Hierdie week se boodskap
Tema: Die Heilige Gees verhinder ons soms
(Boodskap van Sondag 17 Mei 2020)
Teks: Handelinge 16: 6-7
Wanneer kinders klein is en begin om te leer kruip en dan later loop en hardloop, moet hulle ouers kort kort hulle keer om nie in gevaar te beland nie. Kinders word in baie opsigte vreesloos gebore en weet nie wat kan hulle seermaak en wat nie. So een van die take van ‘n ouer, en baie keer oupa en ouma ook, is om kinders te verhinder om goed te doen, of na plekke te gaan wat vir hulle gevaarlik is.
Kinders wat klein is, doen dit nie noodwendig omdat hulle moedswillig is nie, hulle verstaan net nog nie mooi nie. As ouers beskik ons oor kennis wat ons kinders nog nie het nie. Ons verstaan baie beter wat gevare inhou terwyl hulle dit nie verstaan of begryp nie. Baie keer is die kinders dan ook baie ongelukkig as pa of ma hulle keer om iets te doen, omrede hulle nog nie verstaan dat dit gevaarlik is vir hulle nie.
Hoe ouer en meer selfstandig ons kinders raak, hoe moeiliker raak dit soms om hulle van gevare te beskerm en hulle van die verkeerde paaie weg te hou.
In Handelinge 16:6-7 lees ons dat dit juis ook een van die goed is wat die Heilige Gees in ons lewens doen. Die Heilige Gees lei ons nie net op die regte pad nie, maar die Heilige Gees probeer ook om ons te verhinder om nie in rigtings in te gaan wat nie inpas by wat God graag vir ons wil hê nie.
En hier moet ons mooi verstaan waaroor dit gaan in die gedeelte. Paulus en Silas was nie hier op pad om op ‘n dwaalweg te beland of met verkeerde goed besig nie. Nee, hulle was besig om die goeie nuus, die evangelie van Jesus Christus te verkondig. Tog lees ons in hierdie gedeelte dat die Heilige Gees hulle 2 keer verhinder het om na spesifieke areas te gaan. Dit klink vir ons vreemd. Hulle is dan juis besig met God se werk.
Tog verhinder die Heilige Gees hulle aangesien God ‘n ander plan met hulle gehad het. God het ‘n ander plek in gedagte gehad waar Hy wou hê Paulus en Silas moet uitkom.
Baie van ons beleef dat baie van ons planne tans deurmekaar gekrap is en dat ons toekoms ideale en drome aangepas en verander moet word. Ons gee maklik en vinnig dan die Duiwel die skuld wanneer ons eie planne nie realiseer nie. Ons dink dis hy wat verhinder dat ons kan doen dit wat, uit ons perspektief, net positief lyk. Maar dalk moet ons mooi dink alvorens ons sommer besluit dis die duiwel se skuld.
Dalk as jy mooi kyk en besin, ontdek jy dalk ook soos wat Paulus en Silas in Handelinge 16 ontdek het, dat dit soms die Heilige Gees is wat ons verhinder. Dat dit Hy is wat ons keer want ons is dalk in ‘n verkeerde rigting op pad, al lyk dit nie vir ons so nie. Al sien ons net die positiewe raak.
Die pad waarop die Heilige Gees ‘n mens stuur, is nie noodwendig die maklikste pad nie. Die pad waarop die Heilige Gees Paulus en Silas stuur, laat hulle in die tronk beland. Maar op hierdie pad waarop die Heilige Gees hulle stuur, kom Lidia deur hulle tot bekering en sy en haar gesin word gedoop.
Omdat Paulus en Silas positief en gefokus op God bly terwyl hulle in die tronk sit en nie toe laat dat die omstandighede hulle onder kry nie, nie vaskyk teen hulle omstandighede nie, kom die Tronkbewaarder tot bekering en hy en sy hele huis word gedoop.
Die Heilige Gees keer ons om nie rigtings in te slaan wat nie God se Koninkryk gaan dien nie.
“Ons weet dat God laat alles ten goede laat meewerk vir die wat Hom liefhet” – Romeine 8:28 Alles werk ten goede vir ons mee – nie noodwendig soos ons wil nie, maar soos wat God weet wat die beste is vir ons.
Die pad waarop die Heilige Gees ons lei is nie noodwendig die maklikste pad nie, maar dis die beste pad om op te wees.
GEBED: Dankie Vader dat U die Heilige Gees ook stuur om ons soms te keer. Dat Hy ons verhinder wanneer ons in rigtings wil gaan wat nie op daardie moment U Koninkryk dien nie. Dankie dat U op die ou end alles vir ons ten goede laat meewerk. Amen
Om na ‘n opname van hierdie boodskap (asook vorige boodskappe) te kyk, klik hier
Knie-aksie
Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.Bid asb vir lidmate wat tuis herstel na operasies, ook vir diegene wat steeds behandeling kry vir kanker en dan ook hulle wat tans ongesteld is.
- Hendri Gerber sterk tuis aan na ‘n neusoperasie.
- Jakkie van Heerden sterk tuis aan na ‘n hartomleiding.
- Ria Williams wat herstel na ‘n heupvervanging.
- Ria Lourens wat behandeling ontvang.
- Etta Bosman het geval en haar gesigsbene gekraak, sy het ook haar nek seergemaak na die val.
Bid asb vir lidmate wat tans in die hospitaal is:
- Fred Kinnear wat steeds in die hospitaal is na ‘n nekoperasie
Fanie Sholtz het ‘n leweroorplanting ondergaan.
Lulu Pelser is in die hospitaal met hartversaking.
Louise Combrink ondergaan Woensdag ‘n operasie om ‘n gewas in maag te verwyder.
Lidmate wat graag hul name in die Midweek genoem wil hê vir voorbidding, kan asb hul inligting deurgee per WhatsApp aan Henriëtte by 082 5729 499.
Beste wense vir die res van die week!
Vriendelike groete,
Jean, Louis en Gerrit