Boodskap vir die week

 

 

Teks: Markus 12:29-30: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.”

“The quality of your life is the quality of your relationships.” (Anthony Robbins)

Die mens is nie gemaak om alleen te wees nie, dit het God reeds van die begin af duidelik gemaak. Ons het mekaar nodig, of ons dit nou wil erken of nie. ʼn Gesonde stabiele verhouding, kan ʼn moeilike dag aansienlik makliker maak, maar ʼn ongesonde verhouding kan my ook beroof van die vreugde en geluk wat ek so nodig het. Elke mens vorm deel van ʼn groter netwerk. Ons is op een of ander manier aan mekaar verbind. Volgens Martin Buber, bestaan daar twee soorte verhoudings in die wêreld. My verhouding tot die dinge rondom my, dinge waarmee ek kan maak wat ek wil. Die “ek-dit” verhouding. En dan is daar ons verhoudings met die mense wat ek liefhet, die mense wat ek mee saamwerk, my medemens. Die “ek-jy” verhouding. Ons mag nooit die “ek-dit” verhouding, verwar met die “ek-jy” verhouding nie. ʼn Mens is nie ʼn objek wat jy mee kan maak wat jy wil nie, al is daar die gene wat anders glo. Hoe gebeur dit dan dat objekte belangriker word as mense? Hoe kan ek toelaat dat my werk, voorkeur bo my gesin kry? Hoe kan die sportkanaal op TV, my verhouding met my kinders versterk? Daar is natuurlik nog ʼn verhouding wat mense so maklik van vergeet, en dit is my verhouding met my Skepper. Die “ek-U” verhouding, en dit is juis hier waar die wanbalans ontstaan. As my verhouding met die Here nie prioriteit in my lewe is nie, gaan my verhouding met my medemens en met my omgewing ook nie vlot nie. Ons verhouding met God moet die belangrikste verhouding in ons lewens wees, en moet die basis vorm van ons verhoudings piramiede. Maak vandag seker dat jou verhouding met God, die fondasie vorm van die res van jou verhoudings. Word die persoon wat jou geliefdes ondersteun en daar is as hul jou nodig het, maar belangrikste word die geliefde kind van God. Die kind wat Hy so graag wil hê jy moet wees!

Gebed: Here, ek wil so graag dat my “verhoudingspiramiede” ook in die volgorde sal staan: “ek-U”, “ek-jy” en laaste “ek-dit”. Help my asseblief daarmee.In Jesus naam, Amen

Om na ‘n opname van die preek te luister, klik hier.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Groete & seënwense,

 

Jean, Louis & Gerrit