Boodskap vir die week
Teks: Habakuk 3:17-1Johannes 20:19-31
Tema: Sal jy glo?
Tomas het ‘n geweldige groot impak op Indië gemaak en het steeds tot vandag toe nog ‘n groot impak op dele van Indië. Dit blyk redelik duidelik vanuit historiese bewyse dat Tomas in Indië was van 58 n.C. tot en met sy marteldood in 72 n.C. Die kerk in suid Indië wil dit voorkom is begin deur “twyfelende Tomas”. En hy is blykbaar begrawe in Madras by die Kerk van St. Thomas.
Moet nie ‘n fout maak nie, hierdie verhaal van Tomas gaan oor twyfel, maar dit is ook ‘n verhaal van God se krag wat twyfel kan verander in geloof. Tomas was ‘n toegewyde volgeling van Jesus. Hy wass lief vir Jesus. Hy loop die pad saam met Jesus en hy was selfs gewillig om te ly en te sterf vir Jesus. Maar Tomas het ‘n paar vrae. Hy twyfel so bietjie.
Hoe jonger ons in ons geloof is, hoe meer word ons geloof gebaseer op die geloof van ander. Maar as ons nie groei in ‘n persoonlike geloof, ‘n geloof wat MYNE is nie, dan kan ons geloof maklik onbetroubaar word.
Almal van ons moet by ‘n punt kom in ons geloof, wanneer dit ONS geloof is. Almal van ons moet by ‘n punt kom waar ons geloof nie gebaseer is op iemand se geloof nie, maar op dit wat EK ongetwyfeld glo. Ons moet by ‘n punt kom waar ons opgewonde is oor wat ons glo.
Tomas is nie veglustig teenoor God nie en hy probeer nie onredelik wees nie. Hy is net te verward en moedeloos, dat hy nie bereid is om enige iets minder te aanvaar nie. En so wys Jesus vir hom genade. Hy gee vir Tomas wat hy nodig het. Jesus help Tomas om verby die intellektuele geloof te beweeg, na ‘n persoonlike geloof. En dit is so ‘n oorweldigende ervaring vir Tomas, dat hy op sy knieë neerval en uitroep: “My Here en my God”.
Jesus raas nie met Tomas nie, Hy vermaan hom nie, inteendeel Hy gee vir hom vrede, genade en vergifnis. Soos met Tomas gaan daar tye kom, waar ons geloof uitgedaag word, daar gaan tye van twyfel wees. Die goeie nuus is, dat God ontmoet ons waar ons is en Hy gee vir ons sy vrede.
Hy laat ons nie altyd daar in twyfeling sit op moed-verloor se vlaktes nie. In ons tyd van twyfel, sal ons soek, ondersoek en bevraagteken. En wanneer ons doen, sal ons ‘n beter en dieper verstaan van God en ons verhouding met Hom ontvang. Jesus nooi ons uit om Hom te ondersoek, om Hom te leer ken.
Jesus is opsoek na mense wat nie maar net sal glo as hulle wonders sien gebeur nie. Hy is op soek na mense wat sy vredesaanbod sal aanvaar en toe oë in Hom sal bly glo. Jesus kom vandag na jou toe met ‘n vredesgroet. Maar Hy vra ook van jou geloof. Hoe gaan jy reageer? Sal jy glo? Ander sal tot geloof kom, nie deur wat ons sê nie, maar deur die manier hoe ons God se liefde leef. Wees ‘n toonbeeld van Jesus Christus vir iemand elke dag.
Gebed: Here, deurgrond my, ondersoek my hart, en daar waar ek nog glinsteringe van twyfel het, kom verander dit in onwankelbare geloof in U. Mag ek elke dag leef vanuit die geloof en vrede wat U Gees, vir my gee. Amen.
Om na ‘n klankbaan van die preek te luister, klik hier.
Koffie@Suid
Elke Sondag, behalwe in skoolvakansies, bedien die gemeentebediening lekker filterkoffie, kitskoffie, tee en sap by Koffie@Suid. Dit is ‘n lekker kuier geleentheid na die erediens.
Die Gemeentebediening benodig egter helpers om Sondae suksesvol te funksioneer. As jy voel jy wil betrokke raak, kontak gerus vir Belinda by
083 635 5480 of stuur ‘n e-pos na bpotgieter@mweb.co.za.
Geloofsoffer
Koinoniasentrum
Baie dankie aan al die donateurs, die Koinoniasentrum se kombuis is nou ten volle toegerus
Groete & seënwense,
Jean, Louis & Gerrit