor vir die geleentheid. Die ander opsie is om Sondag na kerk kaartjies te koop by die jeug afgevaardigde. Ondersteun ons jeug en kom geniet jou Vrydag sonder die stress van kos maak.
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Johan
Skielik iets onthou om te vra, te reël?
Kontak ons per epos:
Kerkkantoor, Jean, Louis.